wintertroue
’n Wintertroue kan nogal ’n uitdaging wees om te reël – veral wanneer jy min tyd het. Maar dit kon nie in die pad staan van Ockert en Louise se mooiste dag nie.

wintertroue_1
Die blitsige beplanning van Ockert en Louise Nel se wintertroue kan inspirerend wees vir enige bruid met tydsberekening probleme. Louise deel hulle liefdesverhaal met ons:

HOE HET JULLE ONTMOET?
“Deur ʼn vriendin. Ek het aanvanklik nie gedink dat ons meer as vriende sou wees nie, maar toe het ons op ʼn date gegaan. Na ʼn rampspoedige soen was ons vir ʼn ruk lank uitmekaar. ʼn Paar maande later het Ockert my hart gesmelt toe hy vir my ʼn mooi foto van wolke gestuur het. Ek is mal oor wolke en hy het gesê dat dit hom aan my laat dink het. Dit het hom onweerstaanbaar gemaak.”

HOE HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL IS?
“Ons liefde het met tyd versterk en ek het baie begin hou van sy teenwoordigheid in my lewe. Ek was aangetrokke tot sy menswees en wou dit op ʼn permanente basis in my lewe hê.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Dit was ʼn verrassing. Ek het Ockert se 40ste verjaardagpartytjie beplan en al ons vriende en familie was teenwoordig. Nadat hy sy geskenk oopgemaak het, het hy gesê dat hy nie die enigste een was wat daai aand ʼn geskenk sou kry nie. Toe ek weer kyk was hy klaar op sy knieg met die mooiste ring in sy hand. Ons was vir vyf weke verloof voordat ons wintertroue plaasgevind het.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE WINTERTROUE BEPLANNING?
“My suster en haar gesin het vir ses weke kom vakansie hou (hulle bly in Qatar) en ons verlowing het in hulle eerste vakansieweek plaasgevind. Ons het besluit om die troue in vyf weke te reël sodat hulle kon deel wees daarvan. Daar was nie tyd vir ginnegaap nie so ons het dadelik besluit wat ons wou hê en net daarby gebly.”

wintertroue_2

BESKRYF JULLE WINTERTROUE?
“Alles was perfek. Ek was so emosioneel dat ek ʼn paar dae na die troue nog trane-uitbarstings gehad het. Dit was ook ʼn besonderse voorreg dat my pa ons kon trou. Ockert se oë het vol trane geskiet toe hy my by die gangetjie aangestap gesien kom het en dit was die beste gevoel ooit.”

ONS HET GEHOU VAN:
Die gedenktafel. Daar was ʼn tafel met fotoʼs op van die paar se afgestorwe grootouers en Louise se ma, wat baie spesiaal was vir hulle.

Louise sê dat paartjies nie moet toelaat dat mode-giere hulle troukeuses bepaal nie. Hulle wintertroue was perfek omdat hulle eg gebly het aan hul eie voorkeure.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, koördinering, spyseniering, drankies, blomme en dekor: de Haven Oost
Skryfbehoeftes: The Sweetheart Box
Troukoek: The Fat Panda Couture Cakes
Fotograaf: Anri Prinsloo Photography
Musiek: Nvh DJ’s
Trourok: GF Bridal Couture
Hare: Profile Hair Studio
Grimering: Make-up by Nici B
Bruidegom se pak: Edgars
Ander: Mes Creations (ouers se balkies en hout hart vir foto tafel)

Artikel: Gina van Staden

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA