Welkomdrankies wat anders is as die gewone, is deesdae ’n groot tendens wanneer dit by troues kom. Minette Badenhorst deel oulike idees, wat meer kreatief is as die tradisionele glasie sjerrie.

Omdat welkomdrankies deel vorm van elke troue, het diensverskaffers begin om meer uit die boks te dink. Daarom is daar deesdae ’n magdom oulike opsies beskikbaar. Hier is ’n paar oulikes wat ons oog gevang het.

’N VONKELENDE FONTEIN VAN SJAMPANJE
Geen troue is volmaak sonder vonkelwyn nie. Fizzecco is gebaseer in Kaapstad, en bied iets nuuts vir jou troue se welkomdrankies. Bubbly on tap werk soos draught-bier en word uit ’n masjien geskink wat dit koel en vol borrels hou. Gaste kan so afkoel na die warm seremonie en hulle glasies meer as een keer laat volmaak. Die maatskappy het ook skemerkelkie-pakkette beskikbaar.

YSIGE LAFENIS OP ’N WARM SOMERSDAG
Trou julle in die somer? Dan is Frost Popsicles se yslollies die perfekte welkomdrankies vir jou gaste, terwyl hulle wag vir julle om klaar foto’s te neem. Die verpakking is prettig en 100% herwinbaar. Boonop smaak dit heerlik! PJ Pops (Pierre Jourdan Wine Popsicles) is luukse, verfrissende wynverversing vir jou gaste, terwyl die nuwe G&T-ysies gemaak is van jenewer. Laasgenoemde is beskikbaar in tradisionele Jenewer & Tonikum-geur (Gin & Tonic) en ’n heerlike soet bessie-opsie. Die yslollies bevat al die geure wat die gebottelde eweknieë so aanloklik maak en daarom is dit baie gewild. Besoek www.jmlconsulting.co.za of www.frostpopsicles.com vir meer inligting oor waar jy hierdie oulike produkte kan kry.

SELFDOEN WELKOMDRANKIES
Hier is oulike welkomdrankies wat jy self kan maak. Wees kreatief en gee dit ’n trouverwante naam, soos Die Blosende Bruid of Ietsie Blou.

Spookasem-vonkelwyn
Sit klein balletjies spookasem in jou vonkelwynglase en skink die glase vol wanneer jou gaste gereed is. Kersies in die bodem van jou glase, kan ook ’n heerlike alternatiewe smaak bied.

Klassieke Mojito (1 drankie)
Meng die sap van een lemmetjie met 8 pepermentblare en een teelepel strooisuiker. Gooi dit in die bodem van jou glas en gooi fyngemaakte ys bo-oor. Voeg 50ml witrum by en vul die glas met sodawater.

Maak seker dat gaste nog vir lank oor jou troue sal praat, deur oulike en unieke welkomdrankies deel te maak van jou dag.

Foto’s: InStyle, Fizzecco, Frost Popsicles en Pinterest

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA