Elke bruid wil ’n vel hê wat vlekkeloos vertoon op haar troudag. An-Sophie Lourens het vir Mars Make-Up raad gevra vir die selfdoenbruid.
As jy nie die bleeksiel bruid of die pimpel puisiegesig op jou troudag wil wees nie, hier is die geheim: Die fondasie vir ʼn sprankelende, beeldskone gelaat is ʼn vel wat vlekkeloos is en die regte onderlaag.
Mareli Jooste van Mars Make-Up gee vir ons wenke oor hoe om jou vel vlekkeloos en pragtig te kry vir jou groot dag. Sy gee ook wenke oor hoe om die regte onderlaag te kies, sodat jy nie in ʼn ander kleurskakering as normaalweg voor die kansel staan nie.
HIER IS HAAR WENKE
• Drink genoeg water- veral die week voor jou troue en op die dag self. Jou gesig moet gehidreer wees vir ʼn natuurlike glans en sodat dit vlekkeloos en nie grys vertoon nie.
• Indien jy vir ʼn gesigsbehandeling wil gaan voor die troue, maak seker dit is by ʼn plek wat jy al besoek het en dat dit produkte is wat al op jou vel gebruik is. Nuwe produkte kan negatief op jou vel reageer en dit in puisies laat uitslaan. Maak ook seker die tipe behandeling gaan jou toelaat om kort daarna grimering aan te wend.
• Jy of die grimeerkunstenaar moet seker wees dat die onderlaag wat op die dag gebruik word die hele dag op jou gesig sal bly en dat dit van goeie kwaliteit is, ander gaan jou gesig nie vlekkeloos vertoon nie.
INDIEN JY JOU EIE ONDERLAAG WIL GEBRUIK LET OP NA DIE VOLGENDE
• Maak seker jy het genoeg vogroom aan voor jy jou grimering aanwend. Laat genoeg tyd toe sodat die vogroom in jou vel intrek en sy werk kan doen.
• Kry ʼn primer wat jou poriëe vul en jou vel gelyk maak. Die primer maak dat jou onderlaag langer sal hou en vir jou die mat-afronding gee wat jy wil hê. Jy wil nie blink op al jou foto’s nie.
• Afhangende van hoe natuurlik jy jou grimering wil hê, kan jy soek vir ʼn medium- tot volle dekking-onderlaag om jou gesig vlekkeloos te maak vir die mooi oomblikke op jou dag.
• ʼn Vloeistofbasis onderlaag is lekker om die vel nogsteeds te bevogtig. Wenk: Indien jy ʼn olierige vel het, pasop vir hierdie tipe onderlaag wat kan maak dat jy meer gaan blink en wat nie so lank op jou vel gaan bly nie. Indien jy ʼn droë vel het, bly weg van ʼn poeierige/ kompakte onderlaag wat jou vel net nog droër gaan laat lyk.
• Die trane gaan rol. Maak seker jou onderlaag en al jou grimering is waterbestand.
• Wanneer jy die kleur van jou onderlaag kies, vra vir die konsultant by die grimeertoonbank om jou te help. Die kleur van jou onderlaag word getoets op jou gesig, gewoonlik by jou kakebeen en nie op jou arm nie. Die kleur van jou arm en gesig is nie dieselfde nie. Jy wil ook seker maak jou gesig en nek is dieselfde kleur en daarom moet die onderlaag van jou gesig tot in jou nek/ bors mooi gesmeer word om vlekkeloos te vertoon.
• Gebruik ʼn goeie deurskynende of nie-spesifieke kleur poeier om te keer dat jy nie blink op foto’s nie. Maak seker die poeier pas aan by die kleur van jou onderlaag en gaan dit nie beïnvloed of verander nie.
• Jy kan vir een van jou strooimeisies vra om die poeier byderhand te hou vir wanneer jy dalk ’n bietjie warm kry en begin blink. Pasop net om nie te veel poeier op te sit nie. Gebruik ʼn lekker groot kwas om dit aan te wend en vlekkeloos oor jou hele gesig te versprei.
• Na jy al jou grimering klaar opgesit het, gebruik ʼn fixing spray om seker te maak jou grimering hou die hele dag, dit sal ook vir jou ʼn natuurlik vars gelaat gee.
PRODUKTE WAT JY KAN GEBRUIK OM JOU VEL VLEKKELOOS TE LAAT VERTOON
Primer:
• M.A.C Prep + Prime Skin Base Visage
• Maybelline Baby Skin, Instant Pore Eraser
• Inglot Under Makeup Base
• Estée Lauder- The Mattifier
Onderlaag:
• M.A.C Pro Longwear Nourishing Waterproof Foundation
• Estée Lauder- Double Wear Stay-in-place Makeup
• Estée Lauder- Double Wear Maximum Cover
Poeier:
• M.A.C Prep + Prime Transparent Finishing Powder
• Estée Lauder- Perfecting Loose Powder
• Maybelline MasterFix Setting Powder Translucent
• Yardley Absolute Translucent Loose Powder
Mareli ken beslis haar storie en bruide kan gerus hierdie raad ter harte neem. Jou onderlaag op jou troudag kan jou gelaat en jou foto’s maak of breek. Maak seker jy doen dit reg en jou dag as beelskone, sprankelende bruid met ’n vel wat vlekkeloos vertoon is verseker!