Verlowingsfotosessies is deesdae die inding. Maar nie almal van hulle lyk ewe mooi nie. An-Sophie Lourens het gaan uitvind hoe jy joune ekstra-spesiaal kan maak.

Verlowingsfotosessies is ʼn moet volgens Michele van Michele Anne Photography. Maar waar kry ʼn mens daardie sprokiesverhaalfoto’s soos die verlowingsfoto’s in tydskrifte of die unieke agtergronde waarmee party mense op Facebook mee spog?

Michele vertel vir ons van een van haar ervarings met verlowingsfotosessies en gee aan toekomstige bruide of verloofde paartjies wenke en raad oor hoe om die perfekte verlowingsfoto’s te kry.

UIT HAAR ERVARING VAN VERLOWINGSFOTOSESSIES
“Jaco en Liana was seker twee van my lafste kliënte nog. Ons het eers gedink die weer gaan ons sessie belemmer, maar ons het besluit dis ʼn kans wat ons gaan vat. Hulle het elke nou en dan, so tussendeur die ernstiger foto’s spontaan sommer iets gedoen. Jaco sou haar optel en swaai of Liana het voorgestel dat hulle soos Charlie Chaplin spring. Ek het net foto’s geneem en daardie spontane uitbundige foto’s het baie mooi uitgekom. Hulle het my ʼn paar dinge geleer dié dag. Ons het ons sessie afgesluit met die sonsondergang by Fort Klapperkop en het die mooiste vistas geneem van Pretoria in die agtergrond. Vir hulle was dit presies wat hulle wou gehad het.”

Michele se raad aan paartjies wat verlowingsfotosessies wil doen:
• Doen iets wat eie is aan julle en waarvan julle sal hou. Dit maak julle al klaar meer op julle gemak en die foto’s gaan dit wys. As julle hou van die veld, gaan na een van die vele Natuurreservate in jou omgewing of as jy gelukkig genoeg is om ʼn kontak op ʼn plaas te hê, maak gebruik daarvan. Toe ek en my man verloof geraak het, het ons presies geweet waar ons, ons foto’s wou neem. In ʼn koffiewinkel en ons het baie oulike foto’s van ons fotograaf gekry.
• Trek iets aan waarin julle gemaklik is en bruidjie, sit tog lipstiffie aan, dit lyk soveel mooier op die foto’s. Julle kan gaan klere huur of lekker gemaklik aantrek. Julle kan soveel of so min moeite doen as wat julle wil, maar doen ten minste iets.
• Kies iets wat prakties is. Tensy jou fotograaf gekwalifiseerd is vir valskermspronge, moet liewer nie gaan valskermspring nie. ʼn Mens moet net rondom jou kyk, in jou buurt of jou stad om interessante plekkies te kry. As julle hou van sport of ysskaats, dan kan julle ʼn sport tema kies. Gholf, tennis, of selfs rolbal kan oulike verlowingsessies met temas wees.
• Vang die oomblik vas. Al is jy nie gemaklik voor die lens nie, vertrou jou fotograaf om daardie oomblikke vas te vang. Sien dit as ʼn oefenlopie vir julle troufoto’s, en dit wil jy nie verbrou nie.
• Geniet dit en fokus op mekaar, want dis mos waaroor dit gaan. Al speel die weer soms nie saam nie of dinge werk net nie uit die dag nie, geniet dit nogsteeds.
• Dit is goed om op die internet te gaan soek vir idees, byvoorbeeld Pinterest of Instagram en laat weet jou fotograaf van idees waarvan jy hou. Vertrou dat julle fotograaf julle perfekte oomblik gaan vasvang wat eie is aan julle, uniek en spesiaal vir julle. Julle persoonlikheid moet tog deurkom. Gesels vooraf met julle fotograaf en deel idees uit, maar dan los julle dit in die fotograaf se bekwame hande. Jou fotograaf wil net so graag vir julle die perfekte foto’s gee as wat julle wil hê.

Verlowingsfotosessies is ʼn baie goeie idee en hopelik het Michele jou van die saak oortuig. Wees kreatief, prakties en seker die belangrikste wees julleself. Dan sal julle foto’s met die gehalte van tydskrifte en Facebook se verlowingsfotosessies beslis ook teen julle mure kan ophang!

Vir meer inligting kontak Michele op 083 452 0361 of e-pos haar by framedbygrace5@gmail.com

Foto’s: Verskaf

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA