Christiaan Baartman se nuwe enkelsnit en musiekvideo gee die bruidegom se perspektief van die troudag. Minette Badenhorst deel meer hieroor in vandag se artikel.
Christiaan Baartman se splinternuwe enkelsnit, My Vrou, is onlangs aan radiostasies landswyd vrygestel en nou volg die hoendervleismooi musiekvideo van dié hartroerende liefdesliedjie wat ’n blik gee op die troudag vanuit die bruidegom se perspektief. Die lied en video is ’n verklaring van ’n man se liefde aan sy vrou en dat hy altyd daar sal wees. “It takes two to tango en met die lied hoop ek om die spesiale dag te help vorm in albei se oë”, sê Christiaan wat hierdiepragtige lied saam met Jattie de Beer geskryf het.
Hy vertel ons meer oor die inspirasie en motivering agter dié enkelsnit.
WAT WAS DIE INSPIRASIE / IDEE AGTER DIE LIEDJIE? “In die agtienjaar wat ek al in die bedryf is het ek honderde troues gedoen. Wat ek agtergekom het, is dat die bruidegom soms nie heeltemal deel vorm van die dag nie. Ons gee nie altyd om wat die verskil tussen pienk of salm is of watter kleur die rose moet wees nie, daarom gebeur dit dat die man so ’n bietjie onttrek van die dag.
So is ons ook nie gewoond om te sê hoe ons voel nie. Daar is laasjaar aangedui dat 50% van huwelike eindig in egskeidings. Die grootste oorsaak is ’n gebrek aan kommunikasie. Ek wou ʼn lied skryf wat vir mans ʼn spreekbuis gee. Iets wat die bruidegom vir sy bruid kan gee en sê: ‘My ding ek kan nie altyd vir jou sê hoe ek voel nie, maar hierdie lied sê alles wat ek wil sê.’ Dit was my inspirasie, om die bruidspaar te help met die dag se woorde.”
IS DAAR IEMAND SPESIAAL IN JOU LEWE WAT DIE LIEDJIE GEÏNSPIREER HET? “Die lied is geïnspireer deur mense. Ek is baie lief vir mense en dit maak my hartseer om mense in pyn te sien. My spesiale dame is nog daarbuite êrens.”
WAT WOU JY DEURGEE MET DIE MUSIEKVIDEO? WAT WAS DIE GEVOEL WAT JY MET DIT WOU SKEP? “Die emosie waardeur mense gaan op die troudag. Die video beeld die belangrikste oomblikke uit van die dag, en ek wou daardie emosie uitbeeld.”
WATTER EIENSKAPPE SOEK JY IN ʼn LEWENSMAAT? “Empatie en ʼn spanmaat. Dit is so belangrik om gehoor te word, en die grootste deel van ’n lewensmaat is om iemand te hê wat jou lewe deel. En iemand wat jou geluk en smart kan verstaan.”
WATTER RAAD HET JY VIR GETROUDE PAARTJIES OM DIE HUWELIK GESOND EN GELUKKIG TE HOU? “Ek was nog nooit getroud nie, maar daar is ’n fenominale boek wat ek vir julle kan voorstel – Hold Me Tight deur Sue Johnson. Die kwaliteit van verhoudings word gedefinieer deur belangrike emosionele oomblikke en om mekaar se oomblikke saam te ervaar.”
HOE SAL JY DIT BESKRYF WANNEER JY WEET JY HET JOU TROUVROU ONTMOET? “Liefde is ʼn werkwoord. Dit gaan nie net oor hoe jy voel nie, want gevoelens kom en gaan. Dit gaan oor wat jy weet. Ek weet die persoon is my lewensmaat.”
ENIGE ANDER RAAD VIR DIE MANNE OOR HOE OM HULLE TROUVROU TE BEÏNDRUK EN OM HAAR SPESIAAL TE LAAT VOEL? “Ek het net voor inperking by ’n troue gesing, waar amper alles gekanselleer is. Die bruidegom het ingespring en net dinge begin doen wat kortgekom het. Hy het tot die blomme rangskikkings gedoen met die hulp van ʼn paar vriende en blomme wat hy in die hande kon kry.
Die dag is dalk net ’n simboliese oomblik vir die res van julle lewe saam, maar wys vir haar jy kom na die tafel toe. In meer as net geld, don’t tell me, show me. Om jou liefde te wys beteken baie meer as om beloftes te maak.
En onthou, liefde wen. Hou net aan wat jy doen. Die sleg sal ook verby gaan. Hou moed en hou kop. Lewe is te kort vir nonsens.”
Luister My Vrou hier! Die liedjie is nou beskikbaar op alle digitale platforms.
Dit is die perfekte lied vir enige bruidegom wat sukkel om sy gevoelens vir sy trouvrou in woorde om te sit.
Foto: Pink Flower Productions