Trourokke is een van die gewildste items op elke bruid se inkopielysie. Hanrie Lues Bridal het ’n splinternuwe reeks en An-Sophie Lourens het meer hieroor gaan uitvind.
Hanrie Lues Bridal se nuwe reeks trourokke, Willow Moon, is spesiaal ontwerp vir ʼn moderne boheemse bruid wat opsoek is na ʼn gemaklike trourok wat haar lyf perfek sal pas. Hanrie weet net hoe om jou soos ʼn boheemse prinses te laat lyk en voel!
Die Willow Moon-reeks gee besondere aandag aan detail, saamgestel deur jare se ondervinding oor wat bruide na verlang in hulle droomrok. Hanrie Lues vertel ons meer oor die unieke trourokke.
WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE NUWE REEKS?
“Ek was baie geïnspireer deur moderne boheemse bruide wat op soek is na trourokke wat hoofsaaklik gemaklik is, maar nogsteeds op die voorpunt van trourokmodes is. Rokke wat nostalgiese aspekte het, maar tog baie moderne styllyne en organiese dekoratiewe aspekte het. Ek is altyd baie lief daarvoor om die natuur te gebruik as inspirasie, gekombineer met nostalgiese temas wat my altyd ʼn gevoel van heimweë gee wanneer ek daaraan dink.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE TROUROKKE IN JOU NUWE VERSAMELING?
“Ons styllyne is redelik simplisties gehou, omdat ek voel die lap wat ons gebruik spreek vanself boekdele. Ons het ʼn minimalistiese pad gevolg met die silhoeët-ontwerpe, omdat ons besef het na die vorige trouseisoene, dat hierdie style net eenvoudig die beste werk vir meeste liggaamstipes en smake. Ons speelse bruide gaan die gevoel van die tulle-rompe baie geniet, maar tog die sensuele illusie-bostuk waardeer. Die bustier korset-bostukstyl is perfek vir die bruid wat ʼn bietjie meer stewigheid of ondersteuning rondom die borsarea nodig het. Ons meermin-silhoeët is so gesny en ontwerp dat selfs die bruide wat nie noodwendig hemelbesems is nie, dit ook kan aantrek en dit sal nogsteeds vlyend wees”
WATTER TROUROKKE GAAN GEWILD WEES IN DIE VOLGENDE JAAR?
“Die volromp maak beslis ’n terugkeer, maar nie noodwending volle prinsesstyl nie. Wel ʼn bietjie meer dramaties. Die illusie-bostuk is hier om te bly, vir ten minste nog twee seisoene. Kant is baie meer organies van patroon en nie noodwendig meer so streng mensgemaakte patrone nie. Kleur speel ook ʼn groot rol, met binne lae in pienk, goud en vleeskleure wat baie gewild is. Kant sonder kralewerk is ook nou baie populêr en vandag se bruid is verseker meer boheemse prinses as Disney-prinses!”
HIER IS ʼN PAAR VAN DIE TROUROKKE IN HULLE VERSAMELING
WAT MAAK JULLE TROUROKKE UNIEK?
“Ons plaas baie groot klem op hoe die rok aan die bruid se lyf sit. Elke styl word noukeurig ontwikkel met patroonverstellings en voorbeelde vir elke nuwe silhoeët. Ons lapkeuses help ook baie om die bruid so gemaklik as moontlik te hou, terwyl geen kompromie gemaak word aan die styl of hoe dit aan haar lyf sit nie. Ons kies ons kant baie sorgvuldig, want ons maak seker dat ʼn baie hoë standard gehandhaaf word met die kwaliteit en ontwerp daarvan. Ons probeer gereeld nuwe tegnologie, style en vervaardigingsmetodes, om seker te maak ons bly op datum met wat die internasionale ontwerpers voortsit.”
HOEKOM MOET TOEKOMSTIGE BRUIDE DIE REEKS OORWEEG?
“Soos van tevore genoem, die reeks is besonders maklik om te dra. Elke rok is so gemaklik, met net die beste lapkeuses en perfekte pas van elke silhoeët. Die styllyne is modern en die kant wat gebruik word is wat huidiglik op die oorsese markte gesien word. Die bruid wat op een van ons rokke besluit, kan verseker wees dat sy koppe gaan laat draai, omdat daar eenvoudig niks soortgelyk huidiglik op die plaaslike mark is nie. Ons bruide gaan sensueel voel, modern lyk en gemaklik wees op hulle troudag in een van ons Willow Moon-rokke!”
So as jy opsoek is na ʼn trourok wat perfek aan jou lyf pas, gemaklik en modern lyk en jou laat voel soos ʼn boheemse prinses, gaan loer nou na die Willow Moon-reeks! Die reeks trourokke is beskikbaar regoor Suid-Afrika by uitgesoekte boetieks. Laat Willow Moon die Disney-prinses omtoor in ʼn boheemse prinses!