’n Trourok is heel moontlik nie iets wat jy weer sal kan aantrek nie, maar party bruide oorweeg dit tog om kasspasie te maak. Liza de Jager van Bella Vestito bespreek die voor- en nadele van hierdie besluit.

Wanneer jy trou is daar soveel besluite om te neem en een van die moeilikstes is seker of jy jou trourok moet koop of huur.

Elke meisie droom van kleins af van daardie pragtige wit trourok waarin sy soos ’n prinses gaan voel wanneer sy met haar droomprins trou… maar die vraag is, gaan jy daardie rok hou en elke jaar met julle huweliksherdenking bewonder (maar miskien nooit weer dra nie) of gaan jy dit huur en die volgende dag terug gee?

Daar is deesdae verskeie opsies beskikbaar wanneer jy jou droomrok moet kies:
– Jy kan jou trourok in ’n bruidswinkel koop of huur.
– Jy kan ’n rok uit ’n katalogus bestel, en dan koop of huur.
– ’n Trourok kan spesiaal vir jou ontwerp word, en dan gekoop of gehuur word.

KOOP OF HUUR IN BRUIDSWINKEL
Daar is nie regtig enige nadele aan hierdie opsie verbonde nie. Die enigste nadeel wat daar moontlik kan wees, is dat die meeste bruidswinkels ’n pas- en konsultasiefooi vra wat jou ’n paar rand uit die sak kan jaag. Veral as jy al by winkel nommer tien trek, en steeds nie jou droomrok gevind het nie. Daar is ook baie voordele wanneer jy hierdie roete gaan. Jy loop in, pas rokke aan, kry die een wat jou hart laat vinniger klop en jy weet vir ’n feit dat jy soos ’n prinses gaan lyk op jou groot dag. Geen senuwees wat knaag oor of jou trourok mooi gaan uitkom of jou gaan pas nie, want jy weet van dit van die begin af.

BESTEL UIT ’N KATALOGUS
Die voordeel hiervan is dat jy duisende rokke het om van te kies en keur. Daar is geen pasfooie nie, en jy hoef ook nie op en af te ry om ’n trourok te soek nie. Jy spaar dus baie tyd. Die nadeel is dat, indien jy van die verkeerde verskaffer gebruik maak, jou rok dalk van ’n swak gehalte kan wees of glad nie lyk soos op die prentjie nie. Nog ’n nadeel is dat jy nie die rok sal kan aanpas voordat jy dit bestel nie, en dus eers sal uitvind of dit vir jou werk of nie wanneer dit klaar te laat is.

ROK SPESIAAL ONTWERP VIR JOU
Hierdie opsie het dieselfde voor- en nadele as om ’n trourok uit ’n katalogus uit te bestel. Dan het dit natuurlik ook die voordeel dat jy elemente van twintig rokke, waarvan jy gehou het, in een rok kan verander. Ongelukkig kan daar ook ’n ander nadeel wees, en dit is dat jy een prentjie in jou kop sien en die ontwerper dalk ’n hele ander prentjie in sy/haar kop het. Partymaal kom jou rok uit soos jy gedroom het, en ander kere lyk dit nie nastenby soos jy jou voorgestel het nie.

Nadat jy op een van hierdie opsies besluit het, is jou volgende stap om te besluit of jy wil koop of huur. Kom ons kyk na elkeen van hierdie opsies.

KOOP
Die voordele:
– Die trourok is jou eiendom. Jy kan dus met ’n geruste hart trou, sonder om heelaand bekommerd te wees oor of iemand die rok gaan beskadig.
– As jy detail wil byvoeg op die rok, kan jy dit enige tyd doen.
– Geen ander bruid gaan in die rok trou en dit dalk beskadig voor jou troue nie.
– Party rokke, veral die soort wat uit los stukke bestaan, kan na die tyd weer gebruik word. Jy kan byvoorbeeld jou trourok se bo-stuk by ’n broek aantrek vir ’n elegante voorkoms wanneer jy ’n meer formele geleentheid bywoon.

Die nadele:
– Jy betaal duurder om die trourok te koop.
– Jy gaan heel moontlik nooit weer die rok dra nie en die gevolg is dat dit nou net onnodige kasspasie gaan opneem.
– Jou dogter gaan heel moontlik nie eendag in jou trourok wil trou nie, want teen daardie tyd is dit oudmodies en sy sidder om te dink haar ma het in so ’n rok getrou.
– Vriendinne en familielede mag dalk baie lasting begin raak en een na die ander vra of hulle jou rok kan leen om in te trou, en die resultaat is dalk dat jou rok nooit weer dieselfde sal wees nie.
– Jy moet die trourok op jou onkostes laat skoonmaak na die troue.
– Party mense dink dis fantasties om ’n rok te koop, want jy gaan hom weer verkoop en jou geld terugkry. Moenie hierdie fout maak nie. Jy gaan nie. Sodra jy in die rok getrou het, verkoop dit reeds teen die helfte van die prys wat jy betaal het. Dan het jy boonop ook nog nodig om ’n koper te vind, wat dieselfde grootte as jy is en dieselfde smaak het as jy. Dit kan ’n onbegonne taak raak. Op die ou einde word jy dalk genoodsaak om enige aanbod te aanvaar, sodat jy jou kasspasie kan terugkry, en daar sit jy met R1 000 vir jou R10 000 rok.

HUUR
Die voordele:
– Die trourok is goedkoper.
– Jy vat die rok na die troue terug na die bruidswinkel of ontwerper en hulle maak dit vir jou skoon.
– Jy sit net oor met jou mooie herinneringe en pragtige foto’s, maar geen rok wat jou kasspasie oorneem nie.
– As die ontwerper die trourok vir jou ontwerp het, is jy die eerste een wat dit aantrek en word dit steeds vir jou lyf ontwerp, maar jy hoef dit nie na die tyd te hou nie.

Die nadele:
– Iemand anders het al, of sal weer, in die rok trou. So dit is minder uniek.
– Jy kan geen groot veranderinge aan die trourok maak nie

Wees nugter hieroor, dink lank, en maak dan die besluit wat die beste gaan werk vir jou. Elke bruid is anders, en wat vir die een werk gaan heel moontlik nie vir die ander ook werk nie.

Foto: Freepik

AS JY JOU DROOMROK SOEK, KLIEK HIER

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA