’n Troue by Duck Point Venue was op die kaarte vir ou skoolvriende, wat besef het dat hulle sielsgenote is. An-Sophie Lourens deel hierdie mooi storie met ons.

Jan-Paul en Chrisley Botha se liefdesverhaal het begin toe hulle, in graad sewe, by die kerk ontmoet het. Chrisley glo hulle goeie vriendskap is die beste fondasie vir hulle huwelik.
Op universiteit het hulle vas begin uitgaan en ses jaar later is hulle verloof. Troukoors het gaan uitvind hoe dié beeldskone paartjie troue gehou het.

WATTER EIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR VOOR DIE TROUE?
“Omdat ons mekaar al lank ken, vul ons mekaar aan. Ons is bewus van ons elkeen se sterk- en swakpunte en is deur die meeste van ons lewensfases saam. Dit het ons toegelaat om saam te groei. Ons deel mekaar se drome en uitkyk oor die lewe.”

WANNEER HET JULLE BESEF JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
“Na ons eerste soen het ons nie heeltemal geweet wat om daarvan te maak nie, maar een ding was seker ons het geweet dit gaan nie stop by ʼn soen nie. Ons het geweet ons begin ʼn toekoms saam en dit het gelei tot ’n troue.”

HOE HET HY JOU GRVRA OM TE TROU?
“Op my verjaarsdag, nog voor die son op was, het ons na een van ons gunsteling-uitkykpunte in die bos gegaan. Hy het my geblinddoek en daarheen gelei. Toe ek my oë oopmaak staan daar in groot letters met ligte: BE MY WIFE.”

VERTEL ONS VAN DIE BEPLANNING VAN DIE TROUE?
“Ons het eerste begin met die venue. Ons het ʼn paar opsies oorweeg maar Duck Point was beslis die perfekte plek. Ons het toe op ʼn beskikbare datum besluit.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN TEMA VAN JULLE TROUE?
“Wit, lig, skoon en elegant, met ʼn tikkie goud. Ons het baie kerse gehad vir ʼn elegante afronding.”

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE GRAAG BY JUL TROUE HÊ?
“Geselligheid, samesyn en God se teenwoordigheid.”

BESKRYF JULLE TROUE?
“Ek het die oggend wakker geword met ongelooflike opgewondenheid en kalmte. Ek kon nie wag om met my beste vriend te trou nie. Elke idee en gedagte wat ek ooit oor trou kon dink, het daardie dag waar geword. Ek het geweet dat die Here die dag so ongelooflik sal seën dat alles waarvoor ek nog altyd bid, volgens sy wil sal geskied.”

WAT HET JULLE GEHAD WAT ANDERS WAS OP JULLE TROUE?
“Ons het ʼn stalletjie gehad waar gaste hulle hoë hakke vir ʼn lekker paar plakkies kon verruil. Die bordjie het gelees: “If your feet are tired and sore, grab a pair and dance some more.”

HET IETS SNAAKS GEBEUR OP DIE DAG?
“Ek het per ongeluk my kousband by my huis in die Kaap vergeet. Ek moes voor die troue my vriendin bel en vra of sy ʼn plan kan maak. Sy het toe by ʼn partytjiewinkel oppad na die troue toe gestop en een gekoop vir R35. Ons het ook ʼn spesiale video voorberei wat ons vooraf by ons henne- en rampartytjies geneem het. Dit was baie snaaks en so lekker om met die gaste te deel die aand van die troue. Almal het dit vreeslik geniet.”

RAAD AAN TOEKOMSTIGE BRUIDE…
“Sien meer uit na jou huwelik as na jou troue. Die troue is ʼn baie spesiale dag, wat baie tyd, moeite, beplanning en geld vat, maar dis net ’n dag. Die lekkerste gedeelte is die huwelik. Doen soveel moeite deurlopend in jou huwelik, as wat jy vir een dag op jou troue sal doen.”

Jean-Paul en Chrisley se vriendskap en liefde straal uit hulle uit. Die beste besluit wat hulle kon neem was om te beloof dat niks en niemand dit van hulle sal wegneem nie. Hulle het dit ook behoorlik gevier met ’n baie elegante troue.

DIENSVERSKAFFERS
Venue en koördineerder: Duck Point Wedding & Function Venue
Spyseniering: Chef Bosch
Blomme en dekor: Sophia’s
Troukoek: Vriendin, Angelique Smit
Fotograaf: Renske de Klerk (RDK Photography)
Videograaf: Shaun McCreanor
Musiek: Altus Janse van Rensburg
Trourok: Bridal Manor (Pronovias)
Hare: Angie du Ru
Grimering: Kaila Botha
Bruidegom se uitrusting: Anika Tailor
Strooimeisierokke: Esté Creations

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA