’n Troue was die uiteinde van ou skoolliefdes wat na jare weer bymekaar uitgekom het… maar dit het wel alles begin met ’n matriekafskeid-afspraak!
Jenna-Lee het jare terug vir Paul saamgevra na haar matriekafskeid en hy het saamgegaan. Maar daarna het hulle kontak verloor en nooit gedink dat hulle eendag saam gaan troue beplan nie.
Ons het meer gaan uitvind oor hulle liefdesverhaal en die beplanning van hulle troue.
HOE HET JULLE GEWEET JULLE IS VIR MEKAAR BEDOEL?
“Ek het dit geweet van ons eerste afspraak af (toe Paul my jare na skool weer uitgevra het). Ek het oorkant hierdie aantreklike man gesit en kon met hom oor enigiets praat en het so lekker gelag. Ek het op daai oomblik verstaan wat mense bedoel wanneer hulle sê dat hulle met hul beste vriend getrou het.”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA WAT GELEI HET TOT DIE TROUE?
“Hy het op Kersdag vroeg opgestaan om tee en ontbyt te maak. Dit was vreemd want ons het die oggend ’n kuier by my ouers beplan. Hy het my toe verras met ’n mooi gedekte tafel, met sjampanje- en lemoensap en ’n heerlike ontbyt. Daarna wou hy geskenke oopmaak, maar ek was nie haastig nie want ons het saam my nuwe drafskoene gaan uitkies. Hy het egter aangehou, en toe kry ek die swartboksie in die skoenboks. Hy het toe die groot vraag gevra en ons kon die gelukkige dag saam met ons geliefdes vier.”
VERTEL ONS MEET VAN DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons was nog altyd mal oor ’n mooi wynlandgoed en wou ook ’n plek kies waar gaste kom tuisgaan wat van ver af kom. So die venue was eerste op ons lys. Daarna het ons ’n troubeplanner aangestel en op die detail besluit. Die kleurskema was wit, met skakerings van roosgoud, romantiese blou en pastelpienk. Die atmosfeer was romanties, maar ook prettig, want daar was ook ’n illustreer-kunstenaar wat die gaste vermaak het terwyl ons besig was om foto’s te neem.”
HET IETS SNAAKS TYDENS DIE TROUE GEBEUR?
“Alhoewel ons gegaan het vir danslesse, was die senuwees te erg en het ons eerste dans skeefgeloop. Almal het lekker gelag, maar ons het net aanhou dans en die spoggerige passies wat ons geleer het uitgelaat.”
HET JY RAAD VIR ANDER BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
“Maak tyd vir julleself op die dag. Ek en Paul het vir so ’n rukkie alleen op die patio tyd spandeer en gekyk hoe almal dans en hulleself geniet. Dit was so spesiaal om te weet dat hulle almal daar was omdat hulle omgee vir ons. Moet ook nie dat dinge wat flop of skeefloop julle troue bederf nie. Dit is veronderstel om die beste dag van julle lewens te wees.”
DIENSVERSKAFFERS
Venue: Louresford Wine Estate
Koördinering: Boutique Styling
Spyseniering: STIR
Drankies: Shake & Serve
Blomme: Anli Wahl Floral
Dekor: Something Different
Verhurings: Event2Set en Authentic Planning
Skryfbehoeftes: Boutique Stationary by Boutique Styling
Troukoek: Fairy Cakes
Fotograaf: Yolandé Marx
Video: Cape Town Wedding Video
Musiek: Dream Wedding DJ
Trourok: Vonve Bridal
Hare en grimering: Alicia Buckle
Bruidegom se uitrusting: Country Road
Perdekar: Piet
Illustrasies: Martinus van Tee Illustrations