’n Troue in sagte kleurskakerings was presies wat Tiaan en Rochelle wou hê op hulle groot dag. Minette Badenhorst vertel jou meer van hierdie paartjie.
Hierdie romantiese troue met ʼn wit en grys kleurskema was die perfekte dag vir Tiaan en Rochelle om trou aan mekaar te beloof.
Hulle was saam op kleuterskool, sowel as Laerskool tot en met graad 3. Dit is toe Rochelle hulle weggetrek het. Hulle het mekaar weer op Hoërskool ontmoet, maar dit was gedurende haar eerste jaar van internskap wat die twee weer connect het. Dit was ʼn onverwagse boodskap op Facebook wat die tweetjies op die ou einde bymekaar laat uitkom het.
WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK?
“Die feit dat ons lekker saam kan lag, ons liefde vir ons familie, vriende en diere.”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons het die Saterdag van die 4de Februarie deurgery na Franschoek om die dag daar te spandeer. Daar het ons deur die strate gestap, by een van die restaurante geëet en was ook verras met die Kaapse Klopse wat daai dag deur die dorp beweeg het. Tiaan het gesê dat hy vir ons bespreek het by ʼn restaurant in Franchhoek vir die aand, en dat hy voor die tyd vir my iets wou gaan wys. Hy het my teen die Mont Rochelle berg opgevat en ons was daar by ʼn uitkyk punt wat oor die hele Franschoek uitkyk, en terwyl die son sak het hy die groot vraag gevra het. Daarna het ons by Mont Rochelle Restaurant gaan eet. Dit was ʼn onvergeetlike dag gewees.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ek het in die week na die verlowing na venues begin kyk, want ek het gehoor dat venues al lank voor die tyd vol bespreek is. Vrydag die 10de Februarie het ons gery om na ʼn venue te gaan kyk. Vandat ons by die hek ingery het, het ons daarvan gehou. Die saal, kerk, kamers en alles was net perfek gewees. Hulle het net ʼn paar datums oop gehad vir die res van die jaar, ʼn paar in Junie en Julie. Julie was vir ons die beter opsie, want dit het ons darem net daardie ekstra maand gegee vir al die reëlings en beplanning. Bakenhof Winelands Venue was die heel eerste venue waarna ons gaan kyk het en ons het daar uitgery met ons trou datum van 22 Julie 2017. Ons het geen belangstelling gehad om eers na ander plekke te gaan kyk nie. Van daar het die ander reëlings eintlik baie vinnig in plek geval. Na die venue was my grootste fokus om die perfekte fotograaf te kry sowel as trourok. Ons het ʼn spreadsheet gehad waar ons tred kon hou van depositos wat reeds betaal is en gelde wat nog betaal moes word, sowel as die datums wanneer watter betalings moes gebeur. Ek sal ook aanbeveel om te kyk na trou datums wat buite seisoen val. Ons was bevoorreg om op so manier ʼn redelike bedrag op ons venue te spaar wat ons toe weer op iets anders kon spandeer het.”
WAT WAS JULLE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Die kleurskema van die troue was grys en wit. Die rede vir die kleurskema was dat dit vir ons stylvol en romanties gelyk het, en dit was die atmosfeer wat ons by ons troue wou skep.”
BESKRYF JULLE TROUE?
“Die oggend van die troue toe ons die kamer se gordyne ooptrek was dit ʼn pragtige warm sonskyn dag. Ons kon nie vir ʼn mooier dag gevra het nie. Ons het redelik vroeg die oggend al begin met almal se grimering en hare. Die atmosfeer in die kamer was vrolik. My pa het die oggend ʼn draai kom maak by die kamer en vir my ʼn pragtige bos varkore gegee. Die oggend het verby gevlieg en voor ons ons oë kon uitvee was dit amper 3uur en tyd vir die troue om te begin. Die laaste rukkie voor drie uur was ʼn bietjie van ʼn gejaag, maar gelukkig was die kamers nie ver van die kerk af nie. Die seremonie was pragtig, my bruidegom aantreklik en die dominee se preek was baie mooi. Na die seremonie het ons die register geteken en toe foto’s gaan neem terwyl die Canapés bedien is. Die onthaalsaal was perfek. Ons het die formaliteite so gou as moontlik probeer afhandel sodat ons die res van die aand kon geniet. Daar is gedans tot middernag en as die DJ nie opgepak het nie sou die dans nog aangehou het tot die vroeë oggendure. Alhoewel die dans gestop het, het die kuier saam met familie en vriende steeds voortgegaan. Dit was ʼn kosbare dag wat net hopeloos te vinnig verby gevlieg het.”
WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Loop jou trouskoene in. Ek het my skoene toegedraai in kleefplastiek en maskeerband. Wanneer ek die kans gekry het, het ek dik sokkies aangetrek en in die huis met hul rond geloop. Voor die troue het ek alles net afgehaal. My skoene het nuut gelyk en ek kon baie gemaklik in hulle stap op my troudag.”
ENIGE ITEMS WAT JULLES SELF GEMAAK HET VIR JULLE TROUE?
“Ons dankie sê geskenkies was kruie plantjies. Ons het dit in houertjies van 6 gekoop, self oorgeplant in aparte potplantjies en dan lintjies om gebind. My man, swaer, suster en ma het met dit gehelp. Dit was groot pret met baie gelag.”
Dit wys jou maar net dat as ʼn paartjie vir mekaar bedoel is, sal hulle bymekaar uitkom. Tiaan en Rochelle se paadjies het al so baie gekruis, maar dit was op die regte oomblik wat daardie gekruisde paadjies met ’n pragtige troue geëindig het.
DIENSVERSKAFFERS
Venue en Drankies: Bakenhof Winelands Venue
Spyseniering: Retha Rix Catering
Blomme, Dekor, Verhuring: To-Netts
Troukoek: Helene Cakes
Foto’s: Bianca Smit Photography
Musiek: DeeJays
Trourok: Elizabeth Wedding Gowns
Bruidegom se uitrusting: Woolworths en Tidy Tucs
Strooimeisie rokke: Stickytoffie
Grimering: Lida Lotter
Hare: Linda van Aswegen