ʼn Troue met ʼn rustieke tema en ligte somerskleure het vir Stefan en Elé die elegante en ontspanne atmosfeer gegee wat hulle vir hul troudag wou hê. Minette Badenhorst het meer gaan uitvind…
ʼn Onverwagse motorrit en ure saam vasgevang in die verkeer loop uit op ʼn romantiese oomblik in die sneeu. Stefan en Elé deel hulle asemrowende troue by Glenburn Lodge & Spa met ons.
VERTEL ONS HOE JULLE LIEFDESVERHAAL VOOR DIE TROUE BEGIN HET?
“Ons liefdesstorie het begin by OppiKoppi 2013. Die vriendin saam met wie ek sou terugry wou eers ʼn draai maak in Pretoria, waar ek in Johannesburg moes uitkom. Ek het toe ʼn rit huistoe benodig en het op daai stadium Stefan se broer geken, wat toe aanbeveel het dat ek saam Stefan ry. Na ʼn sewe uur lange reis in verkeer, het ons nie ʼn keuse gehad anders om mekaar goed te leer ken nie en die res is geskiedenis (die verkeer het definitief hierdie keer in ons guns getel).”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ons was op ʼn reis deur Europa waar ons ʼn dag op Mount Ricky in Switzerland se sneeu deurgebring het. Dit was ʼn spierwit sprokiesland. Hy het my hand gevat en my gelei na die mooiste uitkykpunt. Daar het hy op sy knieë gegaan en gesê: “Elé, jy is die vrou van my drome, sal jy asseblief met my trou?”
VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons het begin met die begroting en toe met besprekings van die venue, fotograaf en videograaf om seker te maak ons kry ons eerste keuses. Die tema het ons op besluit na ons die venue besoek het. Ons het gegaan met ʼn rustic tema gegaan en ʼn appelkoos en sage groen kleurskema. Dit was ook somer toe ons getrou het, so die groen en appelkoos was vir my mooi ligte kleure wat gepas het by die seisoen. Pinterest was my beste vriendin.”
BESKRYF DIE DAG VAN JULLE TROUE?
“Ek was ongelooflik senuweeagtig die oggend van die troue, ek dink ek het drie ure slaap gehad (my brein kon net nie afskakel nie). Ek het gestres oor die weer, die tydlyn en of mense betyds gaan wees voor ek instap. Ek wens ek kon teruggaan in tyd, dan sou ek net ontspan het en ellke oomblik geniet het. My dag het heeltemal omgedraai toe ek in die kerk afstap en Stefan se trane sien. Ek het toe geweet alles gaan okay wees en ek kon net ontspan. Ek kan eerlik sê dat alles volgens plan verloop het en dat die dag net so perfek was soos wat ek dit nog altyd wou hê.”
HET ENIGIETS BESONDERS OP DIE DAG VAN DIE TROUE GEBEUR?
“Ek was so gelukkig toe my ouma, wat siek en in ’n rolstoel is, ons dag kon bywoon.”
WAT IS JOU RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet die beplanningsproses en geniet jou troue saam met al jou geliefdes. Dit gaan so vinnig verby.”
WAS DAAR ENIGE ITEMS OF PROJEKTE WAT JULLE SELF GEMAAK OF GEDOEN HET VIR DIE TROUE?
“Ons het self gevulde konfytbotteltjies gemaak as geskenke vir die gaste. Dit is versier met hessian-lap om by ons rustieke tema te pas.”
Stefan en Elé se liefde vir mekaar straal en was duidelik sigbaar op hulle asemrowende troue.
Gaan kyk die video van hulle mooiste dag hier!
DIENSVERSKAFFERS:
Venue, Spyseniering en Koördinering: Glenburn Lodge & Spa
Blomme: Rustic and Roses SA
Dekor: Eclectic Swazi
Verhurings: FF Décor – Draping and Lights; Affinity events – Tiffany Chairs
Skryfbehoeftes en Foto’s: Lezanne’s Designs
Troukoek: Marne de Klerk (074 558 653)
Fotograaf: Wynand van der Merwe Photography
Videograaf: White Motion Films
Musiek: Partymix
Trourok: Pronovias
Bruid se skoene: Olivelli
Bruidegom se uitrusting: TailorMe
Grimering en hare: Tish Jooste Professional Hair and Makeup