ʼn Troue met ’n klassieke en dramatiese bruilofsfees het Jaco en Annchen Steyn soos ʼn skoen gepas. An-Sophie Lourens vertel meer oor hierdie spoggeleentheid.
Hulle het by Blomfontein in Cradock hulle beloftes aan mekaar afgelê en hulle dekor en die atmosfeer was so gepas vir dié paartjie wat al ’n lang pad saam stap.
Hulle vertel ons hoe hulle tot by die troue uitgekom het en ook oor hulle klassieke, dramatiese en warm dekor styl.
HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN?
“Ons het in 2011 by ʼn matriekafskeid ontmoet deur gemeenskaplike vriende. Ons het dadelik lekker gesels en goed oor die weg gekom. Ek het vinnig verlief geraak op sy mooi hart. Ons het na verskillende universiteite toe gegaan en het daarom besluit dat ons eerder nie in ʼn vaste verhouding gaan wees nie. Ons kon wel net vier maande sonder mekaar klaarkom en het toe besluit om in ʼn langafstand verhouding te wees.”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG VOOR DIE TROUE GEVRA?
“Een van my vriendinne het my gevra om haar te gaan leer koekbak by haar huis. Toe ek die aand terug kom by my huis , het iets suspisieus gelyk en ek het begin bang word dat dit dalk ʼn inbraak kon wees. Ek het by my voordeur ingeloer en die hele gang was vol kersies gepak. Daar was ook groot velle papier waarop woorde gedruk was. Ek het in die gang afgestap en die woorde het gelees: “Sal jy met my…” Hy het in die kombuis gewag met die papier waaroop staan “trou.” Daarna het ons lekker voor die kaggel gaan sit en lekker kos en wyn geniet.”
VERTEL ONS MEER JULLE TROUE SE KLEURSKEMA EN ATMOSFEER?
“Ek het nog altyd geweet ek soek swart kerse op my troue. Ons het besluit op boergonjewyn en goud om die kerse te komplementeer. Dit het ʼn dramatiese, warm en koninklike atmosfeer geskep.”
BESKRYF JULLE TROUE?
“Ons troudag het werklik soos ʼn feëverhaal gevoel. Dit was ongelooflik hoe die dag gevul was met seëninge wat mense oor ons en ons huwelik uitspreek. Die dag was vol emosie, asook opgewondenheid. Almal het hulleself vreeslik geniet en gekuier tot die son opkom, en dis presies wat ons wou hê!”
HET DAAR ENIGIETS SPESIAALS OP DIE DAG GEBEUR?
“Ons is ʼn klein boeregemeenskap en is altyd bly vir reën. So dit gebeur toe dat daar ʼn heerlike bui reën val toe ons moet foto’s neem. Ons het so 10 kilometer weg van die venue af gery en daar gaan foto’s neem. Dit het besonders mooi uitgekom en die bewolkte weer maak toe eintlik die pragtigste foto’s.”
WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
• Moenie dat iemand jou keuses beïnvloed nie.
• Begin vroeg beplan.
• Maak lysies en notas.
• Probeer om so vêr jy beplan met jou diensverskaffers dit op skrif te hê. Werk eerder elektronies as net met telefoon gesprekke. ʼn Mens kan mekaar vinnig misverstaan oor die telefoon en dan het jy niks om dit te bewys nie.
• Moenie alles te veel oordink nie.
• Vra vir hulp! Mense wat vir jou lief is, wil jou graag help.
HET JULLE ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS GEHAD OP JULLE TROUE?
“Ons dankiegeskenke was ʼn braaisout wat ons self gemeng het. Jaco het ook vir ons ʼn 3D-ligtboks gemaak, plankies gesny vir ons tafelnommers, houtrame wat oor die tafels gekom het en planktafellopers.
Die Steyns se klassieke en dramatiese troue, in boergonjewyn en goud met dramatiese swart kerse, was gevul met emosie, geluk en seën. Dit was werklik ʼn fees en hulle sal dit enige dag weer wil oorhê.
DIENSVERSKAFFERS:
Venue: Blomfontein Wedding Venue
Spyseniering: Celeste Spyseniering
Bloemiste: Louise Lötter (tannie)
Dekor: Annchen (die bruid)
Verhurings: Grand Room Design, Wise Hire
Skryfbehoeftes: Greenroots Art & Design Studio, I do designs
Troukoek: D’licious Home Industry
Fotograaf: Leze Hurter Photography
Videograaf: Big Day Symphony Wedding Films
Musiek: Christo Kotze
Hare: The Pretty Bride
Trourok: Stanley Baptiste
Grimering: Charné du Toit@ Nimue Skin Clinic Cradock
Bruidegom se uitrusting: Woolworths