’n Troue by Monte de Dios was die perfekte manier vir die bekende publisiteitsbestuurder, Alishia van Deventer van Starburst Promotions, se dogter en haar verloofde om hulle lewe saam af te skop. Minette Badenhorst vertel meer oor dié besonderse geleentheid.
Hierdie pragtige troue, met verskillende tradisies en ʼn Egiptiese atmosfeer, laat ons dink aan ʼn droommooi Disney-verhaal. Dit het ʼn lewensgevaarlike gebeurtenis gevat vir dié paartjie om finaal te besef dat hulle liefde in die sterre geskryf was. Abdelrahman en Danelle vertel ons meer van hulle liefdesverhaal en die beplanning van hulle groot dag.
HOE HET JULLE LIEFDESVERHAAL BEGIN VOOR DIE TROUE?
“My en Abdelrahman se ontmoeting was regtig in die sterre. Ek het by een van my vriende in Vereeniging ingetrek (dit was die eerste keer wat ek van die huis af weggetrek het). Toevallig het Abdelrahman in die kompleks gebly waar ek gebly het. Eers wou ek niks met hom en sy vriende te doen gehad het nie, maar oral waar ons gegaan het, was hulle ook toevallig daar… die gimnasium, winkelsentrums, restaurante, bioskoop en dan ook by die kompleks. Ek het toe besluit dat, aangesien ek hulle oral sien, ek netsowel vriendelik kan wees en so het ons toe ook vriende geword.
Hoe meer ek hom leerken het, hoe meer gemaklik was ons met mekaar. Hy het my toe gevra of ek hom Engels kon leer. Ons het elke dag van 14h00-17h00 lesse gehad. So het ons toe ook verlief geraak. Vir twee maande het ons dit probeer ontken, maar albei van ons het so jaloers geword met die dat ons net vriende was dat ons uiteindelik ons liefde aan mekaar verklaar het. Van daardie dag af, was ons onafskeidbaar.”
WATTER EIENSKAPPE HET JULLE OP MEKAAR LAAT VERLIEF RAAK VOOR DIE TROUE?
Danelle: “Ek het verlief geraak op Abddelrahman se liefde vir die lewe, sy vriendelikheid en respek teenoor ander mense. Die liefde wat hy vir sy gesin het, hoe sterk en onafhanklik hy is, sy verstand en hoe wys hy is.”
Abdelrahman: “Ek het nie net verlief geraak op Danelle se voorkoms nie, maar ook haar hart. Die manier waarop sy my kon tam en my hart oopmaak. Ek is lief vir hoe selfversekerd en sterk sy is, en ook hoe sy vir my en almal omgee. Sy het ʼn baie klein hart, maar terselfdertyd is sy ongelooflik sterk. Ek hou van haar lus vir avontuur en hoe spontaan sy is, sy hou altyd dinge interessant.”
WANNEER HET JY GEWEET DAT JULLE VIR MEKAAR BEDOEL WAS?
“Abdelrahman het ʼn tragiese ongeluk gehad, met ʼn vliegtuig, terwyl hy gestudeer het om ’n vlieënier te wees. Dit was die maak of breek van ons verhouding. Hy het groot oog- en gesigsrekonstruksie gehad en was ook geestelik op ʼn baie slegte plek. Hy was vir ongeveer twee maande in die hospitaal en ek was elke dag by hom en het selfs soms by die hospitaal oorgeslaap. Ons het besef dat hierdie ongeluk ons kon gebreek het, maar dit het ons sterker gemaak en ons laat besef dat ons nooit sonder mekaar wil wees nie. Ons het besef dat ons bedoel is om bymekaar te wees en dat dit God se plan vir ons is.”
HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Abdelrahman het my in Egipte gevra om met hom te trou, nadat ek vir drie maande by hom en sy pragtige familie gekuier het. Hy het met sy suster gereël om my vir ongeveer twee ure uit die huis te neem, en in hierdie tyd het hy dit in ʼn romantiese paradys verander. Daar was kerse wat die pad na ʼn roosblaarhart verlig het, en daar het hy op een knie gegaan en sy liefde verklaar. Natuurlik het ek ja gesê.”
VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Die beplanning van die troue het begin met die gastelys en hoeveel mense ons gaan uitnooi. Nadat ons op tagtig mense besluit het, het ons begin soek na die perfekte venue en sommer op die eerste een waarna ons gaan kyk het verlief geraak. Ek het op wit en goud besluit, omdat dit elegant, sjiek en tydloos is en die gevoel van die geleentheid sou komplementeer. Ons het toe voortgegaan met die blomme wat ek en my ouma saam gemaak het en ingepas het by tema van wit en groen.”
WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN DIE ATMOSFEER WAT JULLE WOU SKEP VIR JULLE TROUE?
“Kleurskema was wit en goud. Ek wou ʼn Egiptiese soort atmosfeer skep, want daar sou heelwat Egiptenare wees. Ek wou ook nie van die Afrkaanse tradisie afwyk nie, dus was die res van die troue se verrigtinge baie tradisioneel.”
WAS DAAR ENIGE SPESIALE OOMBLIKKE WAT JULLE WIL DEEL?
“My ma, ouma en tannie het met alles gehelp. My tannie het my rok gemaak en my ouma het al die blomme gedoen. Ses weke voor die troue,is my ouma in die ICU opgeneem en ons het gedink ons gaan haar verloor. Sy het regtig vir haar lewe geveg en ek was so bekommerd dat sy my nie sou sien trou met die liefde van my lewe nie. Maar danksy God het sy deurgetrek en dit gemaak.”
WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“My raad aan ander bruide is om jou familie soveel as moontlik in te sluit by jou troue. Probeer om die ervaring so persoonlik as moontlik te maak, want dit is herinneringe wat jy maak van die mees spesiale dag in jou lewe, saam met mense wat nie vir ewig by jou sal wees nie. Wat die begroting betref, vra altyd vir afslag wanneer jy in grootmaat koop. Kyk ook na materiaal by materiaalwinkels, dit is goedkoper en soms mooier as sommige duur bruidsmateriaal. Blomme is belangrik en kan enige area ophelder. Gebruik Pinterest en bruidstydskrifte om idees vir jou troue te kry.”
El Far (soos almal hom noem) en Danielle se troue was romanties, spesiaal en vol liefde en die perfekte begin vir hulle lang en gelukkige toekoms saam…
DIENSVERSKAFFERS:
Venue, spyseniering en musiek: Monte de Dios
Koördinering: Starburst Promotions – Alishia van Deventer
Dekor: Starburst Promotions – Pattie Fourie, Marinda Young, Alishia van Deventer en Danelle Liebenberg
Blomme: Pattie Fourie
Troukoek: Bake Me Pretty – Home Baking at its BEST
Skryfbehoeftes: Danelle Liebenberg
Foto’s: Fathom Media
Videograaf: CinaStage Studios
Vermaak: Leon Gropp
Trourok: Marinda Young
Grimering: Suna Robberts
Bruidegom se uitrusting: ExoFixo
Seremoniemeester: Pieter Cloete