’n Troue in die mooiste pastelskakerings was waarmee Alremé en Drikus hulle gaste bederf het op hulle troue. Hulle deel hulle liefdesverhaal en troubeplanning met ons.


Alremé was miskien nie van die eerste oomblik af verlief en verlore toe sy vir Drikus ontmoet het nie, maar hy het baie goue besef dat hy beenaf is op hierdie mooi brunet. Tydens hulle eerste afspraak, het hulle mekaar se geselskap soveel geniet dat hulle tot toemaaktyd by die restaurant gesit en kuier het. Dit was die begin van ’n pragtige verhouding, wat later op ’n troue sou uitloop.

HOE HET DRIKUS DIE GROOT VRAAG GEVRA VOOR DIE TROUE?
“Ons het besluit om ons een-en-twintigste verjaardagpartytjie saam te hou en het al ons vriende en familie genooi. Dit was ’n heerlike aand en naby aan die einde, het die seremoniemeester ons gevra om in die middel van die dansvloer te kom sit. Drikus se ma het begin roosblare strooi en ons geluk gewens met ons verjaardae. Ek het geweet iets is nie pluis nie, toe Drikus my alleen los op die vloer om bedankings te gaan doen. Die bedankingstoespraak, het toe ’n verlowingstoespraak geword waarin hy vyf belangrike oomblikke in ons verhouding uitgesonder en vir my ’n bos blomme gegee het. Toe hy by punt vier kom, het ons vriende brandende kerse om my gepak. Punt vyf was daardie oomblik. Marry Me deur Jason Derulo het begin speel en hy het met nog blomme by die trappe af gekom, gekniel en my gevra om te trou. Ek het ja gesê, al het dit my ’n rukkie gevat om tot verhaal te kom.”

WATTER TEMA EN ATMOSFEER WOU JY SKEP BY JULLE TROUE?
“Ek hou van pastelkleure en het daarom ’n kombinasie van sagte blou-, groen-, pienk- en grysskakerings gekies. Ons wou ’n opgewekte en opwindende atmosfeer skep vir gaste om te geniet en waarin ons net onsself kon wees.”

BESKRYF JULLE TROUDAG?
“Ek was baie rustig en opgewonde oor die dag se verrigtinge. Alles het egter nie volgens plan verloop nie. Die selfoonopvangs was sleg en die tafelrangskikkings was heeltemal verkeerd, die blomme te min en ek het begin stres en ongelukkig voel. Gelukkig was my ma daar om beheer te neem en ek het later besef dat my bruidegom al is wat saakmaak.”

HET DAAR IETS SPESIAAL GEBEUR OP JULLE TROUE?
“Ek het my man verras deur Shania Twain se From This Moment On te sing gedurende die onthaal. Ek het gevoel dat dit my gevoelens oor die dag opsom en dit was gepas, omdat sing my loopbaan is.”

HET JY ENIGE RAAD VIR BRUIDE WAT TROUE BEPLAN?
“Geniet die beplanningsproses en doen wat jou gelukkig maak. Moenie geld mors op onnodighede nie en moenie dat dinge wat skeefloop jou aandag aflei van wat regtig belangrik is nie.”

Alremé verklap ook dat sy baie geld kon spaar deur van die dekoritems en skryfbehoeftes vir die troue self te maak.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Milorho Wedding Venue
Spyseniering: Foodworx
Blomme: Jabulani
Fotograaf: Michelle Denton Photography
Videograaf: White Motion Films
Musiek: Sound Motion Professionals
Rok: Lianél Schwartz Couture
Hare: Narissa Winter
Grimering: Annelien Fourie
Bruidegom se klere: Markham

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA