’n Troue in die bos, is presies wat jy sal kry wanneer jy by Sekopo Private Game Reserve gaan aanklop. An-Sophie Jonker verklap mooi oor hierdie oulike venue.

Sekopo Private Game Reserve, geleë in die Waterberg distrik naby Naboomspruit, staan reg om jou te help met ʼn lekker, gesellige troue wat gepaard gaan met liplekker kos en drankies.

Sekopo Private Game Reserve is nie net ʼn wildsplaas waar hulle met kwaliteit-geenpoele teël nie, maar ook ʼn pragtige venue vir ’n troue in die hartjie van die bosveld. Hulle kan jou nie net help om die beste fotograwe, bloemiste, grimeer- en haarstiliste te reël nie, maar hulle bied ook fantastiese diens aan as dit kom by onthaal en spyseniering.

Berdéne de Beer van Sekopo Private Game Reserve vertel ons meer oor hoe hulle te werk gaan met die spyseniering en onthaal by elke troue.

HOE WERK JULLE SPYSENIERINGOPSIES VIR ’N TROUE?
“Ons venue het verskillende opsies waarvan bruidspare kan kies. Die opsies is as volg:

• ʼn Buffet wat voorgereg, hoofgereg en nagereg insluit.
• ʼn Spitbraai saam met ʼn broodtafel en verskillende soorte slaaie.
• Kouevleise met verskillende brode.

Dit is slegs ʼn paar opsies, daar kan basies enige voorkeur wat die kliënte graag op hulle troudag wil hê, vir hulle gekwoteer word.”

WATTER PEUSELHAPPIES EN DRANKIES IS GROOT TREFFERS BY TROUES WAT JULLE VOOR ONTHAAL?
“Die meeste mense is dol oor ons kaasborde met biltong, neute en vrugte. Die drankies wat groot voorkeur onder die gaste geniet, is ons slopsappie Margaritas en Daiquiries. Dit bly altyd ʼn wenner, veral as die troue op ’n warm somersmiddag is.”

WAT KAN JULLE VENUE EKSTRA BIED AAN TOEKOMSTIGE BRUIDSPARE TEN OPSIGTE VAN SPYSENIERING EN ONTHAAL?
“Ons kan ʼn Craftwagen, met kunsbiere, brandewyn en Coke, Savanna en Castle Light “on tap” aanbeveel. Dit maak groot opslae regoor die land. Mense verwag dit by feeste en markte, so as dit by ʼn troue beskikbaar is, is almal sommer in rep en roer. Dit is altyd ʼn wenner, veral onder die mans. Ons onthaalarea is heerlik ruim en hier is meer as genoeg plek, sou kliënte dit kon bekostig, om ʼn lewendige orkes te reël. Dit verskaf ook altyd baie vermaak aan die gaste. ”

WAT IS JULLE OPSET MET DIE SPYSENIERING EN ONTHAAL?
“ʼn Paar tree van ons onthaalarea af is daar nog ʼn lapatjie waaronder die kos altyd bedien word vir elke troue. Op so ʼn manier word daar nie ekstra spasie in die onthaalarea self opgeneem vir kostafels en rye nie. Dit skep ook meer as genoeg spasie vir gaste om te beweeg wanneer hulle gaan opskep.”

WATTER RAAD HET JULLE TEN OPSIGTE VAN DIE ONTHAAL?
“Die onthaal word 99% van die tyd te lank uitgerek en gaste raak verveeld en die lus vir gesellig wees en ʼn laataand se kuier word sommer gou gedemp. Ons raad aan bruidspare sal wees: Hou toesprake, formaliteite en alles wat in die onthaalsaal gedoen moet word, kort en kragtig. Mense wil eintlik net lekker eet en kuier. Hulle wil nie die heelaand sit en na toesprake en storietjies luister nie.”

As jy wil kies en keur vir wat te ete gaan wees by jou troue, lekker wil kuier en heerlike samesyn wil geniet, gaan loer op Sekopo Private Game Reserve se webtuiste. Wat is dan nou lekkerder as Savanna “on tap” met ʼn beeldskone bosvelduitsig.

FOTO: RDK Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA