Troubeplanning, veral oor ’n afstand, maak grotendeels staat op watter verskaffers jy gebruik en of hulle betroubaar is. Johan Ungerer gesels met Marlize Leyden oor hoe hy te werk gegaan het om ’n Weskustroue vanuit Gauteng te beplan.
Op ’n windstil Weskus-namiddag het Wian Smith en Jaco Venter vir ewig trou beloof by The Sea Trader in St. Helenabaai. Benewens die uitdaging wat ’n strandtroue bied, moes organiseerder Johan Ungerer van Johan Ungerer Signature Weddings ook maniere bedink om die risiko’s, wat met troubeplanning oor ’n afstand gepaard gaan, te verminder. Hier is ’n paar van sy wenke:
“Dit is die klein dingetjies, die detail, wat ’n troue onvergeetlik maak. Waaroor praat jy steeds jare later as jy aan daardie dag terugdink?” vra Johan Ungerer, bobaas funksiebeplanner van Pretoria.
“Vir my was Jaco en Wian se troue geen uitsondering nie. Ek wou dit ekstra intiem en spesiaal maak omdat die paartjie en baie van die gaste al die pad van Pretoria gekom het. Hulle hartsmense het immers die moeite gedoen en die koste aangegaan om na hierdie versteekte juweel van ’n dorp te kom.”
Geen moeite is ontsien nie – van die kantsambrele wat gaste teen die skroeiende Weskus-son (gelukkig het die weer daardie dag pragtig saamgespeel) moes beskerm tot die waterbottels met Wian en Jaco se voorletters op.
“Dis egter ook juis in hierdie detail waar ’n troue baie vinnig te vroulik kan lyk – iets wat ek vir Wian en Jaco ten alle koste wou vermy. Deur van ’n meer “manlike” kleurskema van blou en grys gebruik te maak, het ons daardie lokval vermy. Van die uitnodigings se kleurskema, die strooimeisies se rokke… tot die koek se kleur het die perfekte atmosfeer verseker. Dit het daartoe bygedra dat al die elemente ’n eenheid vorm, selfs al kon ek weens die afstand nie persoonlik met elke verskaffer praat om die styl te bespreek nie.”
Johan erken dat hy wel ’n bietjie gespanne was omdat hy troubeplanning oor ’n afstand moes doen en op verskaffers moes vertrou saam met wie hy nog nooit gewerk het nie. “Die koek moes van Kaapstad af vervoer word. Wat as die koek nooit hier uitkom nie? Of die dekor? St. Helenabaai is ver. Selfs al kry jy ’n winkel wat tot laat op ’n Saterdag oop is, gaan daardie plek heel waarskynlik glad nie aanhou waarna jy soek nie.
“Dis hier waar dit begin saak maak saam met wie jy werk en jy jouself moet afvra of jy die verskaffers wat jy gebruik kan vertrou. Moenie net op die internet gaan kyk en so diensverskaffers kies nie. Gaan gesels met die mense. Ek het Maandag met die dekormaatskappy vergader, die middag het hulle ’n mockup-tafel vir my opgestel en Donderdag was die dekor daar. Wat ’n mens nié wil hê nie, is dat die paartjie stres. Die logistieke reëlings is nie hulle probleem nie. ’n Strandtroue is tog maar spesiaal, maar met die onvoorspelbaarheid van die weer aan die Weskus moes ons ’n Plan-B in plek hê. ”
Om ’n tikkie van die bekoring van daardie dag langer te laat hou, het elke gas ’n botteltjie met sand en skulpies gekry wat presies geneem is van die plek waar Wian en Jaco hulle troubeloftes gemaak het. Waarom? “Want dis alles in die details,” sê Johan. “Dis alles in die details!”
’n Pragtige artikel wat meer inligting oor die paar se verhaal bevat, sal binnekort op GLANS beskikbaar wees. Wees gerus op die uitkyk daarvoor.
DIENSVERSKAFFERS
Venue: Sea Trader Venue
Koördinering: Johan Ungerer Signature Weddings
Koördineringsassistent: Nico Nel
Blomme: Michelle Merrick van New Vintage Events
Dekor: Function Hiring 4 U
Skryfbehoeftes: Janie van der Walt van The Marketing Zoo
Dankiegeskenkies: Grey Hawk Classic Craft Gin (Qualito Craft Distillery)
Troukoek: Florentines Cakes
Drankies: Deetlefs Wine Estate en Dors Water
Fotograaf: Emil Paul
Videograaf: Martin le Grange van Brush Wedding Films
Klank en beligting: Edwin Deyzel van Elite Wedding Concepts
Vermaak: Joe Foster en Elme Churr
Seremoniemeester: Jaco Barnard
Ringe: Diaz Jewellers
Trou-uitrustings: Smart Guy and Smart Bride
Hare en grimering: Makeup4Eva
Jenga-geskenkstel: Henderson van Henderson Worx
Spesiale toespraak: Manie Botha
Aantreklokale: Francolis House & Oyster Catcher Lodge
Gevolg: Pieter Smith, Jolene Erasmus, Henk Henderson, Elizma Mouton, Llewellyn Steenkamp en Alicia Pretorius