troubeloftes
Troubeloftes is opnuut gemaak tussen Francois en Yolande Botha wat besluit het om na vyf-en-twintig jaar van getroude lewe hulself weer opnuut aan mekaar te verbind. Dit was ’n sprokiesmooi dag, vol liefde en geluk.

troubeloftes_1

Francois en Yolande het nuwe troubeloftes aan mekaar gemaak op hulle silwer-huweliksherdenking en sommer ook weer in styl saam met geliefdes gekuier. Yolande vertel ons meer van die dag se verloop en gee raad vir diegene wat na baie jare weer saam met dieselfde man voor die kansel wil staan.

HOE HET JULLE ONTMOET?
“Ons was studente op KOVSIES in Bloemfontein en het mekaar van die kerk af geken. Ek het elke tweede middag verby sy koshuis gestap, waar hy gewoonlik aan sy kar se enjin gewerk het. Ons het mekaar altyd gegroet en lekker gesels, en kort voor lank het hy sy kar (wat niks meer makeer het nie) as verskoning gebruik vir my geselskap. Ons het altwee ernstig gebid oor die toekoms van ons vriendskap en na 18 maande het ons troubeloftes gemaak. Ons put vandag nog dieselfde genot uit ons vriendskap.”

VERTEL ONS VAN JULLE EERSTE TROUE?
“Dit was ’n klein troue met net 50 gaste. Ons het toé dieselfde vriende gehad, so dit was maklik om by ’n klein getal te hou. Die kleurskema was appelkoos, en die kos by die onthaal was heerlik. Ons gaste het ’n feesmaal geniet en lekker gekuier. Die kar wat ons gehuur het, het kort-kort gaan staan en dan moes Francois uitklim en help stoot. Ons het vreeslik gelag daaroor en dis ’n baie spesiale herinnering vir ons.”

HOEKOM HET JULLE BESLUIT OM JULLE TROUBELOFTES TE HERNU?
“Ons het hierdie jaar ons vyf-en-twintigste huweliksherdenking gevier, en omdat dit so ’n spesiale mylpaal vir ons is, het ons besluit dat dit ’n goeie rede is om ons huweliksbeloftes te hernu vir nóg ’n leeftyd saam.”

troubeloftes_2

WAS DIE BEPLANNING UITDAGEND?
“Ons dogter het pas haar studies in Modeontwerp en Geleentheidsbeplanning voltooi, wat beteken dat ons baie op haar staatgemaak het met die reëlings van die hernuwingseremonie van ons troubeloftes, en sy het alles gereël vanaf die tafelbedekkings, koek, die rok, my hare en het ook ondersteuning gebied. Ek het op ’n vlootblou rok besluit, wat ook deel van ons kleurskema was – saam met sagte wit en pienk, wat ons see-uitsig gekomplementeer het. Ons het meubels gehuur by ’n geleentheidsbeplanningsmaatskappy, wat ons toegelaat het om binne ’n klein begroting te bly.”

HET JY RAAD VIR DIEGENE WAT IN DIE TOEKOMS TROUBELOFTES WIL HERNU?
“Julle het alreeds julle beste dag gehad en hierdie keer gaan dit net oor julle twee. Hou dit eenvoudig en onthou om ’n goeie fotograaf te kry sodat julle wonderlike foto’s kan hê van julle spesiale dag.”

DIENSVERSKAFFERS
Venue: St Blaze Trial, Mosselbaai
Koördineerders en dekor: Melisha Botha, Tamar Barnard
Spyseniering, Troukoek en Hare: Melisha Botha
Bloemis: Flower Box, Mosselbaai
Verhurings: Fancy Functions – stoele en lapservette
Skryfbehoeftes: Uitnodiging deur Chrystalace
Fotograaf: Tamar Barnard Photography
Musiek: DJ Pieter Thiart, 082 862 6212
Trourok: Pebbles Boutique, Mosselbaai
Grimering: Charlotte Oberholzer, Zelexa Beauty Spa
Bruidegom se uitrusting: Woolworths

Artikel: Gina van Staden

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA