Trou-uitnodigings is meer as net mooi skryfbehoeftes wat getooi is in die kleure van jou troue. Yolanda Wessels verklap watter inligting dit moet bevat.
Die laaste eksemplare van Troukoors tydskrif se Spesiale Uitgawe is nou op die rak by Pick ’n Pay, Checkers en sekere Clicks en Spar winkels. Koop dit sommer vandag nog voor dit finaal van die rak af verdwyn, of bestel die tydskrif saam met Die Trouboek direk by ons (teen spesiale afsalg – saam posgeld steeds goedkoper as by die winkels). Kliek hier vir meer info of om te bestel.
————————————————————————————————————————————————————–
Etiket klink dalk na ’n woord uit ’n vervloë leeftyd, maar alhoewel dié trant vandag verander het in vergelyking met vanmeleë dae, is dit steeds baie belangrik om trou-uitnodigings reg te benader. Die belangrikste inligting word hierin aan gaste deurgegee en is die eerste voorsmakie van die troue. Alhoewel daar nie vasgestelde reëls is nie, is dit goed om te hou by ’n paar vasgestelde riglyne van ouds.
Dit is etiket om almal wat die voorafpartytjies, hetsy verlowing-, henne- of rampartytjie bywoon, uit te nooi na jul huweliksbevestiging.
Tradisioneel word trou-uitnodigings ses tot agt weke voor die troue uitgestuur, maar drie maande is ideaal om die gaste genoegsame tyd te gee om te beplan. Soms word onthou-die-datum-uitnodigings ook uitgestuur, maar bespaar en stuur eerder jul trou-uitnodigings vroeër uit. Sommige egpare verkies selfs deesdae om ’n spesiale bruilof-webwerf te ontwerp vir hulle groot dag. Dáár kan gaste dan al die besonderhede aanlyn kry en jy kan heelwat meer inligting deurgee as op die uitnodiging.
Die meeste paartjies verkies steeds formele skrif en -woordkeuse op hul trou-uitnodigings, veral as dit ’n tradisionele plegtigheid is met ’n kerk-huweliksbevestiging en die seremonie daarna. Indien dit nie ’n formele, tradisionele troue is nie, is dit heeltemaal aanvaarbaar om minder formeel te wees in jul uitnodigings.
Trou-uitnodigings moet die volgende inligting bevat:
AAN WIE DIT GERIG IS: Maak seker jy addresseer jou gaste korrek en spreek hul aan op hul noemname. Indien die persoon enkellopend is mag hy/sy alleen uitgenooi word, maar dit is beter om “en metgesel” by te sit.
WANNEER: Sit die volledige datum (dag, maand en jaar) en tyd uiteen in die uitnodiging.
WAAR: Gaste reis dikwels ver om julle spesiale dag te deel. Maak dit vir hulle maklik deur duidelike aanwysings in te sluit sodat hul maklik die bestemming kan bereik. (Dit is aanvaarbaar om inligting in te sluit van bekostigbare verblyf vir gaste wat van ver kom.)
DIE RSVP-DATUM: Die RSVP-datum moet verkieslik twee tot drie weke voor julle troudag wees. Dit gee genoeg tyd vir die spysenier om getalle te bevestig asook die tafels en sitplekkaart te finaliseer.
KINDERS: Indien die uitnodiging nie kinders insluit nie, is dit belangrik om dit hier te noem. Indien gaste wel RSVP met hulle kinders se name by, kan jy hulle daaroor kontak. Indien daar baie kinders in die familie is, is dit egter ’n goeie opsie om ’n kinderoppasser te huur sodat almal kan meemaak op jul groot dag.
KLEREDRAG: Die aanbevole kleredrag moet in die uitnodiging genoem word. Dit is belangrik dat gaste weet of julle troue ‘n formele, semi-formele of informele geleentheid is sodat hulle hul kleredrag rondom dit kan beplan. Dit is byvoorbeeld nie ‘n goeie idee as gaste met hoëhakskoene opdaag by julle strandtroue nie.
KOEVERTE: Skryf die name ten volle uit en maak seker van die korrekte spelling. Sluit ook die gaste se titels in.
Baie dinge het verander oor die jare, maar dit is nie etiket om geskenkregister-inligting in te sluit op die trou-uitnodiging nie. Jy kan dit op jou webwerf insluit of mondelings oordra.
Maak seker dat jou trou-uitnodigings al die inligting bevat wat nodig is om jou groot dag so vlot as moontlik te laat verloop.
Kliek hieronder vir betroubare, bekostigbare diensverskaffers wat jou kan help om op jou beste te lyk op jou troudag…
Foto: Norma & Dorothy