Reinard en Tania Kruger het hulle toegewyde liefde aan mekaar bewys deur nie terug te staan vir die Covid-19 beperkings op troues nie, maar steeds voort te gaan met hulle troudag.

Reinard, die baskitaarspeler en agtergrondsanger van die musiekgroep, Wit Kasteel, vertel ons meer van hoe hulle die knoop tydens inperking deurgehaak en hulle liefde virewig het, asook bietjie meer oor die viermanskap se nuutste enkelsnit Toegewyd.

WAT WAS JULLE OORSPRONKLIKE IDEE VIR JULLE TROUDAG EN HOE MOES JULLE DIT AANPAS BY DIE COVID-19 REGULASIES?

“Ons oorspronklike plan was ʼn intieme troue, met naaste familie en vriende, by ʼn venue in Pretoria. Die idee was om ons spesiale dag net met ons geliefdes te deel en ʼn lekker kuiergeleentheid daarvan te maak en ons liefde te vier. Die Covid- 19 regulasies het veroorsaak dat ons die aangeleentheid ongelukkig moes uitstel, maar darem nie afstel nie.”

WIE WAS ALMAL BETROKKE OP DIE DAG?

“Die inperkingreëls het net toegelaat vir twee getuies en die dominee. Ons moes natuurlik ook ʼn fotograaf, Jeanie de Klerk Photography, saam nooi om ons spesiale dag vas te vang. Tania se ouers woon in Limpopo, daarom het ons dit goedgedink om eerder Reinard se broer en skoonsuster te nader om getuies te wees.”

VERTEL ONS MEER VAN JULLE TROUDAG…

“Ons is die oggend na die kerkkantoor in Centurion, waar Ds. Albert ons ingewag het. Daar het ons al die Covid-19 veiligheidsprosedures gevolg en die kerkkantoor binnegegaan. Ds. Albert het ʼn pragtige gebed oor ons uitgespreek en so het die formaliteite begin. In ʼn japtrap was ons liefde verseël as Meneer en Mevrou Kruger. In die kerk se tuin is daar vinnig foto’s geneem en daarna het ons verdaag vir ʼn feesviering by Werner en Liesel se huis. Hulle het vreeslik baie moeite gedoen met sjampanje, versierings en selfs ʼn troukoek.”

VERTEL ONS MEER OOR WAT DIE ERVARING JULLE GELEER HET?

“Roetine is belangrik, asook bly by julle besluite, al verloop dit nie volgens plan nie.”

 HOEKOM HET JULLE NIE TOT VOLGENDE JAAR GEWAG OM TE TROU NIE?

“Ons is al vyf jaar saam as ʼn paartjie en al agtienmaande verloof. Ons het voorberei om 2020 ons troujaar te maak. Die onsekerheid aangaande die inperkingreëls en hoe lank dit nog gaan voortduur, het ons laat besluit om by ons datum te hou al moes ons ons planne bietjie aangepas het.”

BEPLAN JULLE FEESVIERINGE VIR LATER SAAM VRIENDE EN FAMILIE?

“Die oorsproklike planne bly staan, die datum moet net nog bevestig word. Sodra die regulasies verslap ten opsigte van troues, maak ons seker dit is ʼn geleentheid om te onthou. Nie alle trou-paartjies kry die geleentheid om hul troudag nog ʼn maal te herleef nie.”

VERTEL ONS MEER VAN WIT KASTEEL SE NUWE ENKELSNIT, TOEGEWYD?

“Die liedjie kom uit die groep se eie pen en is saam met Hugo Ludik van Muse Studios aanmekaar geslaan. Die liedjie gaan oor die moeilike tye in die lewe. Die doel is om mense te bemoedig om in sulke tye ‘toegewyd’ te bly aan hulleself en om aan te hou en deur te druk. Jou verlede bepaal nie jou toekoms nie, maar eerder jou positiewe gesindheid. Die moeilike tye bou karakter. Moet dit nie vergeet nie, maar leer daaruit en gebruik dit tot jou voordeel.”

Reinard en Tania het die boodskap van Wit Kasteel se nuutste enkelsnit, Toegewyd, uitgeleef deur nogsteeds te trou en net hulle beplanning en datum aan te pas. Hulle inspireer ander bruidspare met Toegewyd se boodskap om moeilike tye tot jou voordeel te gebruik. Op die ou einde van die dag, wen liefde altyd.

Troukoors-lesers kan die enkelsnit gaan aflaai by http://smarturl.it/luister-toegewyd.

Wit Kasteel kan ook op die volgende media skakels gevolg word:

Facebook:https://www.facebook.com/WitKasteel/

Instagram: @witkasteel

Twitter: @witkasteel

Webblad:www.witkasteel.co.za

YouTube:https://www.youtube.com/user/witkasteel

Artikel: An-Sophie Jonker

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA