Jou troubegroting hoef nie ’n demper te plaas op julle mooiste dag nie. Laai hierdie oulike voorbeeld af om seker te maak dat jy van niks vergeet nie en dat jou spaarvarkie heel bly.
Om ’n troubegroting op te stel is nie maklik of lekker nie, maar as dit eers gedoen is, sal dit die hele beplanningsproses sommer baie makliker maak. Nie net sal dit jou help om alles te onthou wat jy moet nie, maar ook seker maak dat julle huwelik met gesonde finansies afskop.
Hier is ’n paar wenke om in gedagte te hou wanneer julle aan jul troubegroting timmer:
WEET HOEVEEL GELD JY HET
’n Mens tel nooit jou kuikens wat nog nie uitgebroei het nie. Maak dus van die beging af seker hoeveel geld julle het, sodat julle iets kan beplan wat binne julle troubegroting pas.
Dit help nie julle maak staat op ’n familielid en kies ’n vyfster-venue en daardie persoon trek kop uit en julle sit met die gebakte pere nie. Weet wat julle het om mee te werk en waaraan julle dit wil spandeer.
DOEN JULLE HUISWERK
Sodra julle weet hoeveel fondse julle beskikbaar het, besluit wat julle bereid is om elke gedeelte van julle troue te spandeer en hou daarby.
Dit help nie die blomme kos meer as die kos of die ringe nie. Beplan slim en maak die beste van die troubegroting wat julle het.
BEPLAN VIR ONVOORSIENE UITGAWES
Lees die fynskrif en maak voorsiening vir onvoorsiene uitgawes. Deur ’n paar rand opsy te skuif vir ’n krisis, gee jy jouself nie ekstra gemoedsrus. As alles vlot verloop, is daar ook ’n lekker bonus wat julle op julle nuwe nessie of wittebrood kan spandeer.
SPAAR WAAR JY KAN
Dit is deesdae die in-ding om van die takies vir jou troue self te doen. Nie net sorg dit vir ’n baie persoonlike aanslag nie, maar sal dit jou ook help om minder geld uit te gee waar jy kan.
Elektroniese uitnodigings is byvoorbeeld vandag baie meer gewild as die gedrukte weergawes wat gepos moet word.
Dekor en dankiegeskenkies kan ook self gemaak word.
Julle kan ook julle troubegroting laat klop deur kinders of mense wat julle nooit sien nie van die gastelys af te haal.
HOU TRED VAN JOU UITGAWES
As julle behoorlik boekhou van julle uitgawes, sal julle beslis binne julle begroting bly. Om jou hiermee te help, laai gerus hierdie oulike voorbeeld af om die lewe sommer baie makliker te maak.
Kry jou troubegroting hier!
Jou troue is een van die spesiaalste funksies wat jy ooit gaan beplan en die begin van julle lewensreis saam. Skop dit op die regte noot af.
Hou ook ons blad dop vir nog handige hulpmiddels wat oor die volgende paar weke beskikbaar gaan wees.
Natuurlik, is daar ook lekker praktiese raad vir jou troubeplanning in ons NUWE UITGAWE wat tans op die rak beskikbaar is.
Foto: Freepik