Spaar is belangrik wanneer julle op die nippertjie is om ’n nuwe lewe saam met begin. Hier is maniere waarop julle troue steeds mooi kan wees, sonder om julle spaarvarkie aan skerwe te laat spat.
Die afgelope paar jaar, het die toestand van die plaaslike ekonomie nou nie juis gehelp om die lewe goedkoper te maak nie. Inteendeel. Maar hierdie realiteit hoef nie jou droomdag te bederf nie. Jy moet net weet waar jy self kan inspring en spaar!
OORWEEG ELEKTRONIESE UITNODIGINGS
Een plek waar jy beslis baie kan spaar, is deur of jou uitnodigings self te maak en dan af te lewer of te pos (wat nogal duur en stresvol kan wees) of elektroniese uitnodigings te oorweeg. Laasgenoemde is nie net baie modern nie, maar ook baie goedkoper (jy betaal net vir een ontwerp en data) en minder tydrowend en baie meer betroubaar as die papier-eweknieë. As jy ’n slag het op die rekenaar, kan jy self jou hand ook waag aan die ontwerp en dit baie persoonlik en spesiaal maak. Goedkoop kan steeds mooi en elegant wees, so moet dit nie afskiet nie.
WEES SLIM OOR BLOMME
Blomme is mooi en nogal noodsaaklik wanneer dit by troues kom, maar dit hoef nie die bank te breek nie. Jy kan spaar deur spesies te kies wat in seisoen is of deur rangskikkings klein of minimalisties te hou. Natuurlik kan jy ook selfs probeer rangskik, maar dit word nie aanbeveel nie omdat dit baie druk op jou kan plaas op die dag van die troue.
KIES JOU GASTE REG
Die prys per kop vir trougaste, is deesdae baie hoog. Dit is darem noodsaaklik om julle gastelys haarfyn te beplan en nie onnodige mense, wat julle nie goed ken of gereeld sien, te nooi nie. Jy kan baie spaar deur nie jou werkskollegas of verlangse familie te nooi nie. Om kindergaste uit te sny, is natuurlik ook ’n meer ekonomiese opsie.
’N VYFGANGMAALTYD IS ONNODIG
Wees realisties wanneer jy jou spyskaart kies. Mense is nogal geneig om met kos te mors, veral as daar ’n oorvloed is om van te kies. Om te spaar, vervang voorgeregte met welkomhappies of ’n broodtafel met kaas en patee of wend jou troukoek as nagereg aan. As jou troue meer informeel of in die middag is, kan vingerhappies, in plaas van ’n aansitete, ook goed werk.
HUUR JOU ROK EERDER AS OM TE KOOP
Elke bruid droom oor haar trourok, maar dit beteken nie dat hy vir ewig – na die troue – steeds jou kasspasie hoef te steel nie. Hoekom sal jy immers iets wil hou wat jy nooit weer gaan dra nie? Net soos jy, sal jou dogter tien-teen-een haar eie idees hê oor waarin sy wil trou. Om ’n rok te huur is baie goedkoper en beteken dat jy steeds in die nuutste modes en snitte kan pronk. Baie ontwerpers ontwerp selfs die rok volgens jou lyf en hier dit dan daarna uit. Die opsies is eindeloos. Moenie bang wees om te vra nie.
Jy sal verbaas wees hoeveel jy kan spaar, deur buigbaar te wees oor ’n paar klein dingetjies.
Foto: Freepik