Nuwe resepte kan jou troudag baie interessant maak. Tradisionele troukoek is uit en paartjies beweeg ook weg van gewone sponskoek, want die opsies is eindeloos. Trouvrou deel hierdie twee heerlike resepte met ons om jou troukoek meer interessant te maak.

Jou troue is nou daardie een geleentheid waar jy uit-die-boks kan dink en dit geld ook vir die koek. Baie selfdoen-bruide spring deesdae self in om seker te maak dat hulle troukoek spesiaal is, vra ’n familielid om dit te bak, of werk saam met die bakker om spesiale resepte op te tower.

Hierdie twee heerlike resepte is beslis ’n verfrissende variasie op tradisionele troukoek.

ROOIFLUWEEL TROUKOEK OF KOLWYNTJIES
’n Heerlike en baie gewilde koek onder gaste.

BESTANDDELE
2½k meel
1½k suiker
1t koeksoda
1t kakao
1t sout
250ml karringmelk
2 eiers teen kamertemperatuur
1½k olie
1t wit asyn
30ml Moirs, rooi voedselkleursel
1t vanielje

METODE
1. Voorverhit die oond tot 180⁰C.
2. Berei jou koekpan/kolwyntjiepan soos benodig voor.
3. In ’n groot bak, sif die meel, suiker, koeksoda, kakao en sout saam.
4. In ’n ander bak, meng die karringmelk, eiers, olie, asyn, vanielje en kleursel saam.
5. Meng die meelmengsel in die karringmelkmengsel in.
6. Gooi nou die beslag in die voorbereide pan en bak vir 35 – 40 minute vir ’n groot koek, en 25 – 30 minute vir kolwyntjies.
7. Genoeg vir 12 kolwyntjies.

ROOMKAAS-VERSIERSEL
250g ferm roomkaas
125g ongesoute botter, sag
2k versiersuiker, gesif
5ml vanielje

1. Klits die botter tot lig en voeg dan die versiersuiker by tot jy ’n dik mengsel het. Hou aan klits vir nog ’n paar minute.
2. Voeg die roomkaas bietjie-vir-bietjie by. Meng slegs tot glad en gemeng. Smeer oor afgekoelde koek.

PIESANG- EN WORTELKOEK
Een van daai resepte waaroor gaste nog lank sal praat.

BESTANDDELE
250ml suiker
250ml sonneblomolie
3 eiers
375ml koekmeel (1½ koppie)
10ml bakpoeier
10ml kaneel
5ml koeksoda
250ml piesangmoes (ongeveer 3 ryp piesangs)
250ml geskilde, fyn gerasperde geelwortel
125ml gekapte okkerneute

VULSEL EN VERSIERSEL:
100g botter
375ml versiersuiker (1½ koppie)
100ml roomkaas
5ml vanilla

METODE
1. Voorverhit die oond tot by 180⁰C.
2. Room die suiker, olie en eiers saam.
3. Sif die meel, bakpoeier, kaneel en koeksoda saam bo-oor en roer dit by die eiermengsel in.
4. Voeg die piesangmoes, geelwortels en neute by en meng.
5. Skep die beslag in gesmeerde panne.
6. Bak dit sowat 35 minute tot gaar.
7. Laat dit effens afkoel en keer versigtig op draadrakke uit tot dit heeltemal afgekoel het.
8. Room die smeer en versiersuiker saam.
9. Roer die roomkaas en geursel by.
10. Versier koek met neute en bewaar in die koelkas.

Die Trouvrou Resepteboek is propvol oulike resepte, en is ’n moet-hê-item vir elke vrou se kombuis… en nie net vir jou troue nie! Gaan volg hulle gerus op Facebook vir meer inligting.

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA