Peuselhappies en verwelkomingsdrankies is deesdae ’n meer gewilde keuse vir troues as ’n aansitvoorgereg. Is dit swak etiket om nie met so ̓n formele geleentheid, ̓n driegangmaaltyd te bedien nie?

Dit is jou keuse hoe jy wil onthaal op jou troue en of jy peuselhappies wil bedien, so maak seker dat jy toegerus is met die feite. An-Sophie Lourens het by sjef en eienaar van Cocovanilla Foods, Lorraine Swanepoel, gaan aanklop vir raad. Sy gee ook lekker vars idees so terwyl September se bloeisels begin bot.

Lorraine weet hoe oorweldigend die beplanning van die spyseniering vir jou troue voel, maar sy sê daar is niks om oor te bekommer nie. Dit is jou keuse wat bedien gaan word.
Haar raad vir spyseniering:
* Verwelkomingsdrankies is altyd ’n goeie idee. As jy in die somer trou, hou dit lig en vars, alkoholies of nie-alkoholies. Dit gaan heerlik saam met peuselhappies.
* Indien jy graag wou, kan jy wel jou eie somermengeldrankie maak. ’n Vars en vervrissende resep is vonkelappelsap, Chenin Blanc en skywe groen appel en suurlemoen. Nog ’n lekker nie-alkoholiese resep, is vonkelsap, Sodawater, gemmerluim en lemonade asook baie ys en lekker vars mint en suurlemoen.
* As dit by kos kom, vra jouself af: As ek ’n gas by jou troue is, hoeveel kos gaan ek van die begin tot die einde van die troue eet? Is dit dalk teveel? Dit sal jou help om te bepaal hoeveel peuselhappies ensovoorts nodig is.
* As jy peuselhappies, soos ’n kaasbord of canapes bedien is dit nie nodig vir ’n swaar voorgereg soos ’n warm sop nie. Gaste kan direk aansit vir die buffet-hoofmaal.
* Tapas of ’n kaasbord is baie vullend en rek jou rande. Jy kan gerus voel dat jou gaste nie honger sal ly nie. Kaas en brood bly ’n treffer en is ’n lekker peuselhappie!
* Die idee van peuselhappies kan ook totaal op sy kop gedraai word. As jy waaghaalsig voel, hoekom nie ’n springmielietafel bedien na die seremonie nie? Jy hoef nie by soet geure alleenlik te hou nie. Jy kan selfs roomys bedien as peuselhapppies – dis ’n groot verligting veral op n warm somersdag!

Jy sal ook nie verkeerd gaan met met ’n voorgereg nie.
* As jy ’n baie formele troue verkies, is die idee van ’n aansit drie- of vyfgangmaaltyd dalk meer gepas. Moet dit dan nie oordoen met nog te veel ekstra peuselhappies nie. As jy ’n verversing wil aanbied, hou dit lig en eenvoudig, soos die Franse sê ’n amuse-bouche (mondbederfie).
* ’n Voorgereg kan ook meer as ’n smaaklike, delikante ligte maaltyd gesien word. Daar is meer kontrole oor hoeveel om te maak en daar kan meer moeite mee gedoen word omdat dit net een tipe gereg en nie verskillende peuselhappies is nie.
* Party mense gaan meer gemaklik voel om dit te geniet as hulle by ’n tafel aansit en almal eet, as om rond te staan met ’n bordjie peuselhappies, en nie almal eet noodwendig nie.
* Mense se smake en voorkeure, grille en giere kan onnodige stres veroorsaak. As ’n mens ’n eksotiese dis as voorgereg wil bedien, hou dit in gedagte. Peuselhappies bied ’n groter veskeidenheid vir as iemand se fiemies dalk op een van die borde bedien word.

Dink wat vir julle en julle gaste gaan werk, julle begroting en die tipe atmosfeer wat julle wil hê. Daar is nie reg of verkeerd nie. ’n Laaste lepeltjie raad van Lorraine: “Dink buite die tradisionele grense en druk jou stempel af op jou troue.ˮ Bon Apetit!

Dink buite die tradisionele grense en druk jou stempel af op jou troue!
Foto: Marvell Events

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA