Pers is nie gewoonlik bruide se eerste keuse wanneer dit by troukleure kom nie, maar dit kan pragtig lyk. Minette Badenhorst het meer gaan uitvind oor die inspirasie agter vandag se gestileerde sessie.

Pers is dalk ʼn kleur wat baie bruide afskrik, omdat dit so moeilik is om saam te bring om ʼn mooi en sagte prentjie te skep. Vandag wys Sophia’s en The Peachy Peony vir ons hoe om pers as kleurinspirasie te gebruik en dit steeds mooi en prettig te laat lyk. Hulle deel ook hulle visie en idees agter hierdie fotosessie met ons.

WAT WAS DIE VOORKOMS EN GEVOEL VAN HIERDIE FOTOSESSIE?
“Ons wou vir bruide wys hoe veelsydig die kleur pers kan wees. Die meeste mense dink dadelik aan lilac as jy dit as troukleur sê, maar ons wou bruide ʼn ander prentjie gee. Ons wou natuurlik met ultraviolet ʼn meer dramatiese effek hê. Ons het besluit om die sterrestelsel by die inspirasie te voeg, omdat dit bygedra het tot die dramatiese effek en ek voel dat die blomme en skryfbehoeftes net nie dieselfde wow-faktor sou gegee het daarsonder nie. Alles wat ons by die sessie ingebring het was om die pers te komplementeer, van die jellie tot die koektafel se agtergrond.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN HOEKOM HET JULLE OP DIE KOMBINASIE BESLUIT?
“Toe die Pantone-kleure vir 2018 bekend gemaak is, het almal nie soos met ander kleure gejuig en vertel hoe opgewonde hulle is nie. Ons wou toe ʼn fotosessie doen wat wys hoe pragtig ultraviolet kan wees en hoe ʼn bruid pers haar eie kan maak.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE TEMA BESLUIT EN VIR WATTER TIPE TROUE SAL DIT VANPAS WEES?
“Ons het besluit om ʼn sterrestelsel-effek in te bring met die skryfbehoeftes asook die strooimeisies se armruikers, om ook net speels te wys dat jy eintlik enige kleur en tema kan vat en dit mooi kan laat lyk en saam kan laat werk. Ons wou nie gehad het dit moet die fokus wees en soos byvoorbeeld ʼn maan en sterre bysit nie, net ʼn baie subtiele sterrestelsel-effek by die pers sit.”

WATTER KLEURE EN TEMAS, WAT TANS GEWILD IS, WAS DEEL VAN JULLE FOTOSESSIE?
Galaxy is ʼn tema wat nou baie meer te sien is en omdat ultraviolet die kleur van 2018 is, het dit net sin gemaak om hierdie twee te kombineer.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE BLOMME EN DEKOR BESLUIT?
“Ons wou soveel as moontlik pers en skakerings van pers by die tema sit en soos jy iets beplan val die res net in plek. Pers is ʼn baie donker kleur en om dit meer warm te maak, het ons ʼn fluweeltafelloper ingebring. Die swart borde en goue eetgerei het alles net mooi afgerond.”

Pers hoef jou nie af te skrik nie, maar moet jou eerder inspireer om iets vars en anders te doen op jou spesiale dag. Hierdie kleur is ook natuurlik ideaal vir wintertroues.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Vintage Yard Wedding Venue
Stilering: Sophia’s en The Peachy Peony
Blomme: Sophia’s
Dekor: Sophia’s, Catharina Carolina (Hellocchire); A&E Wedding Function Décor en Milan’s Handmade Candles
Skryfbehoeftes, konfetti, vonkelstokkies, koekversiering, koekagtergrond en stilering: The Peachy Peony
Troukoek: Sweetly Cakes
Fotograaf: Stephanie Grace Photography
Trourok: Hanrie Lues Bridal
Hare en grimering: Lilly Wolmarans Professional Hair and Make-Up
Ander: Koekies deur Louvelia’s 

Strooimeisierokke: The Maiden
Modelle: Zoné Oberholzer, Shannon Beth Abbott, Chéree Kruger en Leoné Trauernicht

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA