Saam oefen voor julle spesiale dag, sal nie net help om te verseker dat julle albei op jul beste lyk voor die kansel nie, maar kan ook help om klaar te speel met troustres. Cecile Carsten van The fitness lab verklap meer hieroor.

Dit is nou maar eenmaal so dat ’n bruid (en deesdae ook die bruidegom) goed wil lyk op haar (sy) troudag. Maar dit gaan oor meer as net haarstyl, grimering, kleur en styl van die uitrusting. Dit gaan oor hoe jy voel wanneer jy dit aan het!

Daar gaan ’n magdom beplanning in ’n troue in, wat baie spanning kan veroorsaak en jou ook oorweldig kan laat voel. Saam oefen kan nie net help om daardie druk te verlig nie, maar sal ook help om jou gesond en mooi te laat lyk op die dag en goed te laat voel! ’n Gesonde liggaam huisves mos ’n gesonde gees.

Indien julle nie reeds gereeld oefen of saam oefen nie, is die maande voor die troue die perfekte geleentheid om te begin. Soos wat julle saam aan die begin van ’n nuwe hoofstuk staan, kan julle deur saam te oefen, ’n goeie gedragspatroon skep wat waardevol kan wees vir wanneer die sewe sakke sout opdaag.

As beginners, of iemand wat ’n spesifieke doelwit het, is dit ’n goeie idee om saam met ’n persoonlike fiksheidsinstrukteur te werk wanneer julle begin oefen. Die instrukteur kan ’n program uitwerk wat aan jou behoeftes sal voldoen.

Baie instrukteurs bied deesdae troupakkette aan en het baiekeer ’n spesiale saamwerk-ooreenkoms met ander diensverskaffers soos fotograwe (of andersom) hê, en jou dan ’n spesiale afslagtarief bied as julle saam begin oefen.

As manlief nie kans sien vir oefen nie, kan jy dit ook saam met jou gevolg in ’n groepie doen. Dit verlaag die koste van die sessie, maar jy kry steeds ’n professionele en persoonlike diens.

Die nuutste gier is aanlynoefenprogramme! As julle voel julle is selfgemotiveerd en het ’n basiese kennis van hoe om reg te oefen, is hierdie beslis iets wat julle kan oorweeg. Met die voorbereiding van die troue wil jy tyd en uitgawes bespaar. Baie fiksheidsinstrukteurs bied ook aanlyn-oefenprogramme aan wat steeds vir jou doelwitte uitgewerk is, maar dit word aan jou ge-epos of jy het toegang deur middel van ’n toepassing op jou foon. Jy betaal dan net vir die program en nie vir die instrukteur se tyd nie. Jy kan oefen wanneer en waar jy wil.

Jy kan ook baie effektiewe oefenprogramme aanlyn vind, wat vir die meeste mense sal werk. Al is dit nie vir jou persoonlik uitgewerk nie, is dit dan net belangrik dat jy gereeld dieselfde tipe oefenprogram volg. Een van die grootste suksesfaktors om resultate te sien, is om konstant te wees wanneer jy oefen, stelselmatig dit meer uitdagend te maak en natuurlik om dit te geniet.

Die gewildste oefenprogramme, wat jy aanlyn sal vind, is gewoonlik hoë intensiteit intervaloefeninge. Wanneer jy oefen, is die sessies kort (20-30 minute) en die (vetverbrandende) effek duur selfs lank na die oefensessie verby is. Jy het nie baie spasie of toerusting nodig nie en jy kan dit by die huis doen.

Daar is verskillende variasies van intervaloefeninge, maar die mees algemene formaat is ’n wisselling tussen ’n oefenperiode en ’n rusperiode. Soos wat jy fikser word (en die troue nader kom), raak die oefenperiode langer en die rusperiode korter. Dit is belangrik dat jy tydens elke sessie so hard oefen soos wat jy kan.

STEL SO JOU EIE INTERVALOEFENSESSIE SAAM
* Laai ’n tydhouertoepassing af of gebruik ’n stophorlosie;
* Besluit vooraf op jou oefen- en rusperiodes:
• 20 sekondes oefen, 40 sekondes rus
• 30 sekondes oefen, 30 sekondes rus
• 40 sekondes oefen, 20 sekondes rus
* Kies oefeninge wat jou harttempo sal verhoog;
* Kies ’n paar oefeninge waarvan jy hou en besluit hoeveel keer jy dit wil herhaal gedurende die 20 tot 30 minute wat jy oefen;
* Warm goed op voor jy begin; en
* Werk teen ’n baie hoë intensiteit, maar nie ten koste van goeie tegniek nie.

Kry die groen lig van jou dokter voordat jy begin oefen. Aanlynoefeninge word op eie risiko gedoen.

Oefen is dalk nou nie iets wat vir almal lekker is nie, maar dit is soos die gesegde sê: Die huwelik is soos ’n goeie oefensessie, as dit nie ’n uitdaging is nie, doen jy dit nie reg nie! So trek daardie tekkies aan; sit julle gunsteling-musiek aan en werk aan julle eerste uitdaging saam!

Laai hier ’n voorbeeld af van ’n agt weke intervaloefenprogram.

MEER OOR DIE OEFENKENNER
Cecile het ’n meestersgraad in Sportwetenksap en werk al vir meer as tien jaar in die sport- fiksheidsbedryf. Tans woon sy in Abu Dhabi, Verenigde Arabiese Emirate, waar sy die medestigter is van The-Fitness-Lab wat, buiten vir fiksheidsklasse, ook persoonlike- en aanlynfiksheidssessies vir kliënte aanbied, as fiksheids- en gesondheidskonsultante optree en byeenkomste organiseer vir organisasies om bewustheid van welstand en fiksheid te bevorder. The fitness lab kan ook fiksheidsinstansies bystaan met aspekte soos sosiale media, netwerk- en bedryfsisteme sodat die instansie optimaal kan funksioneer.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos of volg The fitness lab op Facebook en Instagram.

Foto: Fitness Mag  

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA