’n Koekstaander kan gebruik word om verskillende snoeperye pragtig te laat vertoon op jou troudag, maar dit hoef nie jou spaarvarkie te breek nie. Ons selfdoenkenner, Christell du Preez van The Peachy Peony, wys jou hoe om jou eie een te maak!

Dit is ’n tendens om deesdae ’n verskeidenheid koeke en terte by jou troue te bedien, maar ’n koekstaander of drie kan jou nogal duur uitwerk. Daarom is dit ’n goeie idee om te weet hoe jy dit self kan maak. Volg hierdie maklike stappe en kies ’n kleur wat perfek by jou dekor en kleurskema sal pas.

WAT JY NODIG HET OM JOU KOEKSTAANDER TE MAAK:
1 Onderbord, in die kleur van jou keuse
1 Kersstaander van jou keuse
1 Blik Rust-Oleum Metallic-sproeiverf
’n Elektriese gomgeweer

WAT JY MOET DOEN:

1. Verwyder die pryse en plakkers. As daar gom vassit aan een van die elemente, maak dit eers skoon voordat jy begin spuit met jou sproeiverf.

2. Gebruik die sproeiverf van jou keuse om die onderbord en kersstaander behoorlik en eweredig te spuitverf. Wag ten minste 30 minute voordat jy die items draai om aan die ander kant te bedek. Maak seker dat al die elemente oral bedek en behoorlik droog is, voordat jy verder gaan. ’n Dubbellaag verf word aanbeveel. Maak seker dat jy dit nie in direkte sonlig laat droogword nie, anders mag die verf dalk bars. ’n Vars briesie is altyd welkom!
Wenk: Moenie met een druk op die sproeiverf se kop probeer om alles te bedek nie. Spuit eerder kort spuite oor en oor, dit sal help om verftrane te voorkom.

3. Wanneer jou kersstaander en onderbord heeltemal droog is (na sowat twee ure), kan jy die kersstaander onder die bord posisioneer. Maak seker dat dit presies in die middel is en merk waar jy dit moet vasplak. Plaas ’n egalige lagie gom aan die bokant van jou kersstaander en plaas dit op die merkies onder die bord. Laat die gom heeltemal afkoel. Bedek dit dan met ’n finale lagie spuitverf, sodat die gommerke nie wys nie, en voila – jy het ’n koekstaander!

Buiten vir die gewone koekstaander, kan jy ook ’n oulike oliebolstaander, soos die een hieronder, maak om jou gaste verder te beïndruk. In die splinternuwe uitgawe van Troukoors, wat nou op die rak is, wys ons jou hoe!

Troukoors Tydskrif  kan aanlyn bestel word deur hier te kliek. Die tydskrif is ook beskikbaar by uitgesoekte Spar-, Clicks-, Pick ’n Pay-, OK- en PNA winkels. Die tydskrif is vanaf Oktober 2017 ook te koop by Checkers en word ook in Namibië versprei. Kry joune voordat dit uitverkoop!

ONTMOET ONS SELFDOENKENNER
Christell du Preez is die eienaar van The Peachy Peony en het nog altyd ’n passie gehad daarvoor om funksies en vertrekke op interessante en moderne maniere te verfraai. Sy het al talle winkeluitstallings vir spesiale geleenthede behartig, skryfbehoeftes en dekoritems gemaak vir troues en help ook gereeld ander mense, soos bruide, om die temas van hulle funksie met die regte doelgemaakte dekor te komplementeer.

Hooffoto’s: Susan du Toit Photography
Tydskrif se voorbladfoto: RDK Photography

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA