Marnel en Ruhan wou ʼn gevoel van liefde en dankbaarheid tydens hulle troue skep. Boeresjiek en ʼn groen kleurskema, het hulle droomdag perfek gepas.
Hulle liefdesverhaal is een van deursettingsvermoë. Daar was heelwat uitdagings voor hulle heeltemal reg was om die knoop deur te haak. Tog oorwin ware liefde alles. Sy het baie oortuiging nodig gehad om hom tog ʼn kans in haar hart te gee en hy moes weer later, in die VSA, haar letterlik in sy hart in gaan ploeg. “Dit is daar wat ek besef het dat hierdie rooikopmeisie van my, vir my liewer het as wat ek myself het, waar ek besef het: Hierdie is my trouvrou!”
Hulle deel van hulle spesiaalste herinneringe op hulle liefdepaadjie met ons.
WATTER EIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE OP MEKAAR VERLIEF GERAAK HET?
Marnel: “Sy liefde vir sy familie, die respek wat hy vir dames het en die manier hoe hy altyd luister, en homself in ander se skoene sit, wanneer hy raad gee. Maar die beste van als is die manier hoe hy vir my baklei het, maak nie saak wat nie.”
Ruhan: “Definitief die respek wat sy vir haarself as vrou het asook die toegewyde liefde aan haar familie. Haar ongelooflike groot en pragtige hart, wat geen mens of ding kwaad sal aandoen nie, en natuurlik is sy beeldskoon van buite en van binne.”
HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ons het ʼn spesifieke plekkie op die strand gehad, waar niemand ons kon pla nie en waar ons altyd oor ons probleme gaan gesels het. Daardie aand, op pad na die restaurant, waar ons sy pa se verjaarsdag sou vier, wou hy eers na ons plekkie toe gaan om te praat oor iets wat hom blykbaar pla. Ek het al die pad tot daar gevra wat fout is. Hy was net doodernstig en het gesê: “Marnel ek sal nou met jou praat.” Toe ons daar kom, is al wat Ruhan doen om vir die grond te kyk en met sy tone in die sand te speel. Ek het begin stres en kon nie verstaan wat aangaan nie. Terwyl ek nog so aanhoudend vir hom vra om nou daarmee uit te kom, staan hy ewe skielik op sy knie en hou ʼn ring voor my uit wat mooier is as die een waaroor ek gedroom het! Tot vandag toe is ek nie presies seker wat hy alles op sy knieë gesê het nie. Dit het soos ʼn droom gevoel en al wat ek kon uitkry was ‘Ja!’”
HET DAAR ENIGE IETS SPESIAALS OP JULLE TROUDAG GEBEUR?
“Daar was twee. Die eerste groot oomblik was toe Ruhan my met die mooiste gedig, wat hy self geskryf het, voor die kansel verras het. Dit is waar ek die eerste traan moes sluk.
…Rooikop, rooikop, rooikop nooi,
Laat ek begin met, jy lyk ongelooflik mooi!
Dit het verander, dis nou my lewe,
op my verjaarsdag in 2007.
Met jou bloedrooi hare, het jy my verlei,
geen kans of keer, begin jy my toe vry!!
Op my koshuisbed in Stellenbosch,
het ek besluit, ek kan jou nie los.
Van boodskap tot boodskap het ek gesmeek,
maar jy my klein rooikop, wou niks van my weet.
Twee maande later, sonder geen rem,
sê ek met trots, ek het jou gewen!!
Van trane en verlange was daar genoeg,
want in Amerika wou Ruhan mos gaan ploeg.
Deur dik en dun was jy aan my sy,
meer getrou sal geen man kan kry.
Met God se Genade en Leiding van Bo,
Sal ek jou ewig liefhê, dit kan jy glo!
Sewe jaar later, staan ons nou hier,
op ons dag engel, vol liefde, pret en plesier!!
Die tweede een was toe my pa vir my ʼn brief lees van hom af, wat eindig met: “Oom Danie het lank gelede ʼn liedjie opgeneem. Hy het nie geweet dat hy dit spesiaal vir my bruinoog gedoen het nie. Alles wat ek jou wou vertel, doen oom Danie beter in die liedjie. Dit is spesiaal vir jou.” Die volgende oomblik sien ek ʼn skelmgenooide gas voor my staan, Danie Niehaus, en hy sing “Jy is vrou” vir my.”
HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Geniet elke oomblik, doen alles soos wat jy wil hê, probeer elke oomblik inneem en sê soveel as moontlik dankie. Ons is bevoorreg!
Oor besparing: Kry soveel as moontlik kwotasies sodat jy die beste prys betaal vir dit wat jy wil hê.”
DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering, drankies en verhurings: Allesverloren
Koördinering: Die bruid self
Blomme en dekor: Marilee Loubser van Aardblom
Skryfbehoeftes: Irene van der Westhuizen; 078 696 7159
Troukoek: D-lightfull Things
Foto’s: Anke Bester
Video: Gerrit Visser Videos
Musiek: Christo Koch; 083 775 8662
Vermaak: Louis van Lill; 084 997 1707 en Danie Niehaus; 082 344 9713 (Mariaan)
Trourok: André Goosen
Hare: Victoria Vikki Agenbag; 072 721 4959
Grimering: Donna Wiese
Bruidegom se uitrusting: Suit Hire Vredenburg; 022 713 5859
Vervoer: David Kopke; 082 601 1172
Artikel: Yolande van Deventer