Mishandeling, hetsy fisies of verbaal, is ’n realiteit in ons samelewing en gebeur meestal binne verhoudings of huwelike waar paartjies veronderstel is om mekaar te beskerm. Hilda Cronjé van Twee Grade van Moord deel raad oor hierdie sensitiewe onderwerp.
Met die stygende passiedoodsyfers is mishandeling in verhoudings beslis nie net meer iets waaroor mense agter bakhande skinder nie. Deesdae ken amper almal ten minste een persoon wat in só tipe verhouding is. Ons het ’n bietjie met aktrise, Hilda Cronjé, wat te sien is in die fliek Twee Grade van Moord, gaan gesels en sy deel ’n paar dinge oor die gevaartekens van mishandeling binne ’n verhouding met ons.
MISHANDELING IS ’N GROOT KRISIS IN ONS LAND, WAT SIEN JY AS DIE GEVAARTEKENS WAARNA MENSE IN WANKELRIGE VERHOUDINGS MOET OPLET?
* As jou maat jou heeltyd opcheck. (Waar jy is, saam wie, ens.)
* As hy/sy deur jou foon en e-posse gaan.
* As jy geforseer voel om jou persoonlikheid te verander om argumente te voorkom.
* As jy vernederd voel oor hoe hy/sy jou behandel voor mense.
* As jy gedurig afgekraak word.
WAT DINK JY IS DIE OPLOSSING WANNEER IEMAND BESEF DAT HY/SY DIE SLAGOFFER VAN MISHANDELING IS?
* Soek hulp – al is dit by ’n vriend/in.
* As jy in abusive omstandighede grootgeword het, kry professionele hulp.
* Wees lief genoeg vir jouself om die verhouding te beeïndig indien jou lewe op die spel geplaas word.
* Staan op vir jouself – jou maat is dalk self as kind ook mishandel, en dis moontlik al wat hy/sy ken.
* As die verhouding vir jou die moeite werd is, kan julle saam vir berading gaan.
HOE DINK JY KAN ’N MENS IEMAND HELP WAT ’N SLAGOFFER VAN MISHANDELING IS?
* Luister sonder om te veroordeel.
* Soms is tough love die enigste uitweg.
* Maak jou huis oop vir die slagoffer.
* Bou sy/haar selfbeeld op.
* Maak seker hy/sy verstaan dat hul in ’n toksiese verhouding is, en dat die behandeling wat hulle ontvang nie normaal, of hul skuld is nie.
HOEKOM DINK JY BLY MENSE IN VERHOUDINGS WAARIN MISHANDELING PLAASVIND?
“Na gedurige afkraking en minderwaardigheid begin mens glo dat jy nutteloos is en nooit weer liefde sal vind nie. Maar dis onwaar! Wees eerstens lief vir jouself en breek die siklus deur met iemand te praat daaroor.”
VERTEL ONS ’N BIETJIE MEER OOR DIE KARAKTER WAT JY IN TWEE GRADE VAN MOORD SPEEL?
“Tanya is ’n komplekse jong vrou wat liefde en pyn met mekaar verwar. Sy wil graag haar hart oopmaak en ware liefde beleef, maar sy besef dat sy hulp nodig het. Die pad na verligting is ’n lang kronkelpad, maar die lesers sal self die film moet kyk om uit te vind of Tanya wel hierdie lewensles geleer het.”
HOE VERGELYK JY MET TANYA?
“Wat my aantrek tot die karakter is hoeveel ons eintlik met mekaar verskil. Ek is gelukkig in ’n groot, liefdevolle familie grootgemaak.”
WAT IS DIE BOODSKAP/ LEWENSLES WAT DIE FLIEK VIR KYKERS WIL GEE?
“In ons samelewing is dit vreeslik maklik om mense eers te veroordeel voordat ons hul omstandighede probeer verstaan. Die liefde het vele gesigte, en elke persoon het hul eie unieke ervaring.”
HOEKOM MOET KYKERS DIE FLIEK GAAN KYK?
Ek voel dat die film ’n moet-sien is omdat dit taboe kwessies behandel. Mense praat nie graag oor dinge wat hul ongemaklik of kwesbaar maak nie, maar dit is tog deel van menswees. Twee Grade van Moord laat jou wonder wat jy vir die liefde sou doen, asook wat die ‘liefde’ vir jou sal doen. Dan is daar ook die ikoniese akteurs Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Shaleen Surtie-Richards…
WAT WAS VIR JOU DIE LEKKERSTE DEEL VAN HIERDIE FLIEK SE VERVAARDIGING?
“Toneelspel is my passie en ek het van kleins af al gedroom om teenoor Sandra te speel. Om elke dag in Tanya se skoene te loop was vrek lekker en dis amazing hoe dit ’n mens se perspektief verander!”
Twee Grade van Moord begin vandag in fliekteaters regoor die land wys, moet dit nie mis nie. Gaan kyk ook hier na die lokprent. #WatSouDieLiefdeNouDoen?
Artikel: Gina van Staden
Foto: Geneem uit die fliek