Lika Berning se 5 geheime vir 'n gelukkige huwelik 1
Trouvoete se Lika Berning is al ’n hele paar jaar getroud en het onlangs weer ’n baba ryker geword. Sy verklap hou sy en Clyde hulle huwelik gesond en gelukkig hou.

Lika Berning se 5 geheime vir 'n gelukkige huwelik 2

Sy is letterlik Suid-Afrika se ‘liefling’-aktrise en die koningin van Afrikaanse romantiese komedies, daarom is dit nie snaaks dat Like Berning ook te siene is in die splinternuwe Afrikaanse liefdesfliek, Trouvoete, wat onlangs op die grootskerm was nie.

Lika speel die rol van Magriet Gouws, Ella (die hoofkarakter, gespeel deur Erica Wessels) se kleinsus. Vir Ella lyk dit asof Magriet alles het waaroor sy nog altyd gedroom het – die perfekte man (sy staan op trou) en die perfekte werk (modeskrywer by Rooi Rose). Magriet is ook nie skaam om al haar kontakte te gebruik om seker te maak dat sy op hoogte bly van die nuutste neigings en modes nie en lyk altyd asof sy uit die blaaie van ’n glanstydskrif stap. Sy is effens selfbehep en kan nie verstaan hoekom Ella so ’n vaal muurblommetjie is, wat sukkel om liefde te vind nie. Sy probeer Ella ook help met moderaad, ensovoorts, maar tevergeefs. Magriet is beslis ’n karakter wat kykers baie gaan geniet, so moenie die fliek mis nie!

Buiten vir aktrise-wees, is Lika ook ’n vrou en die ma van twee pragtige kinders. Maar hoe kry sy dit reg, om na al hierdie jare, haar huwelik gesond en gelukkig te hou ten spyte van haar vreeslike besige skedule? Sy verklap haar vyf goue geheime…

1

Behou jou sin vir humor! Dis belangrik om te kan lag oor moeilike tye. Om werklik iemand te vergewe, stel jou vry om weer gelukkig te wees en daar is daagliks uitdagings in enige huwelik. As julle lekker saam kan lag oor die lewe, wys dit dat julle aanbeweeg het en nie in die verlede leef nie.

2

Jou verhouding met jou man kom eerste – voor kinders en familie. Maak tyd vir mekaar.

3

Wees jou man se grootse fan. Weet wat mekaar se drome is en ondersteun mekaar daarin.

4

Deel julle daaglikse lewe sonder om als te wil beheer. Ek is dankbaar wanneer my man skottelgoedwas, al doen ek dit vinniger en beter as hy!

5

Gee mekaar spasie. Gun mekaar tyd op julle eie, of saam met vriende… Behou individualiteit binne julle verhouding. Wees lief sonder om vas te hou aan jou idee van hoe jou man moet wees…

Gaan loer of Magriet dieselfde beginsels het vir haar toekomstige huwelik in Trouvoete wat binnekort op DVD beskikbaar sal wees. Troukoors is ook in die fliek te sien.

Foto’s: Verskaf

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA