Liefde het moeiteloos gekom vir hierdie paartjie… en hulle troudag het voorgebou op hierdie pragtige, maar gemaklike trant. An-Sophie Lourens deel hulle verhaal.
Johan en Chantelle du Toit se liefde was van dag een af moeiteloos. Van ’n gemaklike eerste ontmoeting tot hulle troue wat sonder drama en tierlangtyntjies afgespeel het. Dis onvoorwaardelike liefde.
Hulle liefde is in ’n moderne, aardse styl met vuilpienk, salm en lila gevier. Chantelle deel meer oor hulle spesiale dag.
HOE HET JULLE LIEFDE BEGIN EN WANNEER HET JULLE BESEF JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR?
“Ons was albei op Tinder vir ’n grap. Ons het vinnig besef ons deel dieselfde passie vir avonture en ons albei is ambisieus. Die eerste dag wat ons mekaar ontmoet het in ’n Mugg and Bean het ons mekaar met ’n vriendelike druk gegroet. Die gevoel wat ek gekry het is onbeskryflik.”
HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU ?
“Ons het op ’n roadtrip Port Elizabeth toe gegaan en een aand na aandete op die strand gaan stap. Hy het vreemd begin optree soos wat sy senuwees begin inskop het en ek het begin vermoed iets mag dalk gebeur. Toe ons terug is by die gastehuis, het hy letterlik neergeval op sy knie en my gevra om te trou. Natuurlik het ek ja gesê! Ek was seker van ons liefde.”
HOE LANK WAS JULLE VERLOOF? VERTEL ONS OOK ’N BIETJIE MEER VAN JULLE BEPLANNING VIR DIE TROUDAG
“Ons was 10 maande verloof. Ons moes heel eerste ’n datum kry. Aanvanklik het ons gedink ons gaan ’n jaar of twee verloof wees en dan trou. Ons het een aand net gedink waarvoor wag ons en sommer binne twee maande getrou. Die venue het vir ons ’n moksessie gereël, waar hulle ’n tafel gedek het om ’n vertrekpunt te kry, ek het niks idees aan hulle gestuur nie. Toe ek instap het ek dadelik geweet dit is wat ek wil hê. Ek het hier en daar iets verander.”
BESKRYF VIR ONS JOU TROUDAG, DIE KLEURE, TEMA EN DIE TIPE ATMOSFEER.
“Die kleurskema was ’n vuilpienk, lila en salm, met skakerings van aardse kleure. Die troue was in September so ek wou alles perfek gehad het, ongeag van die weer. Dit was ’n gemaklike troue met ’n aardse tema, maar tog nogsteeds modern. Ek hou nie van te veel tierlangtyntjies nie. Die ding dat ’n bruid moet laat wees, was glad nie waar in ons geval nie! Ek was heeltemal op tyd, soveel so dat een van ons gaste vir die drywer moes sê om ’n langer roete te neem. My senuwees het begin inskop die oomblik toe ek in die kapel in stap.”
WAT HET AGTER DIE SKERMS GEBEUR?
“Ek het besef toe ek my rok aanhet dat my onderklere deurskyn. My ma het vinnig probeer om ’n plan te maak. Sy kom toe terug na my toe met ’n menskleur Jockey en sê sy het my ietsie “borrowed” gekry, te danke aan my sussie!”
HET ENIGIETS BESONDERS OP JULLE TROUDAG GEBEUR ?
“My pa het nooit geweet hoe my rok lyk nie, totdat ek by die trappe afgestap gekom het. Sy gesigsuitdrukking en duidelike liefde was prysloos!”
HET JY ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE ?
• Moenie oordink nie.
• Moenie dat iemand jou in iets dwing wat jy nie wil hê nie.
• Jou begroting mag dalk vinnig meer raak. Probeer om jou uitnodigings en dekor self te maak.
• Vat elke dag soos dit kom.
• As iets nie is soos wat jy wou gehad het nie, moenie bekommerd wees nie, jou gaste weet nie hoe dit moes gelyk het nie. Op die ou einde van die dag, is jul daar om jul liefde te vier.
Behalwe vir Chantelle se bietjie te donker onderklere was hulle dag perfek, sonder drama en slegs gelukkige trane. Alhoewel hulle reëligs baie vinnig gemaak moes word, het alles goed afgeloop. Hulle liefdesverhaal het onverwags begin, maar word aanhou skryf in liefde en geluk.
DIENSVERSKAFFERS
Venue, dekor, blomme, spyseniering: Skoongezight
Troukoek: Cimmy De Bod
Fotograaf: Bianca Smit Photography
Videograaf: RTM Productions
Drankies: Graham Beck
Musiek: Errol van Tonder
Trourok: Lorraine Franken
Hare en grimering: Amalia Grobbelaar en Amorica Monteiro @ Touch Of Color Hair and Beauty
Bruidegom se uitrusting: Mr Suit Hire
Vervoer: Familielid