Liefde het al die uitdagings op Schalk en Marla se verhoudingspad oorwin. Minette Badenhorst vertel meer oor die paartjie se pad kansel toe.

 

Na ʼn tragiese gebeurtenis in 2014, kort voor hulle oorsponklike troudatum, het ʼn wonderwerk en ʼn bondeltjie liefde hulle hartseer verhaal verander in een van liefde wat alles oorwin.

Hulle het mekaar ontmoet by ʼn rugbywedstryd, maar wie sou kon raai dat hulle saam sou opeindig, nadat Schalk haar met ʼn nat geswete rugbytrui gegooi het. Maar die liefde vind jou soms op die mees onverwagse plekke…

WATTER EIENSKAPPE HET JULLE LIEFDE VIR MEKAAR LAAT BLOM?
Marla: “Daar is ʼn paar goed wat my aangetrek het na Schalk. Sy sterk persoonlikheid, sy ambisie, sy klein hartjie en natuurlik sy voorkoms.”
Schalk: “Haar voorkoms het my aangetrek tot haar en haar persoonlikheid het my laat bly.”

HOE HET HY DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Dit was op Valentynsdag, by sy huis. Hy het ʼn mooi tafel gedek met ʼn pragtige uitsig. Ek het niks vermoed nie, dit was ʼn groot verrassing. Hy het vir ons baie lekker kos gemaak en toe hy opstaan om die nagereg te gaan haal, het hy agter my stoel kom kniel. Ek was so geskok dat ek tot vandag toe nie sy woorde kan onthou nie.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE DAG VAN LIEFDE?
“Ons het begin deur ʼn venue te soek en het Imperfect Perfection al vir jare in die oog gehad. Ons het ingestap en onmiddellik daarvan gehou en sommer daardie dag ʼn datum vasgemaak. Dit was die eerste en enigste venue waarna ons gaan kyk het.

Ek het besluit op sagte kleure soos perske en pepermentgroen om te pas by die romantiese gevoel wat ek wou hê. Ek en Schalk is albei closet romantics en was nie lus vir die tipiese tafelplasings en tafelnommers nie. Ons het daarom besluit om hout diertjies te gebruik om so tikkie plaasmeisie in te bring. Die dag toe ek amptelik weer begin troue beplan het, het ek by Lené en Hester (Imperfect Perfection en Love & Grace) ingestap en met ʼn paar insette van hulle het ons binne ʼn uur alles uitgesorteer.”

WAT WAS ʼN SPESIALE OOMBLIK OP JULLE DAG VAN LIEFDE?
“Ek was die hele dag kalm totdat ek in die kar geklim het om boskerk toe te ry. Ek kon voel daar is ʼn knop in my keel. Toe ek met die paadjie afgestap kom en die liedjies hoor wat ek spesifiek vir daardie oomblik gekies het, vir die woorde en wat dit vir my en Schalk beteken, het ek hard geveg om die trane terug te hou. My sluier het aan die boom langs die paadjie vasgehak en dit het my daardie ekstra paar sekondes gegee om die trane weg te sluk. Die liedjies was Ellie Golding se Keep Falling For You en Christina Perri se 1000 Years. Ek het gevoel dat die woorde gepas was vir dit wat ons al saam deur is, en het meer vir ons beteken as die tradisionele troumars.”

WATTER RAAD SAL JY DEEL MET TOEKOMSTIGE BRUIDE?
“Moenie goed onnodig kompliseer nie. Laat jou dag se reëlings oor aan iemand wat in dekor spesialiseer en die troubeplanner van die venue. Hulle is daar om jou te help op jou dag van liefde.”

Die liefde het vir Schalk en Marla ʼn tweede kans gegee om hulle perfekte troudag te hê. Met die hulp van die oulike koördineerders by Imperfect Perfection, het hulle uiteindelik hulle gelukkige en romantiese dag gehad.

DIENSVERSKAFFERS
Venue, spyseniering, troukoek en koördinering: Imperfect Perfection
Blomme en dekor: Love & Grace
Skryfbehoeftes en foto’s: Anne Grace Photography
Fotohokkie: Selfie Box
Musiek: Nico Myburg
Trourok: Bridal Wardrobe, Lynnwood Bridge
Bruidegom se uitrusting: Markham
Grimering: Louise Volschenk van Halouw Make-up
Hare: Anzel, bruid se haarkapper van graad 10 af
Vervoer: Bruid se oom en broer se Vintage Porsches

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA