’n Langafstandverhouding was vir vyf jaar Antonie en Rozelle se realiteit. An-Sophie Lourens vertel meer oor die dag waarop hulle lewens saamgebind is.

Antonie en Rozelle het na vyf jaar se langsafstandverhouding die knoop deur gehaak. Dit was die begin van ʼn oneindige pad vir altyd saam. Die dekor en atmosfeer wat hulle persoonlikhede saam so mooi weerspieël het vir die beste dag in hul lewens gesorg. Rozelle het ons meer vertel oor hulle avontuur tot ʼn ewigheid saam.

HOE HET JULLE LANGAFSTANDVERHOUDING BEGIN?
“Ons het ontmoet by ʼn vriendin se 21ste verjaarsdagpartytjie. Antonie het my kom vra om te dans. Ons het heel aand lekker gesels en na dit kontak gehou.”

WATTER KARAKTEREIENSKAPPE HET GEMAAK DAT JULLE VERLIEF RAAK OP MEKAAR?
“Ek was mal oor sy opregtheid en respek, asook sy mooi hart. Hy sê my borrelende persoonlikheid, my blou oë en my mooi hart was vir hom die mooiste.”

WANNEER HET JULLE GEWEET JULLE IS BEDOEL VIR MEKAAR TEN SPYTE VAN JULLE LANGAFSTANDVERHOUDING?
“Hy het reeds by die partytjie vir sy vriend gesê: ‘Ek gaan met haar trou.’ Ek het ʼn maand voordat ek hom ontmoet het, gebid en gesê ek is reg om my troumaat te ontmoet. Na ons eerste afspraak het ek geweet dat ek ʼn lang pad met hom sal kan stap.”

HOE HET HY JOU GEVRA OM TE TROU?
“Ek is ʼn Graad 1-juffrou en my klas se maatjies is so spesiaal vir my. Nadat my klas by LO was, het een seuntjie ingekom met ʼn groot boks met rooi lint om. Nog ses kinders met bokse het kort daarna ingekom. In elke boks was daar ʼn ballon met linte in wat ek moes bars, waarop gestaan het: ‘Juffrou Rozelle sal jy met oom Antonie trou?’ Hy het by die klas ingestap gekom met ʼn groot bos rose en trane in sy oë, op sy knieë gegaan en my gevra om met hom te trou. Uiteindelik was ons langafstandverhouding iets van die verlede.”

HOE LANK WAS JULLE VERLOOF?
“Ons was net vier maande verloof. Hy het Potch toe verhuis na hy ʼn werk as dosent aanvaar het. Ek het geweet dis die paadjie wat ons moet stap en wou toe so gou as moontlik trou om bymekaar te wees, want ons langafstandverhouding het lank genoeg aangehou.”

VERTEL ONS MEER VAN DIE BEPLANNING, DEKOR EN KLEURSKEMA VAN JULLE TROUE?
“Die meeste van ons keuses was om by die venue te pas en by ons. Ons het eers al die groot goed beplan en daarna op die detail gefokus. Ons was gelukkig om by ʼn baie mooi venue te trou wat min nodig het om mooi te lyk. Ek wou graag ʼn klassieke, tydlose gevoel gehad het wat nog oor 50 jaar mooi lyk. Ek het dus besluit op neutrale kleure soos groen en pienk met proteas en woestynrosies. Ons venue het baie mooi houttafels en stoele gehad wat oorgetrek was met lace runners.”

BESKRYF JULLR TROUDAG EN DIE ATMOSFEER WOU JULLE SKEP?
“Ons wou die dag saam met ons gaste en familie geniet het en het ʼn gemaklike en ontspanne gevoel probeer skep. Tog wou ons dit nie alles aframmel nie en het mooi gedink oor ons heildronke en eerste dans.”

HET DAAR IETS SPESIAALS GEBEUR OP DIE DAG?
“Ek het vir Antonie my beloftes opgeneem wat gespeel het in die agtergrond toe die bruidsmeisies ingestap het. Dit was vir hom baie spesiaal en het hom baie emosioneel gemaak. Net voor ons ingestap het by die onthaal het die seremoniemeester gesê hulle moet asb die belangrikste mense op die troue verwelkom. ʼn Lekker liedjie het gespeel en al ons kelners het ingestap. Die mense het lekker gelag.”

WATTER RAAD HET JY VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
• Geniet dit net!
• Sny jou gastelys.
• Maak ʼn lysie en begin dit afmerk.
• “Own the isle” as jy instap in die kerk.
• Geniet ook die goed wat verkeerd loop.
• Kies kleure en dekor wat by julle pas.

HET JULLE ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS GEHAD?
“Ons het vir ons gaste persoonlike melktertjies gemaak en dit in mooi botteltjies gegooi met plakkers op vir dankiegeskenke.”

’n Langafstandverhouding mag miskien ’n uitdaging wees, maar dit beteken nie dat dit nie op iets pragtig kan uitloop soos hierdie mooi verhaal nie.

DIENSVERSKAFFERS
Venue en drankies, dekor: Cradle Valley Guest Lodge
Koördineerder, blomme: Lauren van der Merwe
Spyseniering: Rynard van der Merwe
Skryfbehoeftes: Uitnodiging/kerkprogram gemaak deur bruid
Troukoek: Annie’s Baked Goodies
Fotograaf: Celeste Cilliers Photography
Videograaf: ABS Produksies
Musiek: Essential Music
Trourok: Whimsical Bridal
Hare: Salon Personality Mandi
Grimering: EA Acadamy MUD Westrand
Bruidegom se uitrusting: Woolworths
Hout lapelle/hangers/dankiesê-coasters/houthoepels vir fotohokkie: Made of Wood
Blomme vir fotohokkie: I-Do Creative Concepts
Japonne en grimeersakkies: Blusheeq Fashion Design

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA