Na maande se beplanning breek jou troudag aan en dis tyd om die vrugte te pluk van jou harde werk. Ongelukkig verloop alles nie altyd volgens plan nie, so wees voorbereid…

Volgens Veronique Joseph moet elke bruid ’n krisiskissie byderhand hê, sodat sy die klein jakkelsies kan oorkom en kan lag oor elke struikelblok wat haar troudag mag bring.

Sy verklap watter items so ’n krisiskissie moet bevat, wat jy onder die bekwame toesig van jou strooimeisie kan los om jou stresvlakke in toom te hou.

NAALDWERKSTEL – ’n Baie handige item vir as een van die strooimeisies se rokke haak of die bruid se rok probleme gee. Moenie die klein detail vergeet nie, want dit mag dalk net op jou troudag probleme veroorsaak.

BOTTEL WATER EN PEUSELHAPPIES – Met al die opwinding van die dag, mag die bruid of bruidegom dalk nalaat om te eet… en flou wees teen die tyd wat die foto’s geneem moet word. Voorkom dat een of albei van julle omkap deur water en peuselhappies in jou kissie te hê.

HAARKNIPPIES – Op jou troudag, gaan baie kiekies geneem word en elke haar moet in plek wees. Maak altyd seker daar is knippies byderhand om elke klein haartjie, prentjiemooi te hou. Foto’s is lewenslank en daarom moet jy op jou beste lyk.

SNESIES – Ons almal weet hoe belangrik die is. Trane gaan gedeel word en snesies gaan altyd handig wees op enige troudag… dalk vir die bruidegom ook.

ID, MEDIESE KAART, PAAR LOS NOTE EN SELFOON – Wees altyd naby jou identiteitsdokumente, jy weet nooit wanneer jy dit gaan nodig hê nie. Wees altyd voorberei vir enigiets, want jy weet nooit wat mag skeefloop…  of waarheen jy dalk ‘ontvoer’ kan word nie.

TAMPONS – Dis nie noodwendig net vir jou nie, maar jy kan self paar vriendinne om jou red as die rooimaand vir hulle kom kuier het. Stres is ’n snaakse monster en kan jou soms onkant betrap.

BABAPOEIER – Op ’n warm somersdag is hierdie jou oorlewingspoeier om sweet uit foto’s te verwyder. Maak seker jy ruik lekker en hou jou onderarms en gesig droog en vars.

KLEIN NOODHULPKISSIE – Ongelukke gebeur… selfs op jou troudag. Maak seker dat jy die nodige byderhand het, net vir ingeval.

KLEIN BOTTEL WHISKY – Want jy mag dalk net ’n skoot nodigkry wanneer die senuwees knaag.

GRIMERINGVERWYDERAAR – Dis altyd handig wanneer jy grimering moet regmaak of selfs na die aand te moeg is om jou gesig te was. Jy wil beslis nie met gesmeerde grimering wakker word op jou eerste dag as ’n mevrou nie!

Daar volg is seker nog baie nodige items, maar hierdie paartjies sal beslis jou dag minder stresvol maak. Die dae van onbeplande stres is verby! Bruide as jou krisiskissie reg is, kan jy jou troudag met selfvetroue aanpak!

Foto: Hitched

 

 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA