Kombuistee-speletjies kan die atmosfeer op die dag verlig. Christell du Preez van The Peachy Peony gee ’n paar oulike idees waaroor die gaste sal mal wees.
Kombuistee-speletjies is die beste manier om ’n vrolike atmosfeer by die kombuistee te skep en ’n lekker manier om almal betrokke te kry. Die handsakspeletjie is al holruggery en jy weet, deur net te kyk na wat vrouens in hulle handsakke sit, dat hulle verwag het om hierdie speletjie te speel. Ons het ’n bietjie gaan kyk na nuwe speletjies, wat nie so algemeen is nie.
KOUE VOETE
Hierdie is een van die oulikste kombuistee-speletjies! Maak groepies van vyf en vul dan vyf groot plastiekbakke met yskoue water en ’n paar ysblokkies. Gooi vyf groot staal- of plastiekringe daarin. Elkeen van die span moet probeer om ’n ring met hulle voete uit te haal. Die span wat eerste al vyf hulle ringe kon uithaal, wen.
GRIMEER DIE BRUID
Druk foto’s van die bruid sonder grimering en gee vir elke deelnemer grimering of inkleurkryte en laat hulle die bruid vir haar groot dag optooi. Die bruid moet dan kies watter gas se probeerslag die mooiste is. Om dit ekstra pret te maak, gee vir die lelikste een ook ’n prys (soos die Wooden Mic op Idols).
SNORRE
Druk ’n groot A3-foto van die bruidegom en laat elke deelnemer, geblinddoek, probeer om vir hom ’n snor op te sit.
DIE PRYS IS REG
Hierdie is een van daardie kombuistee-speletjies met ’n dubbele doel. Koop ’n paar items (verkieslik items wat jy weet die bruid graag wil hê of sal kan gebruik), sit dit voor die gaste en laat elkeen toe om dit te rangskik – van die goedkoopste tot die duurste geskenk.
DIE KOEËL IS DEUR DIE KERK
Gee vir elke gas ’n kryt en wit papier. Hulle moet dan met hulle monde probeer om ’n kerk te teken. Die mooiste een wen.
FILM OF LIEDJIE
Gee vir elke dame die kans om ’n film of liedjie op ’n papier te skryf wat die paartjie die beste uitbeeld. Laat almal dan hardop hulle keuses sê en die een waaroor almal die meeste lag is gewoonlik die naaste aan die waarheid.
ONTHOU-DIE-DATUM
Hierdie is een van daardie kombuistee-speletjies wat vooraf snuffel vereis. Vra voor die kombuistee vir die bruid en bruidegom vir belangrike datums (eerste soen, eerste afspraak ensovoorts). Gee vir die gaste die datums en vra hulle om te raai wat op daardie spesifieke datums gebeur het. Die een met die meeste kolskote wen.
DESPERATE HUISVROUE
Maak ’n lys van bekende paartjies. Skryf die name op papiertjies neer, vou dit toe en gooi dit in ’n boks. Laat elke deelnemer ’n papiertjie kies. Hulle moet dan die vrou uitbeeld en die ander moet raai wie is die man.
KOUSBAND
Wat sal kombuistee-speletjies nou wees sonder iets trouverwant? Koop ’n paar goedkoop kousbande en verf ’n wynbottel met ’n mooi kleur. Laat elke speler toe om te kyk hoeveel kousbande hulle om die nek van die bottel kan gooi.
RING AAN DIE VINGER
Koop sagte lekkers wat soos ’n ring lyk en gooi dit in ’n bak. Gee vir elke speler ’n sosatiestokkie. Hulle moet dan met hulle monde probeer om soveel as moontlik ‘ringe’ op hulle sosatiestokkie te kry.
Kombuistee-speletjies kan pret wees, maar moenie te veel speletjies speel nie. Gewoonlik is drie meer as genoeg – een aan die begin om almal gemaklik te laat voel, een in die middel om almal weer wakker te kry en een aan die einde om die kombuistee af te sluit.
Foto: Magical Printable
——————————————————————————————————————————————————————
Die laaste eksemplare van Troukoors se Spesiale Uitgawe is te koop by Pick ‘n Pay, Checkers en sekere Clicks en Spar winkels.
Kry joune sommer vandag nog, of bestel dit saam met Die Trouboek deur hier te kliek: https://www.troukoors.co.za/bestel-aanlyn/