kinders
Kinders kan pasgetroude paartjies se lewe nogal kompliseer, omdat trou reeds ’n groot aanpassings is en swaar trek onder ekstra bagasie. Hoe gemaak wanneer ‘jou kinders’ en ‘my kinders’ nou ‘ons kinders’ word? Gina van Staden gee raad.

 Spaar R44.90 as jy Die Trouboek & Troukoors tydskrif nou bestel! Kliek hier vir meer inligting en ons bankbesonderhede.

Bestel_Troukoors
———————————————————————————————–

Hoe hanteer jy die pasgetroude lewe wanneer een of albei van julle kinders het? Dis deesdae ’n algemene verskynsel. Ons kyk na praktiese maniere hoe om die beste van hierdie uitdagende situasie te maak:

STEL DIE KINDERS GERUS
Hulle word nie vervang met iemand anders nie – jy wil bloot ’n maat hê om die lewe mee te deel. As jou kinders al ’n bietjie groter is, kan jy aan hulle verduidelik dat daar dele van jou is wat net vervul kan word deur ’n volwasse man/vrou se liefde. Kleintjies aanvaar ’n nuwe lewensmaat makliker. Solank die aandag wat jy normaalweg aan hulle bestee het nie verminder nie, kan julle almal ’n manier vind om saam te leef. As jou bruidegom die een met die kinders is, wys vir hulle dat jy nie hulle ma probeer vervang nie, maar net hulle pa wil gelukkig maak.

WEES GEDULDIG
Oor die algemeen pas die jongspan makliker aan, maar in sommige gevalle kan jy te doen kry met ’n Dennis the Menace-tipe kind. Probeer verstaan dat dit ’n groot verandering in hul lewens is, en verwag maar dat daar ’n paar emosionele skommelinge gaan wees. Volhard net deur hulle met liefde en aanvaarding te behandel. Kinders is slimmer as wat ’n mens dink, en hulle sal wel met tyd sien dat jy nie die vyand is nie. In uitsonderlike gevalle kan julle altyd vir gesinsberading gaan.

WANNEER DAAR ’N EKS BETROKKE IS
Oor hierdie onderwerp is daar al talle boeke geskryf, maar die oplossing bly tog eenvoudig. Waar moontlik, probeer ’n goeie verstandhouding bou met jou aanstaande se eks, of hy met joune. As julle ’n afspraak moet reël om te bespreek wie watter rol gaan speel, dan doen julle dit. In gevalle waar daar nog rou emosie is, is dit ’n goeie idee om ’n middelaar in plek te sit. Almal dra die kinders se belange op die hart, en nie een van julle moet ooit sleg praat van die ander voor die kinders nie.

JULLE/HULLE IS ’N PAKKET
Die belangrikste is om te onthou dat julle nie net met mekaar trou nie, maar met die kinders ook. Hulle sal vir altyd ’n deel van julle lewens wees, en julle sal moet besluit of julle daarmee kan saamlewe tot die dood julle skei.

Daar is soveel dinge om in ag te neem wanneer daar bestaande kinders in ’n nuwe huwelik betrokke is, maar solank die kinders veilig voel, kan julle dit maak werk.

Foto: Favim

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA