Maak seker jou skoonma se aandag is op die kos, eerder as op jou, wanneer sy vir die eerste keer in julle nuwe nessie kom kuier met hierdie lekker kerriegereg.
Jou skoonma se eerste kuier by julle nuwe nessie kan nogal vreesaanjaend wees. Daarom is dit ’n goeie idee om seker te maak dat die kos ten minste lekker is en die aandag so bietjie van julle af te lei. Met hierdie kerriehoenderresep uit die Kokkedoor 2-kookboek deur Errieda du Toit kan jy nie verkeerd gaan nie. Probeer dit.
JAN DRAAD SE HOENDERKERRIEPOT
BESTANDDELE
50ml olie
30ml kerriepoeier
30ml borrie
6 kardemompeule
1 pypkaneel
2 middelslag-uie, gekap
1 knoffelhuisie, fyngekap
3ml gerasperde vars gemmer
1kg hoenderstukke
Water
4 middelslag-aartappels, geskil en in stukke gesny
Sout en peper
Vars koljanderblare vir garnering
METODE
■ Verhit die olie en voeg die droë speserye, uie, knoffel en gemmer daarby. Roerbraai tot die uie sag is.
■ Voeg die hoender by en braai tot dit goed met die speserymengsel bedek is.
■ Voeg net genoeg water by om die hoender halfpad te bedek en laat prut tot die vleis net begin sag word.
■ Voeg die aartappels by en geur goed met sout en peper. Laat oor lae hitte prut tot die aartappels sag en die hoender gaar is.
■ Garneer met koljander en sit voor saam met basmatirys.
Dit is ook ’n lekker gereg vir ’n weeksaand omdat dit nie baie tyd vat of ingewikkeld is om te maak nie.
Die resep is geneem uit Kokkedoor 2: Versamelresepte deur Errieda du Toit. Kliek op Human & Rousseau se webblad vir meer inligting oor hierdie liplekker boek.