Troues is stresvol en dit is maklik om in ’n onplesierige Bridezilla te verander en verhoudings permanent te beskadig… as jy nie versigtig is nie. Hier is ’n paar dinge om in gedagte te hou.
In hierdie lokprent van Trouvoete, die Afrikaanse fliek wat op 18 Desember 2015 landswyd begin wys, verklaar die bruid – Magriet (Lika Berning) heel histeries dat sy nie ’n Brizezilla is nie… maar duidelik lyk dit asof almal wil laat spaander en haar los om die hele troue self by te reël en by te woon. Jy hoef nie so ’n bruid te wees nie… Hier is ’n paar wenke om seker te maak dat almal in jou lewe – na jou troue – nog wil deel bly van jou lewe.
DIT GAAN NIE NET OOR JOU NIE
Ja dit is julle spesiale dag, maar saam met julle kom ook mense wat vir julle omgee en graag wil help om die dag spesiaal te maak. Twee families word een, en dit is nie net stresvol nie… maar ook vir baie partye nogal skrikwekkend en lewensveranderend. Behandel dus die mense wat vir julle lief is met respek en wees net so sensitief teenoor hulle gevoelens as wat hy verwag hulle teenoor joune moet wees. Niemand hoef oor te vat of hulle smaak op jou af te dwing nie… jy kan ferm wees, maar dit gaan alles oor hoe jy dit benader. Respek kweek respek… en jy wil tog nie dat trou-histerie permanente skade aanrig aan lewenslange verhoudings nie.
LUISTER NA RAAD
Mense gaan altyd opinies hê, of jy nou daarvan hou of nie. Jy hoef dit nie te volg nie, maar jy kan ten minste luister en daarna op ’n taktvolle manier verduidelik hoekom dit nie vir julle gaan werk nie. Die positiewe kant hiervan is dat iemand dalk net ’n briljante idee mag hê… wat jou mooiste dag nog meer onvergeetlik kan maak… net omdat jy geduld aan die dag gelê het.
VERMY WOEDEUITBARSTINGS
Ja, om te trou en alles te reël is stresvol… vir almal wat betrokke is. Dit is ook gewoonlik die mense wat die naaste is aan jou wat betrokke is. Moenie jou tyd en energie mors op woedeuitbarstings waaroor jy later gaan skaamkry nie. Dink voor jy praat en tel tot tien voordat jy van iemand verskil of jou ontsteltenis te kenne gee. Die dag gaan oor julle liefde vir mekaar, so die kleur van die tafeldoeke en die tipe troukoek is bysake en dis nie die moeite werd om verhoudings te kelder nie… veral nie julle s’n nie.
ONTHOU VAN DIE BRUIDEGOM
Moenie dat troustres en –beplanning julle uitmekaar dryf nie. Maak tyd vir gesels (oor ander dinge as die troue) en om saam tyd te spandeer en pret te hê. Moenie vergeet waaroor hierdie julle gedoente eintlik gaan nie.
GEE BEHEER OP EN LAAT MENSE TOE OM JOU TE HELP
Jy kan nie alles doen nie – en jy moet ook nie, want dan gaan jy dit glad nie geniet nie en net stres. Kies mense wat jy vetrou om jou te help om seker te maak dat alles vlot verloop en onttrek jouself ten minste drie dae voor die troue van laasteminuut krisisse en goed om te doen. Laat dit oor in iemand se bekwame hande en begin ontspan sodat jy jou dag kan geniet. Moet ook nie probeer om jou eie kombuistee te beplan en beheer te hê oor alles nie – dit is hoekom jy ’n gevolg het.
SÊ DANKIE
Moenie vergeet om jou waardering te wys vir die mense wat baie gehelp het nie. Sonder hulle – al het hulle jou soms frustreer – sou alles dalk baie meer chaoties gewees het. Sê ook jammer as jy dalk nou en dan nie jou stres kom beheer nie. Verhoudings is belangrik… hierdie mense gaan nog lank deel wees van julle lewens.
WEES GELDSLIM
Trou is duur… en dit kom net voordat julle jul nuwe lewe saam gaan begin. Dit is stresvol genoeg, so probeer om nie nog ekstra finansiële las ook op julle skouers te laai na die tyd nie. Bly binne julle begroting en moenie oor geld stry nie. Dit kan lei tot onnodige en baie groot konflik.
WEES REALISTIES
Almal van ons het ’n prentjie oor ons droomtroue… maar alles is nie altyd moontlik nie en dinge loop skeef. Dit is hoe dit is. Aanvaar dit. Op die ou einde van die dag trou jy met die liefde van jou lewe en moet jy jou seëninge tel en die dag geniet. Jy trou net een keer!
VIND MANIERE OM TE ONTLAAI
Dit is belangrik om gereeld van opgehoopte stres ontslae te raak, sodat jy nie ontplof en perform soos die bruid in die video nie. Soek aktiwiteite wat jou help ontspan… oefen, gaan stap, ontspan in ’n warm bad, besoek ’n spa vir ’n lekker massering, lees ’n lekker boek… doen enigiets om jou gedagtes weg van die troue, en op jouself, te fokus. Maak ook seker dat jy op die dag van die troue kalm is… jy kan niks doen as iets skeefloop nie en gewoonlik is dit net jy wat weet, so ontspan en moenie dat dit jou ontstel nie. Geniet net die dag.
Jy hoef nie Superwoman te wees en alles die heeltyd bymekaar te hou nie, maar jy hoef ook nie die Bridezilla van die dekade te wees nie. Ontspan, geniet die troubeplanning en die troue en bou aan ’n lewe saam met jou droomman.
Foto: Best Bride 101