’n Bietjie inspirasie kan jou help om ’n pragtige troue te skep. Minette Badenhorst het meer gaan uitvind oor vandag se gestileerde fotosessie.

Vandag se gestileerde sessie het baie selfdoen-elemente wat bruide kan gebruik op hulle groot dag. Die kleurkombinasies van pienke en sagte blou is perfek vir daardie sprokiesgevoel. Sonja Oosthuizen van Sophia’s vertel ons meer van die inspirasie en visie agter dié mooi foto’s.

WATTER VOORKOMS EN GEVOEL WOU JULLE SKEP?
Sophia’s: “Ons inspirasie vir hierdie gestileerde sessie is ʼn moderne sprokiesverhaal wat geskik sal wees vir enige bruid wat graag soos ʼn moderne prinses op haar spesiale dag wil lyk en voel. Ons wou graag ʼn moderne, romantiese en sagte sprokiesagtige atmosfeer skep en Duck Point, ons pragtige venue vir die dag, het perfek ingepas by hierdie atmosfeer. Duck Point is ʼn moderne venue wat met ʼn verskeidenheid teksturele elemente afgerond is.”

Jolache Couture: “Die voorkoms en gevoel van die sessie was baie lig en vars, met pragtige pastelpienke. Ek wou gehad het dat die rok byvoeg tot hierdie kombinasie. Ons het gegaan met ʼn vol kantrok, wat nie te veel kralewerk het nie, maar wat pragtige kanttegnieke op die bolyf en rugkant het om ʼn pragtige modern gevoel te gee.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN HOEKOM HET JULLE OP DIE KOMBINASIE BESLUIT?
Sophia’s: “Wanneer ek dink aan prinsesse, romanse en sprokies is sagte, blospienke die eerste kleure wat in my gedagtes opkom. Ek het besluit om die sagte, blospienke met titsels helderpienk en poeierblou te kombineer. Glas, kristal en roosgoud het die prentjie mooi afgerond.”

Jolache Couture: “Ek het besluit om die rok in ʼn off-white kleur te doen. Dit skep ʼn baie skoon en skerp voorkoms, maar het steeds ʼn sagteheid daaraan wat pragtig lyk saam met die bruid se velkleur.”

VIR WATTER TIPE TROU SAL HIERDIE STUKKIE INSPIRASIE GESKIK WEES?
Sophia’s: “Die meng van sagte, pastelkleure met helderder of donkerder kleure is tans hoogmode. Alhoewel die gebruik van roosgoud as ʼn metaalkleur reeds ʼn geruime tyd hoogty vier, bly dit ʼn gewilde keuse by bruide. Die gebruik van glas en kristal het my herinner aan Aspoestertjie se glasskoentjie wat daartoe gelei het dat sy haar prins gevind het.”
Met die gebruik van die glas, kristal en roosgoud sal hierdie tema geskik wees vir ʼn romantiese sprokiesagtige aandtroue, dink net, honderde stringe feëtjieliggies en kerse wat flikker. Hierdie tema kan ook aangepas word vir ʼn intieme oggendtroue.”

Jolache Couture: “Die meermin-silhoeët, detail en kleur wat ek gekies het, is geskik vir byna elke soort troue. Die rok het ʼn effense rek wat dit baie gemaklik maak om in te beweeg en te dans, maar dit het nog steeds ʼn formele strukturele effek. Die detail is ook baie strategies geplaas, nie te min nie maar ook nie te veel nie. Afhangende van die skoene en juweliersware wat jy kies, sal hierdie rok perfek wees vir byna elke soort troue. Ek het dit presies vir hierdie rede gekies. Elke bruid het haar unieke droom van watter soort troue sy verlang. Dit is belangrik om seker te maak dat jy vir elke bruid se unieke styl en smaak akkommodeer.”

WATTER KLEURE EN TENDENSE WAT DEEL VAN JULLE FOTOSESSIE?
Sophia’s: “Soos reeds genoem is die kombinasie van sagte, pastelkleure en helderder of donkerder kleure nou hoogmode. Sweetly Cakes het vir ons ʼn liplekker “naked cake” met karamelsous, makrolletjies en springmielies gemaak. Jean-Marie Steenberg Graphic Design het die oulikste Perspex-koekversiering ontwerp om die koek af te rond. Die gebruik van Perspex is nou hoog in aanvraag. Kyk gerus na die pragtige detail op die spyskaart en skemerkelkiemengstokkies.

Chef Bosch, spysenier by Duck Point, het ʼn oulike Jenewerkroeg vir ons opgestel met ʼn verskeidenheid jenewer, bessies en kruie.

The Peachy Peony het vir ons reuse papierblomme gemaak vir ʼn fotohoekie, wat pragtig ingepas het by die inspirasie van die sessie. Jean-Marie Steenberg Graphic Design het ʼn baie klein, oulike hasie op die skryfbehoeftes gebruik om die sprokieselement deur te trek.”

WAS DAAR ENIGE SELFDOENPROJEKTE IN HIERDIE SESSIE WAT ONS BRUIDE KAN PROBEER?
Sophia’s: “Een van ons grootste doelwitte met hierdie projek was om hierdie gestileerde sessie so toeganklik as moontlik te maak vir vandag se bruid en genoeg inspirasie te bied. Hier is ʼn hele paar selfdoenprojekte:
• ʼn Blomkandelaar bokant jou koektafel;
• Versier jou eie “naked cake”;
• Versier jou eie koekies met ʼn marmereffek;
• Maak oulike dankiesê- en/of konfettisakkies;
• Sterri Stumpies met ’n dankiekaartjie; en
• Wenke vir jou grimering en hare.

* Hou die blog vir die volgende paar weke dop as jy hierdie elemente wil deel maak van jou troue!

WAT WAS DIE INSPIRASIE AGTER DIE BLOMME EN DEKOR?
Sophia’s: “Ek het nie ʼn spesifieke blom in gedagte gehad nie en wou eerder speel met skakerings van pienk en blou asook teksture. Die bruidsruiker lê my na aan die hart, ek het ʼn pragtige sagte pienk phalaenopsis-orgidieë gebruik daarvoor. Op die tafel het ek ʼn glasklok gebruik wat weer die sprokies tema herhaal.”

WATTER TIPE DANKIEGESKENKIES IS TANS GEWILD EN HOEKOM?
Sophia’s: “Vir gaste geskenkies het ons besluit op pragtige versierde soetkoekies met ʼn Delft-patroon deur Louvelia’s. Louvelia’s het ook versierde koekies en lekkernye soos outydse wafels gemaak vir ons koektafel. In die opvolgartikels verduidelik sy hoe bruide hul eie koekies kan versier met ʼn marmereffek en dit dan as gastegeskenkies gebruik.”

HET JULLE ENIGE RAAD VIR TOEKOMSTIGE BRUIDE?
Sophia’s: “Pinterest is beide ʼn seën en ʼn euwel. Sodra jul as paartjie besluit het op jul idees en kwotasies aangevra en aanvaar het, hou op “pin”. Jy gaan jouself net deurmekaar maak. Nege uit die tien kere keur ʼn bruid altyd terug na haar oorspronklike idee toe.”

Jolache Couture: “Dit is belangrik dat bruide onthou dat alhoewel die trouroktendense pragtig is, hulle altyd moet streef om dit hul eie te maak deur die korrekte silhoeët en kleur vir hulle spesifieke liggaamsbou te kies. Op dié manier sal hulle tydloos en elegant op hul troufoto’s lyk.”

 

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Duck Point Wedding and Function Venue
Stilering en Blomme: Sophia’s
Dekor: A & E Wedding and Function Decor
Skryfbehoeftes: Jean-Marie Steenberg Graphic Design
Troukoek: Sweetly Cakes
Kos en drankies: Chef Bosch
Fotograaf: Celeste Cilliers Photography
Trourok: Jolache Couture
Hare: Hair by Twanette
Grimering: Verne von Dannhauser
Papierblomme en dankiesê- en/of konfettisakkies: The Peachy Peony
Versierde koekies: Louvelia’s
Kerse: Milan’s Handmade Candles
Modelle: Janha Scholtz en Kyle Krüger

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA