Huweliksprobleme is algemeen, maar daar is tekens wat daarop kan dui dat julle bootjie op gevaarlike waters dobber. Is julle huwelik veilig?
Elke paartjie ervaar een of ander tyd huweliksprobleme en met werk en aandag kan dit beslis opgelos word. Maar wat as die klein, basiese dingetjies, nie meer in plek is nie? Wat as jou maat nie meer lief is vir jou nie? Hier is ’n paar gevaartekens waarna jy moet oplet om te keer dat julle liefdesbootjie sink:
WANNEER JULLE ALLEEN IS
As daar net drukkies en komplimente uitgedeel word wanneer julle tussen mense is, maar niks wanneer julle alleen is nie, het julle groter huweliksprobleme as wat jy dink. Die passie en vonkel mag miskien met tyd verdof, maar basiese liefdesgebare moet steeds deel bly van die pakket… in alle omstandighede en nie net om die wêreld te laat glo dat alles reg is nie.
JOU MAAT DINK NIE MEER AAN JOU NIE
Dit is maklik om te weet wanneer jy nie die een is aan wie jou maat dink nie. Wanneer jy gesels en hy / sy nie meer hoor wat jy sê of belangstel in jou doen en late nie… of wanneer die sexyste nagkabaai nie ’n indruk maak nie, is jy beslis nie die hooffokus nie en mag jy miskien grootskaalse huweliksprobleme op hande hê.
WANNEER JULLE NIKS HET OM OOR TE PRAAT NIE
Kommunikasie is een van die belangrikste bestanddele van ’n gesonde huwelik, daarsonder het julle beslis huweliksprobleme. As julle altyd lekker kon gesels en ewe skielik nie tot mekaar kan deurdring nie, beteken dit moontlik dat:
* Julle bymekaar verby leef;
* Julle nie meer belangstel in mekaar se lewens nie;
* Daar iets gebeur het waardeur julle nie kon werk nie.
Dit is ’n groot gevaarteken en moet baie vinnig aangespreek word, want daarsonder sal julle ook nie ander probleme kan uitstryk nie.
JULLE ONDERSTEUN MEKAAR NIE MEER NIE
Wanneer julle nie ’n verenigde front is nie en mekaar eerder wil vermy as saam tyd spandeer, is daar duidelik huweliksprobleme. Julle is veronderstel om mekaar te ondersteun en by te staan deur goed en sleg, want wie anders het jy dan om op staat te maak?
JULLE IS NIE MEER DEEL VAN MEKAAR SE PLANNE NIE
Wanneer julle ophou om die lewe saam te beplan en mekaar in te sluit in belangrike gebeurtenisse, dobber julle bootjie op gevaarlike water. Julle is ’n paartjie, het ’n lewe saam en moet ook saam aan die toekoms beplan.
JY SOEK DIE PROBLEEM NET BY JOUSELF
Daar is nooit net een skuldige party wanneer dit by huweliksprobleme kom nie. As jou maat aandring dat alles jou skuld is en nie bereid is om verantwoordelikheid te neem vir enige ongelukkigheid nie, gee hy / sy dalk nie meer so baie om nie. As dit jou afbreek en jy begin om slegs jouself te blameer, het julle groot probleme.
Huweliksprobleme kan opgelos word as beide partye bereid is om daaraan te werk en wanneer dit vroegtydig aangespreek word. So wees bedag op die gevaartekens. Maar weet ook wanneer om te aanvaar as dinge nie gered kan word nie.