berading
Huweliksberading is die laaste ding waaraan verloofde paartjies dink wanneer hulle troue beplan, aangesien die liefdesvure nog hoog brand. Maar is dit nie miskien ’n slim plan om voorsiening te maak vir die toekoms nie?

ERWS-BANNER-20-96x14

Die huwelik is nie maanskyn en rose nie… veral nie as die verliefde oogklappe afval en jou maat se foute vir jou begin uitstaan nie. Daarom beveel die meeste dominees huweliksberading aan, want dit is beter om voorsorg te tref vir die toekoms.

HUWELIKSBERADING IS JOU KEUSE
Dit is julle keuse of jul by ’n dominee of professionele persoon wil aanklop vir huweliksberading, maar vir dié wat nie seker is of dit nodig is, of vir dié wat nie wil nie, wys Gina van Staden ’n paar punte uit om te bespreek voor die troue.

DELF DIEP
Om jou swakpunte met iemand te deel is nie maklike nie, maar broodnodig wanneer jy gaan trou beloof aan jou maat. Het een van julle dalk ’n geestelike afwyking soos byvoorbeeld depressie of bipolêre versteuring? Dit kan groot spanning veroorsaak in die huwelik wanneer die ander eggenoot  nie verstaan waaroor dit gaan nie. As jou aanstaande ly aan so ’n tipe afwyking – gaan doen navorsing daaroor. Dit sal baie help om te weet wat om te verwag en hoe om dinge te hanteer in die toekoms.

KINDERS BY DOSYNE?
Almal weet dat dit belangrik is om saam te stem oor die hoeveelheid kinders wat julle in die toekoms wil hê, maar belangriker nóg is hoe julle die kinders gaan grootmaak. Stem julle saam oor dissipline? Met watter geloofsoortuigings gaan julle die kinders grootmaak? Hierdie tipe dinge mag dalk nie nou al ’n kwessie wees nie, maar in die toekoms kan dit groot moles veroorsaak as julle nie ooreenstem hiermee nie.

GELD
Praat openlik oor julle besteegewoontes. As dit verskil soos vuur en ys, probeer ’n middeweg vind voordat julle ’n potjie saam begin krap. Navorsing toon dat geld een van die grootste redes is vir egskeidings, so moet dit nie ligtelik opneem nie.

SKOONFAMILIE
Die honderde skoonma-grappies bewys hoe belangrik die skoonfamilie dinamika is. Hoe gaan julle reageer as een van julle nie oor die weg kan kom met julle skoonouers nie? As jou skoonma ongevraagde opinies lewer, hoe gaan jou man die saak hanteer? Wat gaan jý doen as daar wrywing tussen jou familie en jou aanstaande is? Sit nou al ’n plan van aksie in plek wat dit aanbetref.

SOSIALE VERWAGTINGE
Paartjies wat te jonk trou, trap soms hierdie stel af. Hulle trou, kry kinders, en dan sit mamma alleen by die huis met die kinders, terwyl pappa uitgaan saam met sy vriende. Bespreek hoe julle sosiale lewe aangepas gaan word sodra julle ’n gesin het.

GELOOFSOORTUIGINGS
Die geloofsoortuigings waarmee ’n mens grootgemaak word, bepaal grootliks wie jy is. Die vonke kan behoorlik spat in ’n huwelik, waar twee mense verskillende gelowe het. Bespreek hoe geloof julle lewe gaan beïnvloed, nog voordat dit ’n probleem word.

As julle sukkel om ooreen te stem met een of meer van hierdie punte, moet julle dalk met ’n professionele berader gaan praat. Voorsorg is altyd beter as nasorg en daarom is huweliksberading so belangrik!

HET JY GEWEET?
Die Trouboek, wat deur Gretha Wiid en Troukoors geskryf is, kombineer juis huweliksbeplanning met huweliksberading. Daarom is dit beslis ’n MOET vir enige paartjie wat op trou staan. Bestel vandag nog jou eksemplaar deur hier te kliek.

Die Trouboek_voor

Foto: Relationships Ireland
 

 

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA