Musikantpaar, Stephantasties en Franzel, het laas jaar die knoop deurgehaak by Oude Hout Montain Lodge in Pretoria. Ons het hulle eerste troufoto’s, deur PhotoElements, eksklusief gedeel en nou deel ons ook die musiekvideo wat op hulle mooiste dag gebaseer is.

Stephantasties se splinternuwe musiekvideo vir sy liefdestreffer, Die Avontuur, word vandag eksklusief vrygestel. Die liedjie, wat hy ook vir sy bruid op hulle mooiste dag gesing het, bevat beeldmateriaal van die paartjie se spesiale dag en sal jou hart beslis laat warm klop.

Kyk dit hier!

Reën is soos ’n klippie in die skoen wanneer dit by troues met buitelugseremonies kom, maar selfs nie eers modder kan in die pad staan van die betowering van ware liefde nie. Stephantasties en Franzel (van die groep MWAH) se mooiste dag was soos ’n sprokiesverhaal en hulle troufoto’s vang die oomblik perfek vas.

Daar was nie ’n droë oog toe Franzel, wat soos ’n feëprinses gelyk het in haar vloeiende vonkelwynkleurige trourok, deur die bome aangestap kom om haar sielsgenoot voor die kansel te ontmoet nie. Die atmosfeer was perfek, met die pragtigste instrumentele musiek deur ’n orkes in die agtergrond, en die liefde wat hulle deel duidelik in albei se oë.

Die paartjie het by Innibos ontmoet en die eerste ete wat hulle gedeel het was ’n garage pie. Ons het by hulle gaan kers opsteek oor die beplanning van hulle groot dag, waarvan hulle troufoto’s die storie vertel.

HOE HET STEPHAN DIE GROOT VRAAG GEVRA?
“Ek is mal oor die dieretuin en Stephan het my op my verjaarsdag soontoe gevat. Ek het nie ’n idee gehad wat op die dag gaan gebeur nie. Hy het nogal netjies aangetrek en ek asof ek die hele dag by die dieretuin gaan wees. Ons heel laaste stop was die leeus en toe ons by die witleeus kom wat so mooi daar lê, was dit iets besonders! Dit was so oulik, want dit het gelyk of hulle hande vashou en diep in mekaar se oë kyk. Ek het vir ons die pamflet, wat vir besoekers meer inligting gee oor die leeus, hardop gelees en toe sien ek Stephan val (of iets). Hy het egter nie geval nie, maar wel op sy knie afgesak! Ek wou hom aanvanklik ophelp… en dit is toé dat hy vir my die groot vraag gevra het.”

HOE HET JULLE BESLUIT WIE JULLE TROUFOTO’S GAAN NEEM?
“PhotoElements stap al ’n lang pad saam met my en MWAH. Vir my was dit belangrik om ’n fotograaf te kies met wie ons gemaklik sal wees en wat al my smaak ken. Eben het ons verlowingsfoto’s ook geneem.”

VERTEL ONS MEER OOR DIE BEPLANNING VAN JULLE TROUE?
“Ons wou nie ’n tipiese troue hê nie. Daarom het Oude Hout dadelik ons aandag getrek omdat die venue baie karakter het. Die dekor was eenvoudig en die atmosfeer gemaklik. Daar moes nie te veel goed op die tafels wees nie. Stephan is mal oor maroen en ek hou van groen, so dit was maklik om die kleure te kies. Die kleurskema het ook soomloos ingeskakel by die rustieke gevoel van die onthaallokaal.”

WAS DAAR ENIGE SELFGEMAAKTE ITEMS?
“Beslis. Ons het die dag self gekoördineer. Stephan se ouers het die dankiegeskenkies gemaak. Dit was vetplantjies wat hulle self in hulle tuin gegroei het in selfgemaakte blomhouers. Hulle het ook die slope vir die kussings vir die seremonie gemaak.
Hy het die onwerp gedoen van die motief wat op die houtblokke gegraveer is. My pa het die oliebolstaander en die knielbankies gemaak, en my ma die kussings met ons name op wat nou op ons bed gaan kom.”

WATTER RAAD HET JULLE VIR PAARTJIES WAT GAAN TROU?
Fran-zel: “Jy hoef nie na almal se raad te luister nie. Maak net seker dat julle dit geniet, al gebeur dinge nie soos wat jy daaroor gedroom het as ’n dogtertjie nie. Dit gaan steeds ’n ongelooflike ervaring wees.”
Stephan: “Staan jou bruid by met al haar besluite en wees so betrokke as moontlik. Al is die klein goedjies dalk nie vir jou belangrik nie, dit is vir haar… en sy is belangrik vir jou.”

HET JULLE ENIGE INTERESSANTE TENDENSE INGESLUIT OP DIE DAG?
“Voor die onthaal was daar ’n Soft Serve-roomysmasjien, want Fran-zel het ’n groot liefde vir roomys. Die kos was ook baie informeel. Die voorgereg was nachos en varsgebakte brood met smere, en die hoofgereg hamburgers met skyfies.”

Dit was vir Troukoors ’n ongelooflike voorreg om hierdie intieme geleentheid saam met die paartjie en hulle geliefdes te kon deel en die troufoto’s eksklusief met ons lesers te deel. Julle is pragtige mense en ons hoop dat julle lewe saam geseën sal wees met baie liefde en geluk. #SteFrantrou

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Oude Hout Mountain Lodge
Spyseniering: Forkies
Blomme: Flowers by Lianda
Troukoek: Olivia Kasselman
Fotograaf: Eben Liebenberg van PhotoElements
Video: Christian Wolf van BrickWolf Creatives 
Trourok: Marzel Jacobs Designs
Naels: The Laser Beautique, Woodlands Boulevard
Wimpers: Doreen Strauss van Skin Essentials
Velsorg: Willa Krause
Hare: Chantelle does Styling
Grimering: Mareli Jooste van Mars Makeup
Bruidegom se uitrusting: Eurosuit
Roomysmasjien: Lip Smackers
Trouroklyf: Persoonlike afrigter, Ben Barrington
Troukar: Deon van Wyk
Platejoggie: Wolfie Music
Verhurings: Olympus Manor Venue

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA