Eilande is deesdae die gewildste bestemming vir ’n wittebrood onder paartjies. An-Sophie Lourens vertel jou ’n bietjie meer oor wat jou opsies is.
Hoe kies ʼn mens tussen olifantritte en kosmarkies in Phuket, wit seesand en skemerkelkies in Zanzibar of snorkel in die diepblou see van Mauritius? Eintlik is ’n wittebrood op enigeen van hierdie eilande mos idillies.
Tog moet ’n mens kies. Ons gaan dit vir jou makliker maak deur ervarings van drie paartjies wat op verskillende eilande gaan wittebrood hou het met jou te deel. Die drie eilande wat vergelyk is, is Phuket, Zanzibar en Mauritius.
PHUKET: Beslis een van die beste eilande wat daar is. Ons eerste twee weke van getroudes in Phuket was ongelooflik spesiaal. Ons deel graag ons hoogtepunte van ons wittebrood.
Ons het in Phuket geland na ʼn 16 uur vlug met ’n oorgangsvlug op Dubai. Die olifantritte is onbeskryflik en dit maak dit nog beter om dit saam met jou man te doen. Die Phi-Phi Eilande sorg vir skilderagtige uitsigte die hele tyd wat jy daar is. Iets wat mens ook moet gaan besoek is die 45 meter lange Buddha beeld op ’n bergtop, dit is regtig ’n belewenis. Van lekker vars vis te koop op die mark, inkopies, die naweek-markie en gerieflike verblyf kan mens nie anders as om die beste tyd van jou lewe te hê nie. Dit is regtigwaar aanbeveelbaar.
ZANZIBAR: Een van die eilande wat aan beveel word, nie net omdat dit die bestemming van my wittebrood was nie, maar ook omdat dit ’n onvergeetlike avontuur was, gevul met als wat bekoorlik is in die lewe.
Ons het in ’n luukse hotel gebly, met ’n uitsig op die wit strand, ’n diepblou see en palmbome. Ons pakket het gesorg vir eindelose tropiese kelkies. Ons was ook elke oggend bederf met ’n enorme ontbyt. Ons kon verder ook kies om gemorskos op die strand te bestel of tradisionele kookkos te eet vir middagete. Aandetes was ook ’n groot hoogtepunt, want die oord het elke aand gesorg vir tartende vermaak en ’n heerlike spyskaart om die tema af te rond. Ons was ook een aand bederf met ons eie privaat ete op die strand, wat gevoel het of dit kon afspeel in ’n romantiese film. Ons het ook die voorreg gehad om uit te gaan op ’n seilboot vir skubaduik met eksotiese vrugte as peuselhappies en ’n seekosfeesmaal na die tyd. Die enigste probleem was dat die tyd daar net te min was. Die een van daai eilande wat baie het om te doen.
MAURITIUS: Wittebrooddagdrome is sinoniem met spierwit strande, roosblaarbeddens, borrelbaddens, see-uitsigte en vonkelwyn… en Mauritius is beslis een van die eilande wat dit bied.
Shandrani Beachcomber Resort het ons wildtse wittebroodverwagtinge oortref! Shandrani is ʼn vyfster-oord aan die Suide van Mauritius en slegs tien minute se ry van die lughawe af- ideaal vir ’n luilekker romantiese wittebrood.
Die oord is bekend vir sy ruim akkommodasie, pragtige natuurskoon, verskeidenheid restaurante en drie strande. Daar is twee aparte swembaddens elk met sy eie kroeg met eksotiese skemerkelkies. In die aande is daar plaaslike kunstenaars wat optree en die van ons wie se voete juk kan ook ʼn dansie of twee inwerk.
Vir die avontuurlustiges onder ons is daar ook verskeie land- en wateraktiwiteite waaraan jy kan deelneem, wat die volgende insluit: tennis, vlugbal, gholf, snorkel, aerobiese oefeninge, tafeltennis, waterski en vele meer. Shandrani Resort sien ons verseker weer vir ʼn tweede wittebrood!
Dit maak dit nie veel makliker om te kies nie, want elkeen van hierdie eilande klink en is idillies! Hopelik het jy iets raak gelees wat jou dadelik oorreed het dat dit die plek is waar jy jou wittebrood wil gaan hou. Dit hoef ook nie spesifiek een van die plekke te wees nie, maar dalk kan die beskrywing jou help om ’n soortgelyke plek te kies.
Foto: HD Wallpapers Rock
KLIEK HIER VIR ‘N REISAGENT WAT JOU SAL RAAD GEE OOR DIE BESTE EILANDWITTEBROOD