Bykomstighede vir die bruidegom en sy gevolg, is net so belangrik soos vir die bruid omdat dit help om die regte atmosfeer te skep. Mercia Eksteen het gaan kyk wat tans beskikbaar is.
Partykeer is ons so gefokus op die bruid, dat ons daarvan vergeet dat dit net so ’n groot dag vir die bruidegom is as wat dit vir die bruid is. Hierdie is die perfekte geleentheid vir die bruidegom, om sy eie identiteit en persoonlike styl na vore te bring met die regte bykomstighede. Maar waar begin ’n mens? Louise de Nysschen van Harvey Max gee raad:
HOU DIE GROTER PRENTJIE IN GEDAGTE
Net soos met elke ander element van julle troudag, soos tema, kleurskema, lokaal, blomme en seisoen, moet ’n bruidegom sy bykomstighede kies sodat dit die algehele gevoel van die dag komplementeer.
PERSOONLIKE STYL EN SMAAK
Jy weet wie jy is en jou bykomstighede en uitrusting moet dit reflekteer. As jy dalk meer informeel is, kan ’n broek en baadjie van verskillende kleure (binne julle trouskema) baie goed werk. As jy ’n meer moderne en gesofitikeerde styl wil skep, bly dan by een kleur broek en hemp met ’n effekleurige sportbaadjie. Manne wat van ’n simplistiese styl hou, maar tog karakter wil byvoeg, kan gerus ’n helderkleurige das of kolletjies-strikdas oorweeg. ’n Hoed kan ook jou uitrusting mooi afrond.
GEMAK IS UITERST BELANGRIK
Besluit op bykomstighede wat nie net jou persoonlikheid gaan uitbeeld nie, maar wat gemaklik is. Die dag kan lank wees en baie keer bietjie senutergend, so as jy nog ongemaklik in jou uitrusting voel kan dit nogal ondraaglik raak.
WEES PRETTIG
Jou troudag is die perfekte geleentheid om jou individualiteit, persoonlikeheid en styl ten toon te stel. Wees dapper, probeer iets anders en neem risiko’s. Net soos die bruid, gaan jou gaste uitsien na wat jy gaan aantrek, so maak dit onvergeetlik. Bykomstighede soos ’n hoed, strikdas, kruisbande en ’n dasknip is kan maak dat jy uitstyg bo die res van die bruidegomme van die afgelope seisoen.
FOKUS OP EEN ITEM
Die mode-ikoon, Coco Chanel, se raad is universeel en is beslis van toepassing op ’n bruidegom ook. Wees selektief en kies een enkele item wat jou die “show stopper” gaan maak.
Trou is een van die grootste gebeurtenisse in die bruidegom se lewe, maak dit tel en kies die regte bykomstighede.
Vir meer inligting, besoek Harvey Max se webblad of stuur ’n e-pos na info@harveymax.com
Foto’s: Harvey Max