Blomme en dekor hoef nie noodwendig jou spesiale dag in oorvloed te oorheers nie. Meraki Floral and Décor Design verklap hoe minder in dié geval meer kan wees.
“Hoe minder, is meestal mooier,” so glo Caro van Meraki Floral and Décor Design. Met slegs enkele elemente van dekor en blomme kan jy ʼn groot indruk skep.
Caro vertel vir An-Sophie Jonker hoe jy met al die pragtige, ryk en helder kleure van geblomde tafeldoeke en servette wat op die oomblik baie gewild is, so maklik inspirasie en kleure vir jou blomme en dekor kan vind.
WAT IS DIE BESTE BLOMME OM TE GEBRUIK AS JY DIE MINIMUM WIL HÊ.
“Daar is nie ʼn regte of verkeerde antwoord wanneer dit by keuses van blomme vir jou troue kom nie, dit gaan eerder oor persoonlike smaak en wat jy kan bekostig. Bepaal jou begroting en besluit wat die tema of gevoel is wat jy met jou blomme en tafeldekor wil skep. Goeie posisionering en die regte gebruik van enkele blomme is al wat nodig is om alle dekor-elemente te komplementeer. Een of twee orgidieë of kleurvolle groot peonies, wat strategies en goed geplaas is bring die nodige spatsels kleur en is al wat nodig is om alles stylvol bymekaar te bring.”
WATTER EENVOUDIGE DEKOR KAN ʼN GROOT INDRUK MAAK?
• “Enkele vase en houers in verskillende vorms, kleure, materiale en teksture kan baie effektief saam gebruik word.
• Met ʼn pragtige blomservet het jy niks ekstra nodig om indrukwekkende en stylvolle dekor op jou tafels te hê nie.
• Gekleurde kerse, in verskillende vorms en hoogtes, geplaas in ʼn verskeidenheid houers en staanders is volgens my altyd ʼn wenkombinasie.
• Wees ’n bietjie anders en gebruik dalk ʼn gekleurde wynglas om saam met jou kerse daardie pragtige indrukwekkende tafel te skep. Dit is tog so mooi as die lig van die kerse deur die gekleurde glas skyn en speel!”
HOEKOM SAL JY SÊ IS MINDER SOMTYDS MOOIER?
“Weereens wil ek klem plaas op die feit dat daar nie ʼn reg of verkeerd is wanneer dit by blomme en dekor vir jou troue kom nie. Dit is jou dag en gaan absoluut oor julle persoonlike smaak en voorkeure. Persoonlik hou ek nie van ʼn klomp goetertjies wat nie regtig ʼn doel het nie. Dit is veral vir my belangrik dat gaste gemaklik moet kan sit en lekker gemoedelik kan kuier. Te veel dekor lyk vir my later deurmekaar en neem soms onnodige spasie op. Vir my is minder regtig amper altyd mooier omdat jy met enkele stylvolle en goed gekose elemente ʼn pragtige tafel en troue kan doen en werklik ʼn indruk kan maak.”
JOU RAAD VIR BRUIDE OM IN GEDAGTE TE HOU WANNEER HULLE OP EENVOUDIGE EN SIMPLISTIESE BLOMME EN DEKOR BESLUIT?
• “My raad aan bruide is altyd dat jy slegs een keer vir die eerste keer trou.
• Doen wat vir jou mooi is en wat by jou smaak en begroting pas, maar luister tog maar na jou verskaffers se raad, veral waar dit by keuses van die regte blom vir die regte seisoen en prys kom.
• Die kostes van blomme en dekor vir jou troue kan werklik buitensporig duur raak, onthou dus die volgende:
– Kies een of twee dekor items wat indrukwekkend is en wat saam ʼn stylvolle atmosfeer skep.
– Gebruik dalk bietjie duurder blomme net hier en daar op strategiese plekke vir enkele spatsels kleur op jou tafels.
– Waag dit om anders te wees. ʼn Geblomde servet of gekleurde wynglas is dalk al wat nodig is om alles bymekaar te bring.”
As jy ook hou van “hoe minder hoe mooier” en nog meer hou van die ryk en helder kleure wat tans so gewild is, is hierdie raad van Caro beslis vir jou. Met die regte keuses van blomme en dekor in die regte kombinasie kan jy met baie min, mooi en bekostigbaar trou!
Om meer uit te vind oor Meraki Floral and Décor Design, besoek hulle webblad.
Foto’s: Romantiese Gestileerde Sessie – Facebook