Bloeisels het nog altyd ’n manier gehad om ’n mens te laat dink aan sprokies en is dus perfek vir jou sprokiesdag. Minette Badenhorst vertel wat die inspirasie was agter vandag se pragtige gestileerde fotosessie.

 
Pienk bloeisels, aan die begin van lente, is een van die mooiste verskynsels in ons natuur. Vandag word hierdie pragtige bloeisels gebruik as die inspirasie vir ʼn gestileerde fotosessie. Sonja Oosthuizen van Sophia’s deel die visie en idees agter hierdie projek met ons.

WATTER ATMOSFEER WOU JULLE VASVANG MET HIERDIE FOTOSESSIE?
“Ons inspirasie vir hierdie sessie was die pragtige pienk bloeisels van ʼn nuwe lente, pêrelkleure, asook die volgende gedig deur E.E Cummings:
I carry your heart with me (I carry it in my heart)
I am never without it (anywhere I go you go, my dear; and whatever is done by only me is your doing, my darling)

I fear no fate (for you are my fate, my sweet) I want no world (for beautiful you are my world, my true) and it’s you are whatever a moon has always meant and whatever a sun will always sing is you

Here is the deepest secret nobody knows (here is the root of the root and the bud of the bud and the sky of the sky of a tree called life; which grows higher than the soul can hope or mind can hide) and this is the wonder that’s keeping the stars apart

I carry your heart (I carry it in my heart)

Ons wou graag ʼn vars, vrolike, romantiese en sagte gevoel skep.”

WAT WAS DIE KLEURSKEMA EN HOEKOM HET JULLE OP DIE KOMBINASIE BESLUIT?
“Omdat ons ʼn vrolike, romantiese en sagte atmosfeer wou skep, het ons besluit om met skakerings van pienk te werk, wat dan ook sou aansluit by die pienk bloeisels. Ons wou ook graag pêrelkleur- (mother of pearl) elemente inkorporeer. ʼn Titsel roosgoud is ook ingebring om die prentjie af te rond.”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE TEMA BESLUIT EN VIR WATTER TIPE TROUE SAL DIT GESKIK WEES?
“Hierdie tema of tipe troue, met die bloeisels, sal geskik wees vir ʼn pragtige vroeë lentetroue. Die lente simboliseer die begin van ʼn nuwe somer, net so simboliseer ʼn bruid en bruidegom se spesiale dag die begin van ʼn nuwe seisoen in hulle lewe saam.”

WATTER KLEURE EN TEMAS, WAT TANS GEWILD IS, WAS DEEL VAN JULLE FOTOSESSIE?
“1. Blomme – Dit gee helder spatsels kleur wat uitloer tussen die pastelle;
2. Skryfbehoeftes – Geometriese vorms en ontwerpe op die skryfbehoeftes;
3. Eetgerei – Roosgoud-eetgerei wat baie gewild is op die oomblik;
4. Kleure – Wit-op-wit-teksture; en
5. Pêrelkleure – Pêrelkleure kan gebruik word vir die “celestial trend” en dit skep ʼn magiese atmosfeer.”

WAS DAAR ENIGE SELFDOEN-ITEMS, WAT ONS BRUIDE SELF KAN AANDURF?
“Die papierwindmeultjies is gemaak deur Jean-Marie Steenberg Graphic Design. Die skuimpies is ook self gemaak (kry die resep in Troukoors se vorige uitgawe).”

HOEKOM HET JULLE OP HIERDIE SPESIFIEKE BLOMME EN DEKOR BESLUIT?
“Omdat die pienk bloeisels die hoofinspirasie vir ons sessie was, wou ons graag ander seisoenale blomme, soos Renonkels, gebruik. Die glasvase wat ons gebruik het, het ʼn pêrelagtige skynsels. Ons het die pêreltema ook deurgevoer na die skryfbehoeftes deur van ʼn papier met ʼn pêrelglans gebruik te maak.”

WATTER DANKIEGESKENKE IS TANS IN DIE MODE EN HOEKOM?
“ʼn Lekkernytjie is altyd ʼn wenner! Ons stel voor dat jy pragtige pienk skuimpies of versierde suikerkoekies verpak en vir jou gaste gee.”

WATTER RAAD HET JY VIR BRUIDE WAT GAAN TROU?
“Dit is baie belangrik dat jy ʼn goeie verhouding met jou diensverskaffers het. Jy moet jou verskaffers 100% vertrou en hulle ruimte gee om jou droom ʼn realiteit te maak, asook om jou by te staan met praktiese raad.”

Die voorkoms en gevoel van hierdie sessie, met die bloeisels, kan maklik aangepas word vir ʼn ander geleentheid, byvoorbeeld ʼn romantiese ete vir twee (getroud of ongetroud) of ʼn sessie waartydens verlowingsfoto’s geneem word. Ons was gaande oor die pêrelpapier met die bloeiselmotief wat bo-oor die onderbord geplaas is, asook die vars blomring van Renonkels.

Die sagte en romantiese gevoel van hierdie gestileerde sessie is asemrowendmooi. Gebruik bloeisels om julle troudag te omskep in ʼn droomdag.

DIENSVERSKAFFERS
Venue: Twin Oaks (Privaatwoning), Potchefstroom
Stilering, Kos en Drankies: Fijn Event Design co.
Blomme: Sophia’s
Dekor: A & E Wedding and Function Decor
Skryfbehoeftes: Jean-Marie Steenberg Graphic Design
Troukoek: Fiona’s Kitchen
Fotograaf: Fiona Viljoen Photography
Trourokke: Werner Dey Couture
Hare: Techno Waves Hair Artistry
Grimering: Belle by Camille L
Skoene: Imaani Bridal
Model: Hestie van Zyl

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA