Voorbereiding vir jou troue kan baie oorweldigend wees. Veral as jy ʼn beperkte begroting het, moet jy juis nie van jouself vergeet nie. Veronique Joseph deel ’n paar bekostigbare wenke om jouself stresloos te bederf.
Bruide se senuwees is so uitgerafel as gevolg van al die spanning en stres dat die gedagte van bederf vêr in die agtergrond is, want vandag is alles ekstra duur en om binne die begroting te bly is ʼn uitdaging. Daar is wel goeie nuus, jy kan jouself bederf sonder om oor geldsake te stres.
In hierdie artikel vertel ons jou hoe om van die stres en spanning onstslae te raak voor die troue en weer soos ʼn nuwe mens te voel binne ’n beperkte begroting. Raak ontslae van Cruella de Vil vir ʼn oomblik en ontdek weer jou eie innerlike Fiona. Dit is belangrik dat jy net vir ʼn uur of selfs ʼn dag wegbreek van die troudruk, veral soos wat die groot dag nader kom.
• Pamperlang jouself
Grawe al jou maskers en badprodukte uit wat jy in jou kas gestoor het en bederf jouself met ʼn lekker borrelbad met kerse. Maak jou eie gesigmaskers en skropsout met maklike resepte wat jy in jou eie koskas sal vind soos bevoorbeeld: koffie, komkommer, jogurt, lemoene en piesang om daai gladdevel-voorkoms te handhaaf waarna elke bruid streef.
• Waterwegbreek vir ʼn dag
Beplan ʼn dag by die see of dam saam met jou strooimeisies. Vra elke persoon om heerlike knibbel-kos en drinkgoed saam te neem, asook bordspeletjies. Vergeet vir ʼn oomblik van troureëling en geniet die dag van luilekker bederf saam met jou vriendinne.
• Raak rustig
Krul langs die kaggel op en raak verlore in jou gunsteling-leesstof. Trek jou nagklere aan en kyk flieks, onstpan by die huis, bestel pizza, nooi vriendinne. Enigiets wat buite die gewone allerdaagse roetine is, is ʼn bederf.
• Oefening is goed vir die siel
Jy hoef nie ’n klomp geld voor jou troue in ʼn gym te spandeer nie. Nooi jou vriendinne en gaan staproetes by jou naaste Natuurreservaat. Jy kan selfs by jou agterstoep oefen. Oefen help jou om jou energievlakke konstant te hou, dit gee jou immuunstelsel ʼn hupstoot en help jou om beter te slaap. Dit klink soos ʼn resep wat enige bruid nodig het wanneer sy troue beplan. Inderdaad is die jou gesondheid die belangrikste.
• Organiseer jou klerekas
Raak ontslae van klere wat jy nog nooit gedra het nie. Maak spasie vir jou nuwe huis se kas, verkoop ’n paar van jou ou klere en koop weer nuwe klere. Jy is in ʼn nuwe fase van jou lewe so omhels dit met vreudge en hoop… en iets nuut is altyd ’n bederf!
Dié wenke is beslis stresloos en bekostigbaar vir jou beperkte begroting. Moet jouself nooit afkeep terwyl jy jou sprokiesdag reël nie, want jou troue is nie so belangrik soos jou gesondheid nie! Ons hoop jy vind jou innerlike Fiona weer nadat jy jouself bederf het. Geniet jou groot dag.
Foto: Sun River Lodging