’n Bederf of drie behoort elke bruid se voorland te wees in die week voordat sy trou. An-Sophie Lourens verklap watter pamperlangsessies nodig en lekker kan wees voor jou troue.
Die week voor die groot oomblik aanbreek wat jy van Mej. na ʼn Mev. verander, is bruide geneig om te min te eet, te min te slaap en eintlik hulleself so ʼn bietjie af te skeep. Ja daar is baie om te doen, maar jy moet ook tyd maak om jouself te laat bederf.
In hierdie artikel is hier ʼn paar maniere om jouself in die laaste week by ʼn salon of spa te laat bederf, tensy jy dit al vantevore self suksesvol gedoen het. Dit is vinnige pamperlangsessies of roetines wat nie te veel tyd uit die druk skedule sal neem nie en wat ook bruide blosend en gesond sal laat lyk en voel. Jy kan een dag afstaan vir alles of elke dag jouself vir ʼn uur of meer gaan bederf.
• ʼN WAKSSESSIE
Doen hierdie sessie vroeg in die week, vir ingeval jou vel nie goed op die behandeling reageer nie. Afhangende van alles wat jy gewaks wil hê, sal die sessie tussen 30 en 60 minute duur wat nie so groot hap uit jou dag sal neem nie en ook heelwat verleenthede kan vermy. As jy die aand jou gladde bene room smeer, is die pyn sommer vinnig vergete. Probeer ook om dit by ʼn salon of spa te doen waar jy al voorheen was om te verseker dat die produkte wat hulle gebruik jou vel gaan goed doen. As jy jou wenkbroue waks, maak seker hulle neem die regte mates en kies ook ʼn dikte wat by jou gesig pas.
• ʼN GOEIE VELSKROP
Jy kan heerlike, verskillende behandelings by ʼn spa of salon kry. Dit sal al die dooie velletjies verwyder en jou vel sal vars en jonk lyk en voel. Dis die perfekte manier om jouself te bederf.
Wenk: Kry vir jou ʼn goeie skropseep of maak jou eie een met een van vele resepte aanlyn. Herhaal die skroproetine elke aand en voel hoe word jou wintervelletjie in ʼn japtrap weer sag.
• AANDAG AAN JOU HANDE EN VOETE
Daar is niks beter as ʼn heerlike pedikuur na ʼn besige week van rond hardloop nie. Bederf jouself en laat jou voete en toonnaels weer op en top lyk en voel met ʼn pedikuur. Jou hande en naels gaan definitief iewers in die kollig verskyn met jou mooi ring wat daaraan blink. Maak seker dat jy nie jou hande afskeep ʼn week voor die groot dag nie. Bo en behalwe ʼn manikuur bederf, smeer gereeld handeroom aan en vermy liefs te veel skottelgoed was. Klink na ʼn wen-wen situasie. Dit is ook ʼn lekker aktiwiteit vir jou en jou strooimeisies die aand voor die tyd. Bederf mekaar deur mekaar se naels te verf en geurige olie in mekaar se hande in te vryf.
• ʼN UUR LANGE AROMATERAPIE-MASSERING
Hou hierdie enetjie vir die dag voor die tyd. As alles byna perfek in plek is, gaan skop jou skoene uit en ontspan vir ʼn volle uur lank. Moet aan niks van die troue dink nie en fokus daarop om jou hele lyf te ontspan terwyl iemand al die spanning in jou lyf uit vryf.
Nou ja, of jy die wenke al ʼn miljoen keer gehoor het of iets nuuts geleer het, dit werk! Al werk jy hoe hard om die dag mooi en plesierig vir die gaste te maak, die dag gaan immers net oor jou en die man van jou drome. Maak seker jy lyk en voel soos ʼn prinses vir jou prins deur jouself behoorlik te bederf.
Foto: Freepik