Vintage en plaasstyltroues, met lekkergoedtafels en snoeperye, is deesdae baie gewild en het ou gunstelinge, soos toffie-appels weer laat herleef. Jy kan dit op jou troue hê en dit sommer self maak ook.
Die lekkerste ding van ’n vintage of plaasstyl troue, is dat dit jou ’n geleentheid gee om ou gunstelinge te gaan afstof en deel te maak van jou groot dag. Jy kan self inspring om die eetgoed te maak of vir ma of ouma inspan om jou te help – en sommer ’n hele familieding daarvan maak.
Toffie-appels is besig om al hoe meer gewild te raak. So hoekom maak jy dit nie deel van jou troue nie. Hier is ’n lekker resep om te probeer.
TRADISIONELE TOFFIE-APPELS
Genoeg vir 30
BESTANDDELE
30 middelslag appels
30 stokkies
1 liter (4k) suiker
375ml water
1ml sout
250ml (1k) gouestroop
Rooi kleursel
METODE
- Was en droog appels af en steek die stokkies van jou keuse stewig by die stingelent in.
- Los suiker op in water, voeg sout en stroop by en kook tot dit liggies begin kraak.
- Voeg die kleursel by en roer.
- Doop die appels in die warm mengsel (hou dit warm terwyl jy daarmee werk, maar moet dit nie kook nie.)
- Laat die oortollige stroop afloop en plaas die appels met die blom-ent op gesmeerde bakpapier.
- Dit sal binne ’n paar minute hard wees. Bewaar in ’n lugdigte houer of draai elkeen van jou appels afsonderlike in sellofaan toe om vars te hou.
Jy kan jou appels ook in karamel of sjokolade doop of ander kleursel as rooi gebruik. Jy kan ook enige stokkie – van ’n gekleurde strooitjie, roomysstokkie of selfs ’n boomtakkie gebruik – afhangende van wat jou tema is. Die opsies is eindeloos.
Sluit hierdie heerlike lekkerny by jou lekkergoedtafel in of gebruik dit as ’n dankie-ietsie op jou tafels. Dit is anders en hope pret.
Hooffoto: Serendipity-Weddings
Foto’s: Beautiful Weddings, CadiQuik, Elizabeth Anne Designs, Giver’s Log, Hello May, Dressy Girl Kouture, One Stylish Bride, Polkadot Bride, Taste