Inspirasie is soms nodig om jou troudrome vlerke te gee… al kom dit uit onverwagse oorde soos Marie Antoinette. Pascal Pienaar (Karli in Binnelanders) was die model vir vandag se fotosessie wat jou stoutste verwagtinge sal oortref.


Alhoewel die inspirasie vir hierdie gestileerde sessie eintlik bedoel is vir ’n rebelse dertigste verjaardagpartytjie, werk die tema, dekor en kleurskakerings ook perfek vir ’n moderne troue met ’n tikkie Franse flair.


Volgens Mandy Stander, die organiseerder en fotograaf agter hierdie pragfoto’s was Marie Antoinette hulle inspirasie vir hierdie sessie. “Ons is geïnspireer deur hierdie merkwaardige vrou se unieke, modieus rebelhouding en het besluit om van haar bekendste sêgoed soos Let Them Eat Cake en I am terrified of being bored in die sessie in te werk,” vertel sy.

Die atmosfeer wat hulle wou skep, is elegant met die mooiste pienk, blou en perskleure wat soomloos saamvloei om ’n pragtige eindresultaat te bewerkstellig. Goue messegoed, vintage teepotte en staalstoele en rustieke hout-elemente is ingebring om die prentjie af te rond.


Elemente soos Pascal Pienaar se pienk Marie Antoinette-hare, helderblou skryfbehoeftes met pittige sêgoed, suigstokkies, vere en ’n laagkoek met blou blompatrone is ingespan om die speelse rebelse sy van die inspirasie in te bring. “Ons wou die atmosfeer ’n prim en proper gevoel gee, maar waar Pascal se houding teenoorgestelde toon as wat samelewing sal verwag,” sê Mandy.

Vonkelwyn, vrolike helderkleurige blomme en snoeperye wat sag en mooi voorgesit is, is gebruik om vrouwees – wat immers die grootste inspirasie agter die sessie was – te vier.

 

DIENSVERSKAFFERS
Plek: Lace on Timber
Dekor: You & Me, Konfetti Love, Nouvelle
Kerse: Kerze
Blomme: Roots Flower Market
Skryfbehoeftes: Blue Little Owl House
Troukoek en gebak: Maybe June
Sjampanje: Le Lude
Fotograaf en organiseerder: Mandy Stander Photography
Videograaf: Philmeist
Rok: Marlize Meeding
Skoene: Opari Shoes
Juwele: Lorean Jewellery Design
Haarstilering en grimering: Annie B Makeup Studio
Haarkleur: Gary Rom
Haarverlengings: Restoration Hair Extensions
Kleur aangewend deur: Tint Colour Lab

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA