Oefeninge is nie altyd lekker nie, maar kan wonders doen vir die troulyf wat jy graag wil hê. Slank se kenner gee drie oefeninge wat jou sal help om pragtig te lyk in jou trourok.

Slank, met Leandie du Randt-Bosch as aanbieder, is tans elke Maandagmiddag te sien om 17:30 op kykNET, kanaal 144. Dit volg ’n paar deelnemers se verslankingsreis en deel ook nuttige raad oor gesondwees, oefeninge en mooilyk.

Careen Visagie, een van die kenners op die program, gee hierdie oefeninge wat jy by die huis of kantoor kan probeer:

Doen hierdie drie oefeninge by die huis, voor die televisie of dalk as jy in die kombuis doenig is of dalk selfs in jou kantoor as jy ’n blaaskans nodig het. As jy dit so tussendeur doen, voel dit ook minder soos oefen – veral as oefening nie die hoogtepunt van jou dag is nie. Dit help om jou bene en arms ferm te maak. Herhaal hierdie oefeninge vir 5 dae in ’n ry en rus een dag. Begin dan weer.

Saam met hierdie oefeninge is dit ook goed as mens geleidelik meer en meer kan beweeg soos wat vir jou moontlik is.
1. Sirkels maak met die arms: Staan of sit regop. Steek jou arms uit na die kante. Jou arms moet skouer-hoogte wees. Maak nou klein sirkel bewegings met jou arms – eers vorentoe en daarna na agter. Kyk eers hoeveel jy kan doen voor jy ongemaklik begin voel. As jy byvoorbeeld aanvanklik 20 kan doen, probeer jy om more 25 te doen en so maak jy dit geleidelik meer. Jy kan dit ook in 2 sarsies doen om jouself uit te daag om meer oefeninge te doen – byvoorbeeld 15 in elke rigting in die oggend en weer 15 in elke rigting later in die dag.

2. Muur-sit: Staan met jou rug teen die muur. Leun teen die muur terwyl jy jou voete vorentoe beweeg (jou bo-been lengte weg van die muur), jou knieë buig en jou bolyf laat sak asof jy op ’n stoel sit. Jou knieë moet 90 grade gebuig wees. Hou hierdie posisie vir 15 tellings as jy kan. Herhaal dit daagliks. Maak dit met 5 tot 10 tellings meer soos die vorige dag se tellings te gemaklik raak.

3. Triseps-dip oefeninge: Sit op die punt van ’n stoel of bed wat stewig staan. Sit jou hande langs jou op die stoel met die vingers vorentoe. Hou van aan die stoel. Terwyl jy met jou gewig op jou arms steun, beweeg jou voete vorentoe, knieë aanvanklik 90 grade gebuig. Laat jou gewig nou sak na die grond so ver jy kan. Druk weer jou liggaamsgewig terug na die begin posisie. Soos wat ’n mens sterker is, kan jy jou voete verder vorentoe beweeg. Dit verhoog die intensiteit van die oefeninge. Begin met 8 repetisies en maak dit geleidelik meer.

Hierdie eenvoudige oefeninge kan ’n groot verskil maak om jou lyf mooi en ferm te laat vertoon.

Skakel vanaand om 17:30 vir die nuutste aflewering van Slank en besoek hulle webblad vir nog nuttige raad oor oefeninge en gesondheid wat jou kan help om te lyk soos jy graag wil op jou troudag. Daar is ook verskeie bekendes wat aan die program deelneem, waaronder Kevin Leo en Mimi Mahlasela.

Foto’s: Freepik en verskaf

DEEL HIERDIE INHOUD OP SOSIALE MEDIA